top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 1 November 2023

Koos Espach


VI. Paulus se Tweede Sendingreis (57)

Hoofstuk 18 – Paulus in Korinte (Hand. 18:1-28)

Paulus keer terug na Antiogië toe (1)


Instrument in die hand van God


Hand. 18:18a – “Nadat Paulus nog ‘n tyd lank daar by die gelowiges in Korinte gebly het ...”


Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio, aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag. Uit woede het die Jode vir Sostenes wat Krispus as hoof van die sinagoge opgevolg het, net daar voor die goewerneur aangerand. Die Jode wou graag dat Gallio die Christendom as onwettige godsdiens verklaar en dit verbied, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie. Inteendeel, Gallio het hom niks daaraan gesteur nie.

Paulus, Silas en Timoteus het nog vir ongeveer agtien maande in die weelderige, maar sedelose handelstad Korinte gewerk. Dit was te danke aan Gallio, nuwe goewerneur en ‘instrument in die hand van God’, sonder dat hy dit so bedoel het. Die Jode wou die Christendom in Korinte uitroei, die teenoorgestelde het egter gebeur – daar is in die openbaar, van die Romeinse regterstoel af, vryheid aan die Christelike geloof verleen. Ons kan dit dalk vertolk dat Rome se mag in Korinte, diensbaar gemaak is aan God se koninkryk!


Ons het dit al gesê, maar dis beslis nodig om dit te herhaal: Die woord van die Here kan deur niemand gestuit word nie! So het Paulus, ook as instrument in die hand van God, dit beleef en gebid. Hy het in ‘n brief aan die Tessalonisensers gevra, ‘n brief wat netsowel aan ons gerig kon wees: “Broers, (en susters), bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie” (2 Tess. 3:1-2).


Paulus het die uitdagings wat in sy pad lê erken. Daarom het hy gedurig in afhanklikheid tot God gebid vir krag en insig. Hy kon nie sonder gebed nie. Ons onderskat dikwels die kragtige werking van gebed. Gebed is die ‘voertuig’ waar ons vir mekaar kan intree, waar God hoor en waar Hy dinge laat gebeur. Gebed is die plek waar ons rêrig vir mekaar omgee. Dis die plek waar ons eerlik kan wees en al word daar net gemompel, verstaan God alles. Hy ken die bedoeling van ons hart, en die Gees verander buitendien ons stamelende en stotterende woorde in hemeltaal.

Op ons eie sal ons die wedloop van die lewe nie kan voltooi nie. Ons doen en late het geen krag nie en daar kan nie werklik ’n impak wees sonder die krag van gebed nie. Sonder die krag van die Heilige Gees is ons en ons pogings net ’n damp in die wind. Ek besef ook dat dit wat ek hier probeer stel via die sleutelbord wat later op die skerms by julle gaan verskyn, geen impak kan maak as die Heilige Gees nie die saad in julle harte plant nie. Ons het gebed só nodig. Al sukkel ons soms om te bid. Soms raak ons te besig en dan word gebed al hoe laer op ons vol program geskuif. Dis nie reg nie, ek weet. Dit is juis dan wanneer ons mekaar se gebede nodig het.


Christen-wees is ‘n liefdesverhouding tussen God en ons. Waaraan meet God ons liefde? Onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees. ‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en na te kom. As God dus vergeefs op my en jou wag omdat ons nie ons afspraak met Hom nakom nie, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê en gaan ons liefdesverhouding kwyn. Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen God en ons. Ons gelowiges in Christus, se gebed is ‘n gesprek met ons “Vader wat weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit van Hom gevra het” (Matt. 6:8b).


Gebed vra volkome vertroue op God. Sy vermoë om op die swakste gebed wonderlik te antwoord, is onbeperk. Maar dan moet ons Hom ten volle vertrou en “oortuig wees dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het” (Rom. 4:21). En dan moet ons onthou, gebed is die enigste direkte verbindingslyn tussen ons en die troonkamer van God, maak nie saak waar ons onsself bevind op hierdie deurmekaar aarde van ons nie. ‘n Paar stamelende woordjies in die kantoor, onder in die myn, by die skool, agter die motor se stuurwiel, of waar ook al ons dit begin, eindig in ‘n oogwink in die beheersentrum van die hemel. Is dit nie wonderlik nie? Nee, nie net wonderlik nie, dis waar!

“Niks is buite bereik van gebed nie, behalwe dit wat buite die wil van God is” (Oswald Chambers).


Gebed: “En nou kan ek met vrymoedigheid na U gaan, omdat U my gebede verhoor as ek enigiets volgens U wil vra. En aangesien ek weet dat U my gebede verhoor as ek iets só vra, weet ek ook dat ek kry wat ek van U vra” (1 Joh. 5:14-15). En wanneer my gebede onvervuld terugkeer na my, sal dit my nie wegdryf van U af nie Here, maar in groter afhanklikheid voor U laat bly kniel want U trou is my handvatsel en U dra my wanneer die uitdagings van die lewe ondraaglik raak. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page