top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 8 November 2021

Koos Espach


VI. Paulus se Tweede Sendingreis (62)

Hoofstuk 18 – Paulus in Korinte


Paulus keer terug na Antiogië toe (6)


Haastig huis toe


Hand. 18:22-23 – “Paulus het van Efese af weggegaan 22 en in Sesarea aangekom. Daarvandaan het hy Jerusalem toe gegaan en die gemeente gegroet, en toe na Antiogië toe vertrek, 23 waar hy ‘n tyd lank gebly het.”


Van Efese af reis Paulus per skip na Sesarea, die naaste groot hawe na Jerusalem. Joppe se hawe het kleiner skepe ontvang. Hy het van Sesarea (aan die kus) af opgegaan na die gemeente in Jerusalem. Hier sou hy verslag gegee het van die tweede sendingreis, soos hy en Barnabas ná die eerste sendingreis by die groot vergadering in Jerusalem gedoen het (Hand. 15:12).

Sommige verklaarders meen dat Paulus se haas om uit Efese na Jerusalem toe te gaan, verband hou met die gelofte wat hy in Korinte aan die Here sou gedoen het. Volgens Numeri 6 mag iemand wat ’n gelofte gedoen het, nie sy hare of baard skeer nie, totdat die tyd of geleentheid wat in die gelofte genoem is, verby is. Dan moes die hare en baard afgeskeer word, en ’n offer aan die Here gebring word. Maar offers kon slegs deur ’n priester gedoen word op die altaar in Jerusalem.


Paulus was beslis nie ‘n stoepsitter nie. Ek dink hy het gedurig gewonder waar nóg mense is wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Daarom het hy nie lank op een plek gebly nie. Dit klink in vandag se teks of sy verlange na sy tuiste hom teruggeroep het. Snaaks genoeg, nie terug na Tarsus waar hy gebore was nie, maar terug na Jerusalem, en veral kort daarna, terug na sy stuurgemeente, Antiogië in Sirië. Die gemeente wat hom destyds as sendeling uitgestuur het, die plek waar hy, soos die spreekwoord sê, sy wortels gelê het. Miskien het hy nodig gehad om weer vir ‘n slag sy batterye te gaan herlaai!


Ons wil almal voel of ons iewers behoort. Letterlik elke mens op aarde wil graag êrens inpas. Elkeen het die behoefte dat ander van hom of haar sal hou, dat hulle ingesluit en gewaardeer word. Dit is sekerlik een van die mense se grootste behoeftes, maar ongelukkig kan dit jou ook in die moeilikheid laat beland. Veral wanneer ons dié bevestiging van behoort, op die verkeerde plekke soek. As ons egter die bevestiging van behoort, by Jesus soek en Hom volg, gee dit betekenis aan ons lewe en ‘n doel van vreugde en hoop. Dit maak ons eintlik vreemdelinge op ander plekke, want ons is deel van God se koninkryk. Om te kies om Hom te volg, laat ons die wêreld met sy verkeerde plekke agter ons. Dit beteken ons hoor, praat, sien, dink en evalueer alles op ‘n nuwe manier. Eintlik pas ons nie meer hier in nie, maar ongelukkig, woon ons steeds hier.


Gelukkig, God werk ook hier waar ek en jy woon, en Hy wil hê ons moet by Hom aansluit. Soos wat Jesus Paulus gekies het om ‘n sendeling te wees, só het Hy ons ook gekies. Om ‘n Christen te wees, beteken dat ek en jy as verteenwoordigers van Jesus Christus na die wêreld gestuur is. En dis nie wat ek sê nie, Jesus het dit gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Hierdie woorde van Jesus met die deurboorde hande en voete, is ook vir ons bedoel. Jesus se sending op aarde is nou ons sending, want Hy is ook vir óns sonde deurboor. Ons is deel van Sy koninkryk, deel van die Liggaam van Christus.


Jesus se verhaal eindig nie met Sy opstanding en verskyning aan Sy dissipels nie, dit gaan voort deur Sy opdrag vir die kerk, wat die plan van God wat uitgewerk moet word deur ons as Sy getuies, insluit. Dit het die geweldige implikasie dat God sy plan deur élke Christen-gelowige se medewerking laat verwesenlik. ‘n Ontsaglike verantwoordelikheid word op my en jou as gelowiges geplaas om te weet dat God ons wil gebruik om hierdie moeilike taak moontlik te maak.


“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook”, is nie ‘n “sommer-maar-net” opdrag nie. Ons gelowiges het Sý vrede ontvang om dit aan te gee; ons word geseën om vir ander tot seën te wees. Gelukkig hoef ons nie die sending van Jesus, in eie krag aan te pak en uit te voer nie. Jesus gee aan ons sy Gees om ons te ondersteun. Ons bekwaamheid kom nie uit onsself nie, maar word deur die Gees tot ons beskikking gestel! In die krag van die Gees en deur die bereidwillige gehoorsaamheid van ons, word Jesus se sending in hierdie wêreld verder gevoer. Christus het ons vandag en elke dag nodig om Sy liefde te weerspieël en om só te leef dat die wêreld Sy voorbeeld in ons kan sien en daarom ook sal begeer om Sy volgeling te wees.


Ons is geroep om te getuig. Die opstanding van Jesus Christus vereis van ons om daaroor te praat, om daarvan te vertel. Die Heilige Gees staan gereed om ons te omgord met Sy krag sodat ons Sy kragtige getuie kan wees – net daar waar Hy ons geplaas het om te leef, te werk en te speel. ‘n Aktiewe volgeling is ‘n Geesvervulde volgeling want as ons nie getuig daarvan nie, word die vergifnis van sonde nie ‘n werklikheid in mense se lewens nie.


Ons kan verstaan hoekom Paulus haastig was terug huistoe – Oos wes, tuis bes! Maar ons moet ons nie te vas maak aan hierdie land en ons tuiste nie. Dis nie eintlik ons tuiste nie, ons finale bestemming is reeds voorberei. Daarom is dit nodig dat almal moet weet ons Vader se woonplek is daar waar geen sonde dit kan beskadig nie. Op ons pad daarheen moet ons ander ook bemoedig om saam soontoe te gaan.


“Ons taak as leke is om ons verhouding met Christus met soveel intensiteit uit te leef dat dit aansteeklik sal wees” (Paul Tournier).


Gebed: “O, Heilige Gees, bereider van God se koninkryk! O Helper en Bevryder, laat Gods beeld in my blyk! Gee my die krag tot dade om in U Naam te bou, gesterk deur U genade. Maak my in U getrou” (Liedboek 437:2). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page