top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Sep 30, 2020
  • 5 min read

30 Sept 2020

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)

JESUS MAAK BAIE SIEKES GESOND (1)

(Mark. 7:31-37)

DIE GENADE VAN JESUS; STILBLY OF NIE?

Matt. 15:29-31 – “Jesus het daarvandaan vertrek en by die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit. Baie mense het na Hom toe gekom met verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander, en hulle voor Hom neergesit. Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.”

Vergelyk ook Mark. 7:31-35 – “Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. Die mense bring toe ‘n dowe man wat ook ‘n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: ‘Effata!’ Dit beteken: Gaan oop! Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat.”

Jesus is steeds besig met sy saaiwerk. Sy missie is om die koninkryk van God te laat kom, en Hy “vertrek uit” Tirus en Sidon en gaan volgens Matteus, tot “by die See van Galilea.” Markus voeg by dat Jesus en Sy dissipels aangekom het in die gebied van die Griekse stede, die Dekapolis (tien heidense stede), suid van die See van Galilea. Sonder om verdere besonderhede oor die geografiese plasing te gee, suggereer Matteus dat ons hier met ’n heidense skare te doen het, want hy verwys daarna dat “hulle die God van Israel geprys het.” Dit sou impliseer dat Jesus “teen die berg opgegaan het” om nou as Leermeester ook vir die heidene op te tree.

Van alle kante is daar nou ’n toeloop na Jesus toe en Sy bediening van genesing van verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander siekes wat die mense voor Jesus neergesit het, neem net toe. Van die talryke genesinge vertel Markus in besonderhede van ’n “dowe man wat ook ‘n spraakgebrek gehad het”, feitlik ’n doofstomme. Om met die enkeling die beste te kan handel, neem Jesus hom apart van die skare en verrig Hy sekere handelinge. Hy steek Sy vingers in die dowe se ore en met spuug aan die vinger, roer Jesus sy tong aan. Daarna kyk Hy na die hemel en roep sy Vader se hulp in met slegs ‘n versugting van gebed, spreek ’n genesingsbevel uit en die man is genees!

Jesus kon net ‘n woord gespreek het en die doofstomme sou onmiddellik, weer kon hoor en praat. Hy besluit egter om hier anders te werk te gaan deur onreine spoeg te neem en aan sy tong te smeer. In die volksgeloof is spoeg soms as geneesmiddel vir sekere kwale beskou. Vandag sal menigte mense dit as walglik beskou. Die Fariseërs wat geglo het mens mag nie met onreine hande eet nie (v. 1), sou seker ‘n koronêr geskiet het as hulle dit gesien het. Maar, vandag is daar darem niks beter as mamma se bietjie spoegies aan ‘n kind se skaafmerke nadat hy of sy geval het nie. En waar gaan die vinger heen as mens dit gebrand het? Mond toe! Die middel wat Jesus aanwend, is bysaak; hoofsaak is die bevel wat nie net betrekking het op die liggaamlike genesing nie, maar gerig is tot die hele mens wat deur Satan toegesluit was. Die gebondene word dadelik bevry; ’n mens word verlos uit die mag van die Bose – eers keer die gehoor terug, dan kom die beweging van die tong en daarna die spraak.

Met sy genesing ontstaan daar ‘n merkwaardige reaksie! ‘n Mens sou verwag dat die doofstomme sou juig en op en af gespring het van vreugde terwyl hy dit uitskreeu: “Ek kan hoor, ek kan praat!” Maar al wat Matteus en Markus na verwys is die effek hiervan, is die verwondering by die skare en dat die “God van Israel geprys word”. Jesus het ook die mense belet dat sy wonderdaad nie bekend gemaak moes word nie. Maar vir diegene wat so ’n aangrypende genade ondervind het, is dit egter nie moontlik om te swyg nie. Kontrasterend met Jesus se eie mense, getuig die heidene met krag en vreugde. Die gebeurtenis het ’n diep indruk gemaak by hulle. Hulle het daarin die openbaring van die heerlikheid van die God van Israel gesien, in Wie se Naam Jesus gekom het en dat Hy alles goed gedoen het (Mark. 7:36-37).

Lyding bly seker een van die grootste misteries van ons menslike bestaan. Meeste mense wil altyd 'n verduideliking hê wanneer dit kom by siekte, lyding, rampe en dood. “Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense – soos wat ons die afgelope paar weke ervaar het ook in ons gemeente? Waarom ly party meer as ander? Hoe kon dit? Wat is die verklaring hiervoor? Hoekom ek? (Hoekom nie ek nie, wat maak my beter as die volgende persoon?) Wat het ek gedoen om dit te verdien?” En wanneer die antwoorde wegbly, is ons geneig om uit te roep: “My God, waarom het U my verlaat?” (Matt. 27:45).

Helaas is siekte, hartseerdinge en dood deel van ons aardse bestaan, maar dan besef ons dit is maar net ‘n floue afskynsel van die liggaamlike en geestelike pyn wat Jesus aan die kruis vir ons moes ly. Ons liefde vir God is nie ‘n waarborg dat ons kommervry deur die lewe sal gaan nie. Ons het egter die versekering dat wanneer dit ons tref, God ons nie alleen los in ons lyding nie (Jes. 41:10; 13). Baie mense sal kan getuig hoe hulle God se omgee ervaar het tydens een of ander krisis, hartseer of swaarkry. Lyding en swaarkry kan ‘n beproewing wees, dit lei mens na die eina’s en amen’s van die lewe, maar dit eindig gewoonlik tot ‘n aanvaarding dat alles wat met ons gebeur – ook die lyding en beproewing – in die raadsplan van God vir ons ten goede meewerk. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is” (Rom. 8:28).

“Die wonderwerke van Jesus was die alledaagse werke van Sy Vader, op ‘n geringe skaal en spoedig verrig sodat ons dit vandag kan inneem” (George MacDonald).

Gebed: Dankie Vader dat U die God is vir die lydendes sonder moed! Dankie dat ek U kan vertrou wanneer ek krisisse beleef, wanneer dit voel asof ek die stryd hopeloos verloor. Dankie dat ek Jesus deur U Gees in my kan beleef wanneer ek breekpunt bereik! Ek weet ek is nie alleen nie en wanneer ek op my swakste is, is die kanse groter dat U wonderwerke sal verrig, as wanneer ek op die kruin van die suksesgolf ry. Dankie dat ek my teleurstellings, probleme, siekte, lyding en swaarkry na U toe kan bring en U juis dan daar is om U Goddelikheid deur U werke bewys. Gee dat ek nooit sal ophou om voor U in afhanklikheid, in gebed te kniel nie. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2)   Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...

 
 
 

Kommentare


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page