top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 24 Mei 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (23)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (8)


Die hart van die evangelie


Hand. 13:26-31 – “Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur. 27 Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. 28 En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. 29 Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. 30 Maar God het Hom uit die dood opgewek. 31 Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.”


Paulus het tot dusver die gebruiklike preekstyl van sy tyd, deur die hede uit die geskiedenis van die verlede te belig en wanneer hy by hierdie punt in sy toespraak kom, spreek hy sy hoorders weer direk aan, aangesien hy wil beklemtoon dat God hierdie boodskap van verlossing juis vir hulle gestuur het. Anders as wat Petrus in sy preek (Hand. 3:11-26), gedoen het, beskuldig Paulus nie sy hoorders van aandadigheid aan Jesus se dood nie. Hy lê dit voor die deur van Jerusalem se kerkmense.


Paulus verduidelik verder dat alles wat met Jesus gebeur het, die vervulling van die profesieë was. Omdat hy ‘n uitstekende kennis van die Ou Testament gehad het, kon hy bewys dat Jesus die langverwagte Messias was en ís, en dat Sy lyding deel was van die profesieë oor die Messias. Paulus preek nie oor Jesus se geboorte, werk en kruisdood nie, maar lê klem op Sy opstanding. En dit is die grootste bewys dat Hy wel die Messias is. Hy het werklik opgestaan en “in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het.” Hy sou nooit weer sterf nie, anders as Lasarus en die ander wat Hy uit die dood opgewek het – en dit is die hart van die evangelie!


Jesus se opstanding was die belangrikste faset van die eerste gelowiges se boodskap. Vandag is die boodskap van Die Bybel vir ons Christene steeds uniek tussen al die godsdienste. Dit is die geloof in Jesus se opstanding wat ons red: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” (Rom. 10:9).


Geloof is vir baie Christene van vandag, gekompliseerd. Baie boeke is al daaroor geskryf en miljoene woorde daaroor gepreek, bespreek en ge-uiter – alles pogings om mense te help. Vir Paulus was dit egter ‘n uitgemaakte saak: Verlossing is alleen vir elkeen wat glo in Jesus Christus, ons Here! Hy roep ons op tot oorgawe en geloof in Christus, om verlossing ons eie te maak. Dit is tog die doelwit van alle Christene. Deur die daad van geloof en die daad van belydenis, vorm dit saam die één daad van toeëiening van die vryspraak wat deur ons God van genade gegee word.


Hoe word hierdie woord só in ons gevestig dat dit in ons mond en in ons hart is? “In jou hart” wil sekerlik sê dat hierdie nie sommer maar net iets is wat gesê word sodat ek iemand kan beïndruk wat my dan sal beloon vir wat ek gesê het nie. “In jou hart” wil sê hierdie woord het ‘n wesenlike deel van my lewe geword wat daadwerklik bevéstig, dat Jesus Christus die Here is.


Daarmee erken ek God het Hom uit die dood opgewek en as Nuwe Testamentiese gelowige, woon en werk die Heilige Gees in my. “Hy skryf die woord, die goeie nuus, op ons harte en lê dit vas in ons gedagte” (Jer. 31:33). Dan behoort ons te besef wie God is – die God wat wil hê ons moet in ‘n persoonlike verhouding met Hom staan, Hom sal aanroep en “met ons mond bely dat Jesus die Here is, en met ons hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het,” dat elke knie sal buig en elke tong sal bely, dat Jesus die Here is!


Hierdie woord van God word ‘n stem in ons lewe, in ons hart en in ons mond. Wanneer ons stil raak en begin luister na God, en Sy Woord soos ‘n saadkorrel in die ‘grond’ van ons harte druk, spruit die lewe wat God gee, in ons uit. Dit is waarom die Bybel so ‘n belangrike plek in ons geloofslewe inneem. Daar is niks belangriker as dit nie. Dit beteken nie om die Bybel te aanbid nie, maar om in die Bybel die lewende woorde van die lewende God te hoor, daarop te reageer en dit wat God vir ons sê, te gaan dóén (Matt. 7:21-23). Niemand kan die koninkryk van God ingaan slegs deur godsdienstige ervaring nie. Die wesenlike daarvan is geloof in Jesus Christus en die ervaring daarvan, vereis totale oorgawe aan Hom.


“God het in Jesus Christus alles gedoen wat vir ons redding gedoen kon word. Alle ander godsdienste draai om wat die mens nog moet doen om vryspraak te kry met pogings van die mens se kant af om by God uit te kom, terwyl Hy al reeds in Christus na ons toe gekom het” (Malcolm Smith).


Gebed: Almagtige God, dankie dat U my as sondaar verwelkom het, my beklee het in Christus se geregtigheid, my ook U kind gemaak het. En al wat ek moet doen is om “met my mond te bely dat Jesus die Here is, en met my hart glo dat U Hom uit die dood opgewek het, dan sal ek gered word.” Amen.



Opmerkingen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page