Gedagte vir Vandag
Maandag, 14 November 2022
Koos Espach
Saulus se bekering (4)
Saulus en Ananias (1)
God se liefde en genade is onpeilbaar
Hand. 9:9-12 – “Drie dae lank kon Saulus nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar ‘n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in ‘n gesig geroep: ‘Ananias!’ ‘Hier is ek, Here,’ het hy geantwoord. En die Here sê vir hom: ‘Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na ‘n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.”
Vir drie dae het die Here Saulus tot stilstand gebring met oë wat nie kan sien nie. Daarby het hy drie dae lank gevas. Die Here het vir hom ’n tyd geskep om die openbaring wat hy ontvang het in sy gesprek met die opgestane en verheerlikte Jesus, te deurdink en tot sy sinne te kom. Dit het hom tot bekering geruk uit sy verstarde Joodse denke oor God en tot ’n erkenning van sy sonde teen God. ’n Nuwe wêreld het vir hom oopgegaan in sy ontmoeting met die ware Lig wat elke mens verlig (Joh. 1:9). Wat hy tot nou toe beskou het as godslastering (6:11), is toe altyd ’n lastering teen die ware God en Sy genade.
Die Here Jesus het in ’n visioen Ananias op sy naam geroep en hy het homself direk tot die beskikking van die Here gestel. Hy moes na Saulus in Judas se huis, in Reguitstraat gaan soek. Reguitstraat was destyds die hoofstraat wat van oos na wes deur Damaskus geloop het, met ’n poort van pilare aan elke kant. Die huis van Judas in die hoofstraat skep die vermoede dat dit ’n herberg was waar Saulus se metgeselle hulle blinde leier gelos het. As inwoner van Damaskus sou Ananias die huis geken het.
Soos Ananias, het Saulus ook ’n visioen gehad. Dus moes Ananias besef het dat Jesus met Saulus besig was en Saulus se gebed beantwoord het. Hy verwag Ananias as gestuurde van die Here om hom van sy hulpeloosheid te verlos deur die hande op te lê sodat hy weer kon sien. So berei die Here die twee voor vir die ontmoeting wat Hy reël. Saulus sal daarom Ananias as Jesus se gestuurde ontvang, wat hom, uit genade, van sy hulpeloosheid sal verlos en van hom ‘n gestuurde maak.
Saulus se ywer vir die Joodse wet het hom blind gemaak vir die ware God, letterlik en figuurlik. Maar dan sien ons hoe die Here hom van sy blindheid verlos. Die Here begenadig op hierdie stadium, Sy grootste vyand! Absurd? Nee, juis hierin lê die verskil tussen die Here en ons. Ons mense het net dié lief wat vir ons lief is. Ons doen net goed aan mense wat vir ons goed is. Maar Jesus se liefde strek selfs tot Sy vyand, en hier omarm Hy sy grootste vyand in liefde. Hoe onpeilbaar is God se genade en sy liefde nie? Hoeveel meer aangrypend word hierdie wete, wanneer ons besef dat wat hier in Saulus se lewe gebeur, eintlik in elkeen van ons lewens gebeur? Saulus het ‘n gelowige Ananias nodig gehad om hom op te help, netso het ons medegelowiges nodig om mekaar te help.
‘n Mens kan maklik te veel sê oor die misterie van God se uitverkiesing en selfs vir God probeer voorskryf hoe Hy dit behoort te doen. Die waarheid van die Evangelie is egter dat God doodeenvoudig ons kies voor ons Hom kies, en God kies nie omdat ons dit verdien nie, maar uit Sy eie liefdevolle keuse. God het ‘n perfekte plan vir elkeen van Sy kinders: Jesus Christus – “So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus” (Ef. 4:13).
God buig neer na die mens om hom te red en reik in sy liefde uit na ons. Dit is Hy wat uit liefde vir die wêreld sy Seun gestuur het (Joh. 3:16). Hy stuur sy enigste Seun om vir ons sondes te sterf. Hy stuur Sy Heilige Gees wat die geloof in ons werk. God red sonder enige verdienste van ons kant af. Hy betoon sy genade vrylik. Hy gee dit as ‘n geskenk. Die liefde en genade van God sal ons nooit kan verstaan nie.
Al wat Jesus vra wanneer Hy ons roep tot oorgawe aan Hom, is om in Hom te glo en volkome te vertrou. Hierdie transformasie is beskikbaar vir elkeen deur die genade van God! God se goedheid is die bron waaruit ons verlossing geskenk word, sonder enige verdienste (Rom. 3:23). Al wat ons moet doen is om ons sondige lewe, aan Hom toe te vertrou. God se eindelose genade is daar om ons eindelose sonde te vergewe en te vergeet, sodat ons in Sy vreugde kan leef. Al is ons sondaars, ons is sondaars wat vergewe is!
“Hierdie een onwankelbare rots, (Sola Fide), wat ons die leer van vryspraak noem ... is die belangrikste artikel van die hele Christelike leer wat aan ons ‘n volledige verstaan van ons kennis van God bied” (Martin Luther).
Gebed: Dankie Vader, daar is niks verdiensteliks in wat ek sê of doen nie, maar tog hou U aan om my in U groot genade aan te sien en my deur U krag, van struikeling bewaar. Amen.
Commentaires