top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE MENSE – DIE GELYKENIS VAN DIE ONKRUID TUSSEN DIE KORING.


GELOOF IN GOD SE TYDSBEREKENING!


Matt. 13:24-30 – “Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: ‘Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: …” (Lees asb. die res van die perikoop self. Dit word ook in die konteks vermeld.)


Ná die gelykenis van die saaier, vertel Jesus vir die mense wat saamgedrom het om na Hom te luister, nog ‘n gelykenis uit die landbou-beeld. Sy hoorders kon hulle goed daarmee identifiseer want, ten spyte van ‘n Romeinse wet wat verbied het dat mense uit wraak onkruid in iemand anders se land saai, was hulle vertroud daarmee dat mense mekaar, veral snags, skade berokken het deur gesaaides af te sny, aan die brand te steek of onkruid tussen die koring te saai. Die probleem was om die koring tussen die onkruid te hanteer, want die tipe onkruid waarna hier verwys word, was waarskynlik “drabok of malpitte” wat baie soos koring lyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes, en die verskil dan duidelik sigbaar was.


Die slawe is van mening dat alles wat in die land opkom die boer se werk is. Verbaas en verward oor die teenwoordigheid van die onkruid, wou hulle by hom weet of hy dan “nie goeie saad op sy land gesaai het nie en waar die onkruid dan vandaan kom?” (v. 27). Hulle aanvaar ook sommer dat hulle weet die boer “wil hê hulle moet dit gaan uittrek” (v. 28b). Maar vreemd genoeg, weier hy en voer die rede vir sy besluit aan dat indien “hulle die onkruid nou bymekaarmaak, hulle die koring saam sal uittrek” (v. 29).


Die probleem is nie dat die onkruid wel verwyder moet word nie, maar wánneer dit moet gebeur. Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat dit só eenders gelyk het en die wortelstelsels van die koring en onkruid verstrengel geraak het, is dit ook ter wille van die koring wat die slawe se versoek eers afgewys word. Die boer beveel derhalwe dat “altwee saam groei tot met die oes” (v. 30). Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en “verbrand word en die koring in die skuur bymekaargemaak word” (v.30).


Met hierdie gelykenis wil Jesus aan ons verduidelik hoe die “koninkryk van die hemel”, oftewel, die “koninkryk van God” werklik is. Jesus vertel die gelykenis in terme van ons werklikheid en hierdie werklikheid, en dis vir ons miskien vreemd – dis die gemengde werklikheid waarbinne gelowiges moet saamleef met ongelowiges, en hulle “wortels verstrengel raak”. Soos daar op die saailand onkruid tussen die koring opskiet, so saai die duiwel sy gifsaad waar Jesus klaar met sy Woord oor mense se lewensakker geloop het, nogtans waarsku Hy hier daarteen om voortydig die onkruid en koring te wil skei. Die koninkryk bring inderdaad verdeling, maar die finale skeiding is God se saak en sal gebeur in Sy tyd. Dit is nie vir die mens om daaroor te besluit nie.


Ten diepste gaan dit oor die vermoë om die tyd reg te beoordeel. Dit gaan oor God se verdraagsaamheid en geduld. Dit is nie ons gelowiges se roeping om negatief teenoor die ongelowiges te wees nie. Verder is dit so dat die Here nog kan wag omdat Hy sy saad ken. Ons as gelowiges kan soms nie God se geduld begryp wanneer onreg en die kwaad, verwoesting in menselewens saai nie. Ons voel byvoorbeeld dit is onregverdig dat die skelms en misdadigers “lekker leef” as gevolg van hulle korrupsie, terwyl geen aksie teen hulle geneem word en miljoene rande van belastingbetalers se geld verkwis word.


Maar, troos jou daaraan, wanneer die koringoes ingesamel word, word “die onkruid bymekaar gemaak, in bondels gebind en verbrand” (v. 30). Aan die einde van God se genadetyd sal Jesus self die slegte mense van die goeies kom skei en “die koring na Sy skuur toe bring.” Dit is nie vir ons om te oordeel nie, ons oordeel sal dalk die gesonde koring van God ook beskadig. Ek en jy moet eerder na ons eie verhouding met die Here kyk sodat ons seker kan wees dat ons deel is van die oes wat na “Jesus Christus se skuur toe gebring word”, en nie tussen die onkruid beland wat “in bondels verbrand word nie!”


In die tye wat ons nou belewe, kan Christenwees uit net twee dinge bestaan: baie bid en baie goed doen onder die mense. Alles wat ons dink, praat of beplan moet gebore word uit hierdie toewyding aan gebed en liefdadigheid” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Ek loof en dank U Here, dat ek deur Jesus Christus aan U koninkryk kan behoort. Inspireer my met begeerte deur u Gees, om my wortels diep af te laat gaan in die vrugbare grond van die blywende ewigheidswaardes wat U vir ons bied. Help my om my deel by te dra om U koninkryk met liefde, uit te brei. Amen.

Recent Posts