Gedagte vir Vandag
Donderdag, 30 September 2021
Koos Espach
Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (7)
Jesus wys sy verraaier aan (3)
Liefde se laaste appél
Matt. 26:23 en 25 – “Jesus antwoord toe: ‘Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai.’ Toe sê Judas, sy verraaier: ‘Is dit miskien ek, Rabbi?’ Jesus antwoord: ‘Dit is soos jy sê!”
Vergelyk ook Joh. 13:27-30 – “En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: ‘Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!’ Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie. Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: ‘Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,’ of dat hy iets vir die armes moes gaan gee. Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.”
Jesus noem nie die naam van Sy verraaier nie, maar wys hom aan met ’n plegtige handeling deur ’n stukkie brood in die sous te doop en aan Judas te gee. Judas aanvaar die stukkie brood uit die hand van Jesus en daarmee word die keerpunt in sy lewe bereik. Judas kies finaal: die Satan neem die beheer van sy lewe oor. Dít nadat Jesus vyf keer vir hom die geleentheid gegee het om sy moordplanne te laat vaar (Joh. 13:11; Matt. 26:21, 23, 25). Ongelooflike enorme stuk onvermoeide, en verkwiste liefde vir ‘n verraaier! Dit laat ‘n mens sprakeloos wanneer ons aan Jesus se liefde vir Judas dink. Dit is hoe God van liefde lyk en hoe Hy optree!
“Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.” Dit was letterlik en figuurlik nag! “Dit was nag” vir Jesus: Die verraad teen Hom het hier begin, die pad begin na die kruis toe draai! Die hele proses wat sou lei tot Sy arrestasie; die klug van getuienisse teen Hom; verraad van verhore wat Hy sou beleef in die hoëpriester se huis; verloëning van Petrus wat Hy moes aanhoor en aanskou; die vreeslikste vernederings; die skandelike onskuldigbevinding en tog, ’n doodsvonnis; ‘n jillende skare van Sý mense, Sý volk wat hulleself finaal afsny van die Koning van die Jode en só van God af met die verdoemende: “Kruisig Hom!”; die onbeskryflike liggaamlike lyding, eers van geseling en dan die ironie van ‘n Koning wat gekruisig word! Die daaropvolgende diepste geestelike nag wat daar vir enigiemand kan wees: om deur God verlaat te word. Dit was nag vir Jesus!
“Dit was nag” vir Judas – Hy het besluit om die Ewige Lig te verlaat waar hy gekoester was en liefde ontvang het. Hy stap uit die teenwoordigheid van die Lig van die wêreld, in die donker nag in waarin hy deur die vors van die duisternis gebruik gaan word om die magte van die duisternis op Jesus los te laat. Hy verruil dit vir die ewige duisternis! Sy lewe word nag, sy lewe het verander deur die verkeerde keuse, ‘n sondige keuse te maak om die Lig te verruil vir die ewige donkerte – ‘n VERSKRIKLIKE VERKEERDE EN VERDOEMDE KEUSE!
Hy stap daar uit om iets te gaan doen waaroor hy later bitter spyt sou hê – nie ware berou wat deur die Heilige Gees in ’n mens bewerk word nie, maar blote menslike spyt omdat hy ’n onskuldige Mens verraai het en steeds nie hom tot God te wend, waarmee sy lewe so nou verweef was nie. En die gevolg daarvan – die ewige dood! Judas se spyt (Matt. 27:3b) was te laat! Dit is altyd nag wanneer ‘n mens Christus verlaat om sy eie keuses te volg; dit is altyd nag wanneer haat, die Lig van die liefde vervang; dit is altyd nag wanneer ‘n mens sy rug op Jesus draai! Dit was nag vir Judas!
Maar vir mense wat na Jesus toe kom is daar hoop – “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh. 1:3-5). Selfs in die skadukolle van ons gelowiges se pelgrimsreis na ons eindbestemming toe, is daar altyd die lig van Sy krag wat help, van Sy beloftes wat hoop gee, van Sy troos wat vrede bring. In plaas van donkerte van verderf het ons die lig van vrede en seën; in plaas van die donkerte van die dood wat ons tref, ontvang ons die lig van die lewe; in plaas van die donkerte van onkunde, die lig van kennis; die donkerte van die sonde, die lig van genade en redding, en hierdie redding, het ‘n totale ommekeer in my en jou lewe veroorsaak.
“Mense van God is hulle wat deur die donker wêreld stap – en in hulleself ‘n Lig dra” (Felix Adler).
Gebed: Here, maak my bereid om die sonde wat donkerte bring, te vermy. Skud my wakker! Neem my weg van die duisternis en laat my toe om in U ewige Lig te wandel. Dit is asof die donkerte my so maklik oorheers terwyl ek eintlik in die lig wil wees. U is die skeiding tussen lig en donker en waar U is, is daar lig en ewigdurende lewe. Help my asseblief om in U lig te bly en dat die duisternis my nooit oorwin nie. Amen.
Comments