top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 18 Januarie 2022

Koos Espach


Jesus word gekruisig – Die Via Dolorosa (2)

(Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43; Joh. 19:17-27)


Jesus word van alle menslike eer gestroop


Joh. 19:17 – “Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.”


Vergelyk ook Luk. 23:27-28 en 30 – “’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: ‘Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ..., want daar kom dae waarin hulle sal sê: Berge val op ons, heuwels bedek ons!”


Jesus se belaglike verhoor is verby. Omring deur “’n groot menigte” sensasiebeluste skare, word Hy weggelei na Golgota. Gebroke, uitgeput, verwond en bebloed, ontsettend eensaam, nêrens is een van Sy dissipels te hoor of te sien nie. Ten spyte van al hierdie wreedheid was Sy skouers daardie “Verskriklike Vrydag” breed genoeg om al ons oortredinge saam met Hom Golgota toe te dra.


Soos ‘n begrafnisstoet beweeg almal na Kopbeenplek toe wat buite die stadsmure geleë is. Die verskil tussen hierdie begrafnisstoet en ‘n stoet wat ons ken, is die persoon in ons hedendaagse stoet reeds dood, terwyl Jesus nog na Sy dood gelei word. Heel voor stap ‘n Romeinse offisier met ‘n kennisgewing om die redes vir die teregstelling aan te dui – eenvoudig: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Dit was die gebruik om moontlike toekomstige oortreders te waarsku en af te skrik.


Agter hom begelei vier Romeinse soldate vir Jesus en twee misdadigers, wat saam met Hom gekruisig gaan word. Vir die soldate was dit maar net nog ‘n gewone werksdag. Teregstellings van hierdie aard was deel van hulle werksroetine – die kruisigingsdood vir die keiser se vyande was die norm. Die feit dat Jesus, die Lydende Regverdige is wat onskuldig gaan sterf, maak vir hulle nie saak nie. Al wat hulle moontlik in gedagte gehad het, was om hierdie kruisiging so gou as moontlik afgehandel te kry.


‘n Deel van die stoet was volgens Lukas, “vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.” Te midde van al die spot, haat en ongevoeligheid van die skare, was daar darem ‘n paar vroue wat meegevoel met Jesus gehad het. Of was hulle dalk daar as deel van die Joodse tradisie, vroue wat normaalweg, by die dood van geliefdes gehuil het en nie regtig getreur het nie? Vir ’n oomblik het Jesus van Sy eie pyn en lyding vergeet en omgedraai na die huilende groepie vroue en gesê: “Moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ...” ‘n Mens sou dink dat Jesus hulle wou bedank vir hulle simpatie, maar Sy ferm optrede is onbegryplik? Dit is menslik om te dink dat Jesus hulle simpatie sou waardeer, maar dan uiter Hy hierdie, amper aanvallende woorde. Waarom?


Te midde van Sy swaar kruislas, pyn en bespotting, wéét Jesus dat Sy lydensweg nie by Golgota gaan eindig nie, wéét Hy dat dit nie ‘n doodloopstraat is nie! Hierdie reis op die lydensweg deur die “donker tonnel” was maar net ‘n tydelike deurgang na die ewige lig toe, die lig van Sy verheerlikte opstanding en oorwinning oor die dood. Jesus weet waarheen Hy op pad is, maar weet die vrouens, die omstanders, weet ons, wat die eindbestemming is? Wanneer Jesus die groepie huilende vroue agter Hom aanspreek, rig Hy eintlik Sy waarskuwing aan die hele volk, aan die wêreld en al hulle nageslagte wat nog uit hulle gebore sal word. Jesus verwag nie simpatie nie, Hy verwag dat mense die Waarheid moet erken, Hy verwag geloof in Hom, berou en bekering.


‘n Rukkie gelede was hulle moontlik nog deel van “Sy eie mense en die wêreld wat Hom nie erken en aangeneem het nie” (Joh. 1:11), deel van dié wat Hom verwerp het. Dáárom behoort Jesus eintlik vir hulle te sê: “Huil, vroue van Jerusalem, julle het die dood bo die Lewe gekies. Ek verseker julle, vroue van Jerusalem en almal wat wil luister: Wanneer God se oordeel oor almal val wat My nie aangeneem het nie, sal hulle sê: “Berge val op ons, heuwels bedek ons!”


Is dit nie waarom ons ook soms treur nie – die sonde wat ons opvreet terwyl ons dit maar net by God moet los – voor dit te laat is? Daar is baie mense wat trane stort met hulle oë, maar nie met hul harte nie. Daar is menigtes wat treur oor die gevolge van hulle sondes maar wat nie ‘n duit omgee wat God daaroor dink nie. Laat dit tog nie een van ons wees nie. Laat ons treur oor ons sondes en uit afhanklikheid soek na God se vertroosting want sonde is ‘n verbreking van ‘n liefdesverhouding met God, en daaroor mag en kan ons huil.


“God se Kind het mens geword sodat mense God se kinders kon word” (Martin Luther).


Gebed: Jesus, ek huil saam met die vroue van Jerusalem, nie oor U keuse om te sterf nie, maar oor myself, want in U lyding sien ek wat ek eintlik verdien en wie ek werklik is. Here, my trane oor U lyding is die gevolg van my berou oor my sonde wat U soveel pyn gekos het. Dankie dat U my hartseer oor my sonde verander het in die heerlike vreugde van U ontsettende ontferming. Nou kan ek jubel: “Daar is ‘n dierbare kruis, waar my Heiland bewys die liefde wat Hy vir my het.”Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page