Gedagte vir Vandag
Vrydag, 25 Augustus 2023
Koos Espach
In die tronk in Filippi (8)
Paulus, Silas en die Tronkbewaarder (2)
God aan die werk
Hand. 16:27-31 – “Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28 Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: ‘Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.’ 29 Toe het die bewaarder ‘n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30 Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: ‘Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ 31 Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
Terug na die twee mishandelde Christene in die tronk. Paulus verstaan seker nou meer Christus se woord: “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” (Hand. 9:16). Stel jou voor, stukkend geslaan en ongemaklik en broos sit Paulus en Silas en verhef hulle stemme tot God om Hom te loof en prys. Uit ‘n nat donker sel in Filippi styg hulle lofliedere om middernag tot by die hemelse troon van God! Stephan Joubert sê dat selfs God was aangegryp deur hulle gebede en liedere. Só aangegryp dat Sy applous die hele Filippi én die omgewing én die tronk laat bewe, tronkdeure geopen, en ál die gevangenis se boeie afgeval het. Die hemelse lig van God skyn in die donker sel en verdryf alle vrees. Dit maak van Sy twee gemarteldes, helde!
Wakker geskud uit sy slaap deur die aardbewing, sien die tronkbewaarder al die tronkdeure is oop. Hy besef op aarde is daar nie vir hom redding nie want volgens die Romeinse reg is die bewaker wat ’n gevangene laat ontsnap, veroordeel tot dieselfde straf wat die gevangene moes ontvang het (vgl. 12:19). Hy vrees almal het ontsnap en trek sy swaard om homself om die lewe te bring. Hy wou in ‘n angstige oomblik selfmoord pleeg, maar Paulus keer hom. In die donkerte van die sel het hy lig nodig. Gedryf deur die ligstraal haas hy hom na Paulus en Silas en val bewend voor hulle neer. In die flou lig van die fakkel in sy hand, verander sy hele lewe daardie nag. Hy soek hulp by die manne wat redding verkondig. En sy geestelike lig word deur ‘n ewigbrandende Lig aangeskakel!
Só werk God! Rome se verteenwoordiger wat in beheer moet wees, lê bewend voor God se kinders. Hy soek hulp. Die gevangenes word skielik menere! “Wat moet ek doen om gered te word?” Ek wonder vir wie was hy die bangste, vir die Romeinse owerheid wat hom sou doodmaak, of sy siel wat verlore sou gaan? Ek wonder ook of hy die Masedoniese man was wat om hulp geroep het in Paulus se visioen van vroeër? En Paulus deel met hom die evangelie sodat hy tot bekering kom. Hieruit spruit vryheid. Daar hang nie meer ‘n swaard oor die bewaarder se kop nie – letterlik en figuurlik. Vir hom en sy huisgesin begin ‘n nuwe bestaan en ‘n ewige lewe!
Ons het dit al gesê, maar vergun ons om dit weer te noem: die donker hou nie van die lig nie. Die duiwel hou nie van die goeie nie. Hy verlustig hom in kwaad. Hy wil breek. Hy wil liefde ’n bloedneus gee. Jesus kom steek ’n stokkie daarvoor. Deur Paulus bring Jesus die evangelie aan hierdie bewaarder wat gewoond is aan die donker. Dit maak die duiwel die duiwel in en hy wil vir Jesus uit die pad hê.
Dit geld vir my en jou ook. Ek en jy is soos Paulus en Silas uit die tronk verlos, die tronk van sonde. Ons vertrou dus op God vir ons saligheid, nie op onsself nie, ook nie op die owerste van die land nie. Verlossing beteken dat God my en jou God is in ons lewe. Laat ons daarom op ons knieë val en besef wie Jesus is. Laat ons Hom eer as God, as Verlosser. Hy is die gans andere wat deur Sy offer, jou en my vir altyd verlos het. Ek en jy kan met vrymoedigheid, vandag deel wees van elke gelowige wie se hoop gevestig is op die Here (Ps. 146:5). Die vraag is egter: Hoe reageer ons as rampe ons onverdiend tref soos vir Paulus en Silas? Kla en huil ons daaroor, of loof en prys ons die Here daarvoor?
Ons moet vergeet van die tipiese siening van ons Christene dat ons verlos is van alle teëspoed. Dit is nie waar nie. Dit beteken eintlik ons is verlos in teëspoed – en dit is iets heeltemal anders. As kinders van God (Joh. 1:12), sal ons verseker teëspoed ervaar, maar Jesus het gesê ons moenie verras wees wanneer dit gebeur nie – “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh. 16:33). Eintlik sê Jesus vir ons daar is niks om te vrees nie. Dit word vertel van ‘n predikant wat ‘n skildery in sy studeerkamer het waar Polikarpus op die brandstapel staan met die woorde daarby: “Hallelujah anyway!” Dit was ook Paulus en Silas se gesindheid. Deel ons dieselfde gesindheid?
Ons is so geneig om maklik handdoek in te gooi en moedeloos te raak. Ons word só maklik oorweldig deur die donker wolke van beproewing en onverklaarbare omstandighede. Jesus is groter as die ellende en lyding wat ons moet verduur. “Ek het die wêreld klaar oorwin” sê Hy. Hy het reeds bewys dat Hy die dood oorwin het en die lewe beheers. Hy wil vir ons sê dat Sy lig steeds skyn, selfs in die donkerste plekke of tye. Ons moet nie moed verloor nie! Ons moet ons lewensblydskap en ons wil om vorentoe te gaan, bly behou. Wanneer ons lof aan God bring selfs in ons slegste omstandighede, verander dit ons visie want God vertoon dan groter as ons probleme. Prys die Here? Hallujah anyway!
“Christus het nooit vir sy kinders gesê: ‘Julle sal nie versoek word,’ of: ‘Julle sal nie swaarkry’ of: ‘Julle sal geen onsekerheid ken’ nie. Hy het wel belowe: Dit sal julle nie onderkry nie, want Hy is altyd by ons.
(Julian van Norwich).
Gebed: Here, daar gebeur baie keer onverklaarbare dinge in my lewe. Help my om dan ook eerder U te loof as om handdoek in te gooi. In Jesus se Naam pleit ek dit. Amen.
Comments