top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 22 November 2022

Koos Espach


Saulus in Jerusalem (1)


Hoe vreemdeling-vriendelik is ek en jy?


Hand. 9:26-28 – “Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy ‘n volgeling van Jesus is nie. Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek.”

Na sy ontsnapping uit Damaskus, vertel Lukas ons dat Saulus na Jerusalem gegaan het om klaarblyklik by die gemeente aan te sluit en Sefas (Petrus) te ontmoet. Saulus se eie verhaal in Galasiërs 1:11-24 verskil egter van Lukas. Saulus sê egter oor hierdie periode in sy lewe, dat hy ná sy bekering, nie mense geraadpleeg het of na Jerusalem gegaan het nie, maar na Arabië vertrek het, weer na Damaskus teruggekeer het, en eers ná drie jaar Jerusalem toe is, twee weke by Petrus gebly het en ook Jakobus, Jesus se broer, daar ontmoet het.


Ons moet egter nie bekommerd wees oor die verskille nie, maar eerder let op die doel waarmee Lukas en Paulus skryf. Lukas is besig om die verhaal van die uitbreiding van die kerk te vertel en van Paulus se geesdrif om sy roeping te vervul, terwyl Paulus in die brief aan die Galasiërs, sy apostelamp verdedig. Met sy aankoms in Jerusalem was daar nie baie Christene in Jerusalem oor nie, aangesien die meerderheid a.g.v. die vervolging ná Stefanus se marteldood, gevlug het en die gemeentes van Judea gevorm het (Gal. 1:22).

Toe Saulus in Jerusalem kom en by die gemeente wou aansluit, was die oorblywende gelowiges almal bang vir hom. Hy het immers Jerusalem verlaat as hulle wreedaardige vervolger wat moord beplan het. Hulle kon nie glo dat hy waarlik ’n dissipel van Jesus geword het nie. Dit is begryplik as hulle hom nie dadelik vertrou het nie – hy was gesien as iemand met slinkse motiewe, iemand wie se bekering in twyfel getrek is. Barnabas, die Leviet, met wie ons reeds in Handelinge 4:36 kennis gemaak het, kom egter na vore en ontferm hom oor Saulus en tree dus as borg vir Saulus op.


Barnabas, die bemoediger, vertel van die Goddelike ingrype in Saulus se lewe en hoe hy hom met hart en siel aan die verkondiging van die evangelie gewy het, dat hy met vrymoedigheid en openlik in die Naam van Jesus as die gekruisigde, gepreek het (1 Kor. 2:2). Barnabas se aanvaarding van Saulus was dus die poort waardeur die bediening van Saulus ’n kans gekry het om te ontwikkel, wat uiteindelik die hele Christelike bediening sou transformeer. Die gelowiges was nou oortuig van Saulus se goeie trou en van die egtheid van sy bekering, en hulle het hom in hulle kring opgeneem. “Hy het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek.”


Hoe sou ek en jy as lidmate van die Jerusalem gemeente opgetree het as Saulus daar ingestap het om by ons aan te sluit? Sou ons hom nie ook as ‘n vals bekeerling aangesien het nie, of sou ons hom met oop arms verwelkom het? Miskien sou ons hom toegelaat het maar tog ‘n ogie oor hom gehou het.


Kom ons klim vir ‘n oomblik in Saulus se skoene. Sou ons nie dalk gekrenk gevoel het oor die lidmate se optrede teenoor ons nie? Ek sou dalk teruggetrek het en ‘n gemeente gaan soek het waar sondaars bymekaarkom as die liggaam van Christus, ‘n gemeente wat uitreik na mense wat op die verkeerde pad was maar nou gehelp word om nie verlore te gaan nie. ‘n Gemeente waar die Here ons aanvaar en gehelp word deur medegelowiges om te groei in die geloof. ‘n Gemeente wat besef dat God na die hart van elke mens kyk en die moontlikhede van elke gelowige ken. ‘n Gemeente wat glo dat die Vader ons daarheen gestuur het en glo wat God in ons kon doen, selfs toe ander getwyfel het.


Ons het almal ‘n Barnabas nodig om ons op die pad van die Here te bemoedig. Ons kan verseker weet dat as die Here die trotse en moorddadige Saulus in een van die grootste heiliges in die geskiedenis kon verander, Hy ook in staat is om my en jou te verander. Daarom moet ons ook gewillig wees om ‘n Barnabas vir ander te wees, persoonlik in hulle belangstel en help om in die geloof te groei. Dit is ‘n groot voorreg om soos Barnabas in die geestelike lewe van ‘n mede-Christen te belê, al bring dit soms mee dat ons buite ons gemaksone sal moet beweeg. Kom ons wees ‘n Barnabas vir nuwe gelowiges in ons gemeente, maak kennis en stel persoonlik in hulle belang, spandeer tyd saam met hulle en laat hulle tuis voel saam met ons in die gemeente.


“Dit is Christene se verantwoordelikheid om ander te bemoedig en aan te moedig, nie te ontmoedig nie – daarom is die wêreld vol moedelose mense” (William Barclay).


Gebed: Dankie Heer dat U my liefhet, ten spyte van my tekortkominge. Laat U liefde deur my na ander vloei. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page