top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 15 Maart 2022

Koos Espach


Petrus kry opnuut sy opdrag (1)


Agapé liefde


Joh. 21:15-17 – “Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: ‘Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?’ Ja, Here,’ antwoord hy Hom, ‘U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Laat my lammers wei.’ Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: ‘Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?’ ‘Ja, Here,’ antwoord hy Hom, ‘U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Pas my skape op.’ Jesus vra hom ‘n derde keer: ‘Simon seun van Johannes, het jy My lief?’ Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: ‘Het jy My lief?’, en hy antwoord Hom: ‘Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Laat my skape wei.”


Jesus en sewe van Sy dissipels bevind hulle by die see van Galilea, dieselfde plek waar alles ongeveer drie jaar gelede begin het. Nadat hulle klaar geëet het en rustig bymekaar was rondom die vuur, rig Jesus Hom tot Petrus. By geleentheid toe Petrus by ’n ander vuur in ander geselskap gesit het, het hy Jesus drie maal verloën. Daarna het hy diepe berou gekry (Matt. 26:75) en weer by die ander dissipels aangesluit. Maar in die kring van die dissipels het hy seker gevoel dat sy aansien skade gely het omdat hy die Here verloën het. Hy was altyd gesien as die leier van die twaalf, maar hy het diep en ver geval.


Petrus het seker gewonder of hy steeds in die besondere diens van dissipel van die Here sal mag dien nadat hy Hom so openlik verloën het. Hy is beslis nog nie weer die betroubare en selfversekerde dissipel wat hy was en moet wees nie. Met sy “misdaad” in die binneplaas van die hoëpriester se huis, het Petrus homself onwaardig ge-ag om weer in die besonderse beroep van dissipel te staan.


Jesus vra Petrus drie maal of hy Hom liefhet, asof Hy vir Petrus die geleentheid wil gee om met sy drievoudige liefdesverklaring, sy drievoudige verloëning, wil vernietig. Petrus was moontlik ontkant betrap deur die liefdesvrae, want hy het eerder verwag dat Jesus hom sou verwyt. Jesus het egter vir hom gebid (Luk. 22:32) én vir hom gesterf, én vir hom opgestaan!


Jesus se drieledige vrae het hom bedroef gemaak en hy moes beskeie erken dat Jesus alles weet, ook van sy begeerte om weer deel van hierdie intieme vriendekring te wees. Om saam te eet is immers ’n sterk simboliese bevestiging van ’n vriendskapsverhouding. Op sy eie sou Simon net Simon bly. Maar met sy vertroue in die Here Jesus Christus, sal Simon, weer Rotsman Petrus wees, die een wat die Here wil gebruik om sy broers te versterk, en om Sy kerk, op daardie Rots te bou.


Petrus word deur Jesus se herhaalde opdrag in sy amp herstel en moet die verantwoordelikheid vir die versorging van die kudde van die Here op hom neem. Petrus wie se geloof hom gefaal het (Luk. 22:31-32), kry daar langs die viswaters van Tiberias, ‘n nuwe lewe, hy kry die opdrag om Jesus se aardse “skape”, pastoraal te versorg. Die bedoeling is stellig nie dat Petrus alleen hierdie besondere opdrag kry nie, dit is ook die roeping en taak van die ander dissipels, ook vir ons dissipels van die 21ste eeu, om vir die skape van die Here te sorg. Die opdrag om die “lammers” te laat wei, het nie net op kinders betrekking nie, maar verwys ook na die swakkes in die geloof.


Dit is egter menslik om te twyfel wanneer ons so diep in sonde verval het – sal ons weer in diens van die Here kan wees? Ons het wel die persoonlike versekering dat ons vergifnis ontvang het, (1 Joh. 1:9), maar mag ons weer die Here in die werk dien wat Hy aan ons gegee het? Ja, beslis! Ons onbetaalbare skuld is ten volle aan die kruis betaal. Jesus maak ons soos vir Petrus, as’t ware los van ons bestaande verhouding en stel ons voor ‘n keuse van ‘n nuwe verhouding. Hy gee ons ‘n tweede, selfs ‘n derde kans. Die pad waarop Jesus vir Petrus na Hom toe teruggebring het, is ‘n hernude toewyding aan die Here en dít is die pad van ʼn Christelike lewe. Dit gebeur egter nie net een maal nie, bekering is ‘n aanhoudende en langdurige proses. Dit bly aanhoudende bekering – ons sterf die ou mens aanhoudend af en aanhoudend wek die Heilige Gees die nuwe mens in ons op. Die Heilige Gees laat ons voortdurend groei in die geloof.


Vergifnis van skuld en sonde, is beslis ʼn heerlike wonder waarin elke ware kind van God mag deel. Die heerlikheid van hierdie wonder is om seker te wees dat God nooit weer aan die sonde waarvoor ons om vergifnis gesmeek het, wil dink nie. Die Here loop nie met ‘n notaboekie en maak aantekeninge van die sondes wat Hy ons vergewe het nie: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af” (Ps. 103:12).


“Dit neem enkele minute om ‘n sonde te begaan, maar dit neem nie eens só lank om God se genadige vergifnis te ontvang nie. Berou en belydenis behoort lewenslank aan te hou” (Hubert von Zeller).


Gebed: Here, ek voel soms só onwaardig om in U diens te mag staan. Dankie dat my onbetaalbare skuld, ten volle betaal is aan die kruis. Dankie dat U my ‘n tweede, selfs ‘n derde kans gee om my sondes te bely en dat U nooit weer terugkom om my daarmee te konfronteer nie. Op my eie is ek niks en tot niks goed in staat nie, maar “ek is tot alles in staat deur U wat my krag gee” (Fil. 4:13). U genade en vergifnis oorweldig my, ek loof en prys U Naam daarvoor. Ek wy myself opnuut en met dankbaarheid aan U. Amen.

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page