Gedagte vir Vandag
Vrydag, 27 November 2026
Koos Espach
Moenie julleself behaag nie (Rom. 15:1-13)
Die evangelie is vir alle mense (3)
Lofprysing aan God
Rom. 15:7-9 – “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ‘n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: ‘Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.” (3)
Paulus beklemtoon verder dat Jesus nie net gekom het om dienaar te wees nie, maar dat Hy “ook gekom het sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik ...” Christus het dus albei groepe, Jode en nie-Jode, ons inkluis, onvoorwaardelik aanvaar. In werklikheid vorm verse 9 tot 12 ‘n loflied waarin alle nasies saam met die Jode ‘n massakoor vorm om God se lof te besing. En dit gebeur op grond van die heilswerk van Christus waaraan hulle, en ons, saam deel gekry het. Onvergelyklik heerlik!
Hoe kan ons so seker wees van God se ontferming, seker wees dat die genade-aanbod ook aan my en jou gemaak word? Paulus sê ons moet ons hierin deur die Heilige Gees laat lei. Die Heilige Gees is spesiaal gestuur om ons hiervan te oortuig. Die Heilige Gees is die Vader en die Seun se teenwoordigheid by ons, in ons. Hoe die Gees dit doen, weet ons nie heeltemal nie. Dis soos ‘n misterieuse werking, ‘n influistering, ‘n oortuiging – maar dis ‘n kragtige werking wat ons eintlik nie kan weerstaan nie. Dat die Gees egter wel in ons werk, ons help glo, ons oortuig dat ons kinders van God is, dit staan vas. En juis daarom, omdat dit nie óns is wat self “Abba” uitroep nie, maar die Gees wat ons dit laat uitroep, selfs namens ons roep!
Daarom is dit so ‘n groot genade-ding, ‘n onverdiende geskenk, ‘n “groot ontferming.” Ons kan maar net saam met die psalmdigter beaam: “Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing” (Ps. 18:50). Trouens, daar kom meer as 60 lofpsalms in die Psalmboek voor. Is dit nie genoeg rede om ons hele lewe in een groot loflied aan God te wy nie?
En tog, is daar miljoene mense dwarsoor die wêreld wat hunker na sekerheid oor God. Soos Job vra hulle: “As ek maar net geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê” (Job 23:4-5). Sommiges probeer hulle hunkering onderdruk deur te beweer dat hulle nie in godsdiens belangstel nie. Baie stel nie eers belang om hulle hunkering in ‘n kerk te gaan bevredig nie. Só, sal hulle hunkering, hulle soektog na God nóóit bevredig word nie en sal hulle soekend bly!
Die Heilige Gees getuig oor Christus en sy verlossingswerk, en die Heilige Gees gebruik die Woord van God om ons daarin te oortuig. Dis die Gees wat ons oortuig dat Christus deur sy kruis en opstanding ons kinders van God gemaak het – uit genade alleen. Ons kan nie God se genade verstaan nie; sy onverdiende ontferming vir ons is groter as wat ons kan sê of dink. Ons kan net saam met Paulus in verwondering daaroor ‘n loflied aanhef: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë ...” (Rom. 11:33-34).
Lofprysing sal altyd deel wees van ons gelowiges se aanbidding. Wanneer ek en jy in God se teenwoordigheid is en werklik tyd saam met Hom deurbring, sal ons meer en meer in aanbidding erken: “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien” (Ps. 103:13). Wanneer ons na Hom toe gaan en eenvoudig glo dat Jesus gestuur is om vir ons te ly, word God se Vaderhart oorweldig met ‘n deernis wat ons skaars kan begryp. Dit is daarom onmoontlik dat ons nie anders kan as om elke dag “tot eer van sy Naam ‘n lofpsalm te sing nie.” Elke dag te sing: “Ek wil die Here prys solank ek lewe, ek wil die lof van my God besing solank ek daar is” (Ps. 146:2).
“Lof is nie net ‘n uitdrukking van ons vreugde oor God nie, dit is ook die voltooiing daarvan” (CS Lewis).
Gebed: Heilige Gees wat in my lewe, dankie dat U my in staat stel om met Vader te praat. Help my om elke dag myself te wy om God se lof voortdurend te besing solank ek nog lewe. Tot eer van sy Naam. Amen.
Comments