top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 21 Junie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (39)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (24)


Bly ontvanklik vir God se Woord


Hand. 13:50-51 – “Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. 51 Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan.”


Vergelyk ook Matt. 10:14-15 – “As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. 15 Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”


Die Woord van die Here het deur die hele land Pisidië versprei tot groot ontsteltenis van die Jode. Uit weerwraak het hulle ‘n groep invloedryke inwoners van die stad Antiogië en nie-Joodse vroue wat hulle tot die Joodse geloof bekeer het, teen Paulus-hulle opgesweep. So het hulle die owerheid se simpatie gewen en daarin geslaag om Paulus en Barnabas uit hulle stad te verdryf. Paulus en Barnabas het daarna Antiogië in Pisidië, se stof van hulle voete afgeskud as ‘n simboliese gebaar dat hulle alle bande tussen hulle en hul vervolgers afsny. Dit was die teken dat hierdie mense hulle kans gehad het om die evangelie aan te hoor en dit van die hand gewys het.


In ons vergelykende teks stuur Jesus die dissipels uit met ‘n duidelike opdrag. Wanneer mense se gesindheid nie “waardig” is om die dissipels te ontvang en te luister na die Evangelie nie, moet alle gemeenskap met daardie huis verbreek word. Komende van Jesus, val hierdie opdrag vreemd op die oor. Maar, Jesus gee hulle nie opdrag om die huismense of dorp te vervloek nie, m.a.w. hulle bring nie ’n boodskap van oordeel nie. Sommige mense se reaksie op die boodskap van genade, veroordeel hulleself want eintlik het hulle indirek, God die deur gewys.

God dwing Hom op niemand af nie. Hy forseer ook niemand om deel van Sy koninkryk te word nie, dis elkeen se eie keuse! Hier gaan dit nie oor God se vergelding nie, maar oor Sy pyn. Pyn omdat mense Hom uitskuif as onbelangrik, mense wat afvallig raak vanweë afgodery en dwaalleer, mense wat glo hulle kan sonder God en vasklou aan ‘n god van hulle menslike keuse. Dáárdie mense wat nie wíl luister na die boodskap van God se koninkryk wat gekom het nie, (Mark. 1:15), sal onder God se oordeel verkeer en moet daar nie verder tyd gemors word om hulle anders te probeer oorreed nie. Sodom en Gomorra wat nooit so ’n geleentheid gehad het nie, “sal ’n draagliker oordeel ontvang as hierdie dorpe wat die evangelie moedswillig weerstaan het”.


Dit is egter makliker gesê as gedaan. Hoe weet mens dat jou pogings om die evangelie oor te dra, gestaak moet word? Wat as jou beslissing verkeerd is en ‘n siel gaan verlore as gevolg van jou verkeerde besluit? Die Hebreërskrywer sê: “Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13). Daar moet dus ten volle gebruik gemaak word van elke beskikbare geleentheid om mekaar te vermaan. “As jy enige ander lewe as die lewe van God en die hemel kies, kies jy die dood, want die dood is niks anders as die verlies van die lewe in God,” voeg Andrew Murray by. Daar moet “elke dag” en gedurig vermaan word teen die misleiding van die oudste strateeg, satan. Die tyd van so ‘n vermaning kan dalk vir ewig verbygaan. Elke dag, kan daardie dag, straks die laaste “vandag” van God se genade vir iemand wees.

Eerstens gaan dit nie oor God se boodskappers nie maar oor God wat ons stuur! Dit gaan nie oor ons persoonlike voorkeure en oordeel oor ander nie. Dit is dan die tyd om na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef nie almal te ken of te probeer oortuig nie – God ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie aan iemand anders af te dwing nie. Wanneer mense ons stil maak of die deur wys, is dit ‘n bewys dat hulle nie ontvanklik is vir die Goeie Nuus dat die koninkryk van God, deur Jesus Christus, tot by hulle gekom het nie. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie, sal God die nodige rekenskap by húlle eis – God sal oordeel. Ek en jy moet net sorg dat ons afhanklik bly van God en ontvanklik bly vir sy Woord en Sy liefde. Laat ons ander met hierdie liefde omhels totdat hulle hulself vrywillig daaraan oorgee.

“God’s delight is received upon surrender, not awarded upon conquest. The first step to joy is a plea for help” (Max Lucado).


Gebed: Hemelse Vader, ek het werklik niks om oor hoogmoedig te wees nie. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Mag die lig van die liefde waarmee U my oorlaai, oorloop na ander, sodat hulle ook U warmte sal ervaar. Gee dat die stempel van U teenwoordigheid sal agterbly waar ek in U Naam was. Amen.

Opmerkingen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page