top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 26 Oktober 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (53)

Paulus in Korinte (3)


Die logika van Golgota-liefde


Hand. 18:4-6 – “Maar elke sabbatdag het Paulus in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig. 5 Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. 6 Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: ‘As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.”


Paulus is steeds op sy sogenaamde tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 nC. Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus in Korinte aangekom het, “bewus van (sy) swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor. 2:3). Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het. In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand. 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou reaksie uitgelok (17:16-34).


Onder die duisende wat na Korinte gestroom het, was ook die geroepe apostel van Jesus Christus. Paulus vind sy weg daar en gaan bly by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor. 16:19) gehad. Hulle is kort tevore uit Rome verdryf met die groot vervolging wat daar ook teen Jode deur keiser Claudius begin is.

Hy het saam met hulle tente gemaak, totdat Silas en Timoteus daar aangekom het met ‘n groot finansiële gawe van sy vriende in Filippi (Fil. 4:15). Die bydrae het dit vir hom moontlik gemaak dat hy daarna al sy tyd deur die week, en nie slegs op die sabbat nie, aan die prediking kon wy. Sy hoofdoel was om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. Paulus was nie ‘n ambagsman nie, hy was ‘n rabbi!


Die Jode het hom egter aanhoudend teengestaan en belaster met hulle houding en optrede. Dat Jesus die verwagte Messias is, is vir hulle godslasterlik. Dit was vir Paulus die teken om sy band met die sinagoge te breek en hy doen dit deur die stof van sy klere af te skud. Hierdie simboliese handeling gaan gepaard met die uitspreek van Paulus se verdoemende woorde: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.” So breek die einde van Paulus se ‘kragmeting’ met sy landgenote.


Die Here se gestuurdes is niemand se voetmatjies nie! Hulle buig laag, ja, hulle kniel en is selfs bereid om ander se voete te was; hulle vergewe en hulle loop die ekstra kilometer; hulle draai die ander wang – maar daar word nie sonder gevolge op hulle getrap nie! Ons is God se eiendom, Sy kinders – “Jesus het aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). God het ons geskep en ons nie laat staan vir wind en weer en woestaards om te verrinneweer nie. Diegene wat hulle aan ons uitverkorenes vergryp, sal die gevolge moet dra.


Hierdie konfrontasie herinner ons Bybellesers dalk aan Paulus se brief aan die Romeine. Hy het sy volk steeds liefgehad, deels omdat hulle Gód se volk was. Daarom was dit vir hom nodig om as’t ware drie getuies in te roep om die waarheid van sy droefheid oor hulle te bevestig: Jesus Christus, die Heilige Gees en sy gewete. Die merkwaardigste van sy liefde vir sy volksgenote is, dat hy bereid was om aan te hou om die Jode te probeer oortuig: “In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees” (Rom. 9:1-3).


Ironies was dit juis húlle wat telkens sy werk in die wiele gery het en veroorsaak het dat hy baie ontberinge moes verduur. Hy klink dalk verbitterd daaroor maar dit is moontlik die skerpte van ontstellende liefde in plaas van haat, wat hom so laat praat. Paulus se bereidheid om vir sy volksgenote alles op te offer, klink totaal onbegryplik en onlogies. Maar sedert Golgota geld daar ook nog ‘n ander logika in die wêreld – die logika van God se liefde.

Paulus demonstreer ‘n besondere kwaliteit van hierdie Golgota-liefde en omgee teenoor sy mense wat hom soveel slegte dinge aangedoen het, “hy sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.” Sal ons dit ook kan doen? Dis wat die wêreld nodig het, die mense rondom my en jou nodig het, daar in ons huwelik, verhoudings, kollegas, vriende en kinders. Hulle smag na ons onbaatsugtige liefde. Ja, dis erg moeilik, maar laat ons probeer om ’n lewe te leef van gee, sonder om iets terug te verwag. Die wêreld, mý en jóú wêreld, sal ánders lyk.


Jesus Christus het die volle prys vir ons aan die kruis betaal, dan behoort ons seker só te leef dat ander God se liefde, en Paulus se logika, deur ons kan ervaar. “Kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik” (Hos. 6:3).


“Die bewys dat ons God liefhet, is nie hoeveel mense ons na Hom gelei het, of hoeveel ons vir Hom gewerk het, of hoe pragtig ons Sy lof besing het nie, maar doodeenvoudig hoeveel ons ons naaste gedien het”

(Gayle Roper).


Gebed: Ewige God, as dit moeilik is om met woorde of gedrag vir U te getuig, help my om sonder skroom te sê aan Wie ek behoort. Help my om altyd te onthou dat ek U Naam dra, veral wanneer die uitdagings my wil oorweldig. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page