top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Jun 2, 2023
  • 4 min read

Vrydag, 2 Junie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (30)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (15)


God se genade sluit niemand uit nie


Hand. 13:44-46 – “Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. 45 Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. 46 Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: ‘Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie ...”


Vergelyk ook Matt. 21:42-44 – “Toe sê Jesus vir hulle: ‘Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë. 43 Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer. 44 ‘Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”


Die nuus oor wat in die sinagoge in Antiogië in Pisidië gebeur het, het baie gou deur die hele stad versprei. Dit was dan ook nie verbasend nie dat byna die hele stad die volgende sabbatdag in die sinagoge bymekaargekom het. Daar kom egter sterk teëstand van die Jode toe hulle die groot opkoms sien. In plaas daarvan om bly te wees dat daar soveel mense bymekaargekom het om die woord van die Here te hoor, en die geleentheid aan te gryp om saam te luister, word hulle met afguns vervul – soos die Jode van Jerusalem ook teenoor Jesus gereageer het – en begin Paulus onderbreek in sy verwoording van die evangelie en beledigend optree.


Die Jode kon dit nie verdra dat die heidene ook na die woord van God kon luister nie. Paulus en Barnabas het egter nie geswig voor die aanvalle van die Jode nie. Hulle tree soos ‘n span op en albei volhard met die verkondiging van die evangelie ten spyte van die afgunstige weerstand van die Jode. Hulle draai nie doekies om nie, en spel die konsekwensies van die Jode se teëstand aan hulle uit. Hulle teëstand wys dat hulle die ewige lewe nie werd is nie. Paulus en Barnabas se roeping – om die evangelie na die heidennasies te neem – word deur hierdie optrede van die Jode bevestig en tree nou in werking. God se verlossing is bedoel vir die uithoeke van die aarde, soos Jesus reeds beveel het in Handelinge 1:8, en beteken dat Paulus en Barnabas nou na nie-Jode gestuur word om as die Here se dienaars, Jesus Christus as ’n lig vir die nasies te verkondig (Jes. 49:6).


Die woorde van Jesus in ons vergelykende teksvers het betrekking op vandag se dagstuk en het eintlik ‘n aaklige geskiedenis daaragter. Vir eeue lank het God deur verskeie profete, by Sy verbondsvolk gepleit om aan Hom getrou te wees. Die volk het een na die ander Ou Testamentiese profeet se pleidooie wat hulle na die Here toe teruggeroep het, geïgnoreer. Ten einde laaste het God geduldig, steeds probeer om hulle tot ander insigte te bring, deur nóg twee profete te stuur. En wat maak die volksleiers met hulle? Johannes die Doper wat by die volk gepleit het om “hulle te bekeer, want die koninkryk van God het naby hulle gekom” (Matt. 3:2), se onthoofde kop het hulle gebruik om ‘n ete te versier.


Die belangrikste Profeet, Jesus, het daarna voortgegaan om dieselfde boodskap van “die volk wat hulle moet bekeer, want die koninkryk van die hemel (God) het naby gekom” (Matt. 4:17) te preek. Hy het aanvanklik, selfs saam met Sy twaalf dissipels, hulle beywer om eers die boodskap aan “die verlore skape van die volk Israel” (Matt. 10:5-6) te bring. Jesus het ernstig onder die volk gewerk, want “God het Hom na hulle toe gestuur” (Matt. 15:24). Dit het egter geleidelik duidelik geword dat die volksleiers Hom verwerp het: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis die belangrikste klip in die gebou was.”

Wat beteken dit vir my en jou vandag? Wie kan ‘n burger van hiérdie koninkryk van God word? Enigiemand! Élkeen wat hulle vertroue in God stel en Hom gehoorsaam, élkeen wat “die belangrikste klip in die koninkryk van God” aanvaar en in Hom glo, het ‘n ope uitnodiging: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; en elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! (Op. 22:17). God se genade sluit niemand uit nie en die goeie nuus is, dis grensloos, dis verniet! Die “belangrikste klip wat deur die Joodse leiers afgekeur is” het vir elke mens die keuse bewerkstellig. Hy “is die versoening nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:2).


Vir dié wat steeds hardkoppig hulle eie koninkrykie bou met hulle eie klippies, en hulle nié aan die liefdevolle wil van God onderwerp nie, hulle wat “aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, die straf van God bly op hom” (Joh. 3:36). “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Jesus se uitnodiging vir verlossing is só wyd, dat dit alle mense van alle tye insluit, ook vir my en jou. Ons moenie nou dom wees nie. Luister na Hom en maak die regte keuse – vandag nog!


“Waar God ook al in ‘n mensehart as koning regeer, daar is die koninkryk van God gevestig” (Paul W Harrison).


Gebed: My Verlosser Here, help my om U nougeset te gehoorsaam. Ek wil graag ‘n “lewende steen wees, opgebou tot ‘n geestelike huis in Christus, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus, vir U welgevallig is” (1 Pet. 2:5). Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2)   Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page