Gedagte vir Vandag
Donderdag, 26 Januarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (12)
Petrus se toespraak by Kornelius (3)
Ons kan Jesus se opstanding nie bewys nie, net glo
Hand. 10:39-40 – “En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn ...”
Ná die algemene feite i.v.m. Jesus se optrede geskets is, kom Petrus tot die meer besonderhede waarvan Kornelius, sy familie en vriende moes weet en die betekenis moes leer ken. Jesus se kruisdood en opstanding is eintlik die hoogtepunt van die goeie nuus wat hulle moes ontvang. Die negatiewe kant van die Evangelie is dat Jesus verwerp is deur die Jode. Hulle het Hom aan die kruis doodgemaak. Dit was gedoen deur mense wat vir God geen ontsag het nie, wat glad nie belanggestel het om te doen wat reg is nie, al het hulle bekend gestaan as die volk van God. Slegste van alles, hulle was kerkmense!
Maar, dit is egter gelukkig nie al wat Petrus oor Jesus sê nie. Aan die positiewe kant fokus hy ook op die opstanding van die Here Jesus Christus. Dit is die ‘Everest’ van die kruis-evangelie. “En Petrus is getuie dat God Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn het.” Dit is waar vergifnis van sondes deur Jesus se opstanding uit die dood, aan almal “uit enige volk wat God vereer en doen wat reg is, deur Hom aangeneem word” (v. 35). Kornelius, die soeker na die ware lewe, kry in hierdie geesdriftige preek van Petrus, die antwoord op sy diepste hartsverlange: hy en sy mense kry vir Jesus Christus!
As getuie van Christus se opstanding, sou Petrus nog onthou hy het die graf waar Jesus begrawe was, binnegegaan (Joh. 20:1-10). Die graf was leeg, maar die grafdoeke was nog daar, nie in wanorde nie maar netjies bymekaar. Die doek wat om Jesus se kop was, het eenkant gelê, opgerol. Dit was duidelik dat daar geen tekens van die werk van lykrowers was nie. Johannes het ook in die graf ingegaan en daar in die leë graf, met die sigbare bewyse van Jesus se opstanding, het hy tot volle geloof gekom. Hy het van daardie oomblik af geglo dat Jesus die Seun van God is en dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ons Christen-gelowiges, vier elke jaar Paasfees. Dit beteken ons glo ook dat Jesus die graf oorwin het. Soos Johannes het ons ook in die leë graf ingekyk (Joh. 20:5), en dit was verlate – met die wete dat Christus waarlik opgestaan het en dat sterflikheid saam met Hom opgestaan het. Elke keer wanneer ons in die leë graf inkyk en opreg na ons opgestane Heer soek, sal ons ‘n verrassende ontdekking maak: Dit is ‘n verlate graf wat ons hoop gee. Die leë graf belowe dat niks, selfs nie eers die dood, die koninkryk van God onherstelbare verliese laat ly nie! Paasfees beteken nuwe lewe, Godgegewe lewe, want God lewe! Jesus Christus lewe! Ons kan jubel in Sy opstanding!
Die krag van Jesus se opstanding is die krag van ons gelowiges se weergeboorte! Paastyd is opstandingstyd, vernuwingstyd. Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy nie net die dood en satan oorwin nie, maar al ons lyding, swaarkry, dinge wat die lewe vir ons ondraaglik maak, oorwin! En daar, saam met die doeke by Sy graf gelos! En dit is die kern van ons geloofsbelydenis: Jesus leef! Hy leef ondanks die geskiedenis en mensgemaakte teorieë. As dit nie so was nie, het God ons bedrieg. Wel, as jou Jesus dood is, neem tog myne! Hy het waarlik opgestaan! “Hy is die Opstanding en die Lewe” (Joh. 11:25).
As mens vandag ‘n besoek aan Jerusalem bring, is een van die mees belangrikste besienswaardighede ongetwyfeld die tuingraf waar, volgens oorlewering, Jesus vir drie dae begrawe was. Dit was vir ons ‘n aangrypende ervaring om in die graf wat in ‘n groot rotswand uitgekap is, self in te stap en te besef dat dit wat van Jesus oorgebly het, nie meer in die graf is nie, dit is leeg! Daar is geen liggaam van Jesus wat êrens in Jerusalem gebalsem lê, of ‘n klompie bene wat in ‘n kleiner kissie geplaas is nie! En wanneer mens die graf verlaat, is daar teen die deur, wat intussen die verweerde groot ronde rotsklip, vervang het, geskrywe: “He is not here, for He is risen.”
Dit het my tot trane gedryf, trane van blydskap want saam met miljoene ander gelowiges glo ons dat die leë graf van Jesus, die ware verhaal vertel van die Evangelie. Jesus se leë graf is ons troos. As die finale dood ons bestemming was, sou my en jou lewe sinneloos wees. Omdat Jesus leef, kan ek en jy ook leef, al gaan ons liggaam sterf. Dit is ons hoop in hierdie troostelose wêreld. Daarom bely alle Christelike kerke dat ons “glo in die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.” Ons lewende Jesus ván die kruis, nie áán die kruis nie, is die waarborg. Is dit jou en my belydenis ook?
“Na Jesus se opstanding is alles onherroeplik op die kop gekeer. Wanhoop verander in hoop; moedeloosheid slaan om in oorvloedige lewe, radeloosheid wyk voor roeping” (Dirkie Smit).
Gebed: Opgestane Here en Verlosser, dankie vir die leë graf. Dankie vir hierdie geskenk van die lewe. Ek juig vandag oor U onsterflikheid. Ek juig omdat U die dood oorwin het. Ek juig omdat U “die wêreld klaar oorwin het” (Joh. 16:33). Here, U is my lewe. Ek wil saam met U lewe, saam met U wandel, U ken, in ‘n verhouding met U wees. Help my asseblief daarmee! Amen.
Comentarios