top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Nov 15, 2022
  • 4 min read

Woensdag, 16 November 2022

Koos Espach


Saulus se bekering (6)


Saulus en Ananias (3)


Vrees God, nie lyding nie


Hand. 9:16 – “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.”


Ek dink as daar nou een naam was wat vrees ingeboesem het by die vroeë Christene, was dit verseker Saulus van Tarsus. Hy het volmag van die priesterhoofde gehad om almal wat die Naam van Jesus Christus aangeroep het, te boei en in die tronk te stop, selfs te dood. Hy het ‘n skrikbewind gevoer en die Christene was bang vir hom.


Maar God het ander planne vir hom gehad – tot sy naam verander – Saulus word Paulus. Die Here sou self vir Saulus aantoon, “hoeveel hy vir sy Naam moet ly.” Eers het hy ander sien ly, die eerste daarvan Stefanus wat wreed met klippe doodgegooi is. Toe moes Saulus ly. As Saulus die Naam van Christus voor die heidene, konings en Jode bely en verkondig, sou dit hom in botsing met hulle bring, en vir hom lyding beteken. Sy CV nadat hy tot bekering gekom het, is ‘n skrikwekkende verhaal van lyding, probleme en teenslae.


Paulus deel sy lewensverhaal met die Korintiërs (2 Kor. 11:16-32), en vertel hulle van sy ontberings as ‘n apostel, hoe hy moes “ly terwille van Jesus se Naam” – hy was dikwels in doodsgevaar terwyl hy ontsettend hard gewerk het; hy moes baie op koue tronkvloere slaap; vyf maal het die Jode hom die gebruiklike nege en dertig houe met die sweep geslaan; drie maal het hy lyfstraf gekry; een maal met klippe gegooi; drie maal skipbreuk gely, selfs ‘n dag en nag in die oop see deurgebring; tydens sy reise moes hy dikwels gevare trotseer op riviere, gevare van rowers, volksgenote, heidene, gevare in die stad, gevare in die veld en vals broers; nagte sonder slaap; dae sonder kos, skuiling of bedekking teen die koue, en dan moes hy hom nog bekommer het oor sy nuut gestigte gemeentes wat maar net nie wou koers kry op die regte pad nie.


Maar dit kon nie sy passie vir Jesus stuit nie! Hy het God gevrees, nie lyding nie. Daarom kon hy in die tronk sit en sing; op ‘n stadium uitroep: “Want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil. 1:21).

Dit laat my wonder wat ons sou gedoen het as ons onder sulke omstandighede in Paulus se skoene was? Sou ons ook dit reggekry het om lyding nie te vrees nie, omdat ons God alleen vrees? En hier beteken vrees nie om bang te wees vir God nie, maar ontsag vir ons Almagtige Vader. Sou ek en jy nie miskien eerder ons lot bekla het en moed opgegee het nie? Wel, Paulus het nie een van hierdie opsies eers oorweeg nie, omdat hy God en God alleen gevrees het, ontsag vir God gehad het!


Geen tronkmuur was te hoog of tronkvloer te koud om hom mismoedig te kry nie, daarvoor was God se genade hoër en warmer. Selfs die Heilige Gees kon nie gestop word deur dik tronkdeure en massiewe slotte nie. Inteendeel, Hy was deurentyd teenwoordig by Paulus om sy geloof sterk, en hoop, brandend te hou. Trouens, Paulus se geloof, ten spyte van swaar boeie en lyding, is vandag steeds ‘n voorbeeld en aansporing vir menige Christene wêreldwyd. Op die ou einde het hy vir Jesus Christus gesterf!


Ons gelowiges se oë is gevestig op God se toekomsbelofte, nie op korttermyn resultate nie. Ons kyk verby hulle wat doodgemartel is, bespotting en lyfstraf verduur het, gevangenskap, gestenig, in stukke gesaag (Jesaja), met die swaard vermoor (Heb. 11:36-37). Selfs hulle wat huidiglik steeds ly in hierdie deurmekaar wêreld omdat hulle Christene is. Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar saam werk ons vir dieselfde groot saak, naamlik die koninkryk van God.

Jesus se mense dra kelnerklere en meestal is die fooitjies maar karig, soms selfs snedige aanmerkings verdra, dit maak nie saak nie. Ons staan in diens van Jesus in ‘n stukkende wêreld. Niemand ly egter tevergeefs vir Christus nie en ons kan hierdie lyding alleen verduur wanneer ons deur die Heilige Gees besiel en ondersteun word (1:8). Daarom word ons saamgebind deur gemeenskaplike blydskap en aangespoor om elkeen op sy eie terrein getrou aan die werk te bly. In die proses saai sommige en ander oes, tog bly dit dieselfde oes vir die Here. Nadat ons geluister het na die stem van die Heilige Gees, kan ons saam met Paulus bely: “Ek is oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom. 8:18). Wanneer ek en jy sê: “Hier is ek, Here,” moet ons gewillig wees om die gevolge van ons woorde te dra! Is jy bereid?


“Daar is geen edeler godsdiens as die diens aan die lewende God nie, en dit vind konkrete gestalte in ons diens aan ons medemens” (Albert Schweitzer).


Gebed: Dankie God van hemel en aarde, dat ek kan vashou aan ‘n belofte wat ewigheidswaarde het. Dankie Jesus dat ek ‘n lewe saam met U kan hê al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie. U maak die lewe vir my egter ‘n oorwinning oor my probleme. Dankie Heilige Gees dat U by my is, nie om my van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om my in moeilike tye by te staan en krag te gee. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page