Gedagte vir Vandag
JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.
(Matt. 13:1-53)
DIE DOEL VAN DIE GELYKENISSE (1)
(Mark. 4:10-12; Luk. 8:9-10)
OË WAT SIEN EN ORE WAT HOOR!
Matt. 13:10-17 – “Die dissipels het vir Jesus kom vra: ‘Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?’ Hy het hulle geantwoord: ‘Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê …” (Lees asb. verder vanaf vers 14 tot 17.)
Die “Evangelie volgens Matteus” is die enigste van die vier evangelies wat Jesus se vyf preke, of toesprake, saamvoeg in sogenaamde blokke. Ons het reeds na Jesus as ons groot “Leermeester” geluister, terwyl Hy die wil van God proklameer het met die mooiste preek óóit in “Die Bergrede” (Matt. 5-7). In hoofstuk 10 hou Matteus, Jesus se “Uitsendingsrede” aan ons voor wanneer Jesus sy verkose twaalf dissipels met gesag beklee om soos Hy, die boodskap van die “koninkryk van die hemel” onder Israel te gaan verkondig, mense gesond te maak en wonders te doen.
Tot dusver was Jesus se bediening meer tot die skares gerig, maar nou vanaf hoofstuk 13, “Die Koninkryksrede”, begin Jesus meer op die onderrig van Sy dissipels toespits, daarom verduidelik Jesus eers aan Sy dissipels wat die geheim van die koninkryk van die hemel oftewel, koninkryk van God is, en waarom húlle dit verstaan, maar die skare en die Joodse godsdiensleiers nié. Jesus gebruik veral gelykenisse om die “koninkryk” as tema te verduidelik. Jesus begin dan om gelykenisse te gebruik waarin Hy, aan die hand van bekende voorbeelde uit die alledaagse lewe, illustreer hoe sy Vader se koninkryk daar uitsien, en begin met die “gelykenis van die saaier”.
Die gelykenis bestaan uit twee dele: die storie self en Jesus se verklaring daarvan. Tussen die twee dele, voeg Matteus ‘n ander gedeelte in. Om die deurlopende verband van die gelykenis te behou, gaan ons eers na die ingevoegde deel – “Die doel van die gelykenisse”, verse 10-17 – kyk en daarna na die gelykenis self.
Nadat Jesus die gelykenis van die saaier aan die skare voorgehou het, wou die dissipels by Hom weet waarom Hy in gelykenisse met die mense praat? Sy vreemde antwoord was kernagtig: “omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie.” Maar Jesus, met respek, is gelykenisse dan nie juis ‘n storie wat veronderstel is om iets wat moeilik is, met ‘n voorbeeld uit die gewone lewe verstaanbaarder te maak nie? Om een of ander rede het Jesus se doodgewone verhale, vir baie mense onverstaanbaar gebly. Kortom, mense luister sonder om te hoor, kyk sonder om te sien – horende doof, sienende blind en harde harte.
Dit mag miskien lyk asof die gelykenisse bedoel is om die oë en ore van die menigte toe te maak, asof God hulle onregverdig hiermee wil benadeel en hulle kanse tot redding verswak: “Vir dié wat buite is, bly alles net gelykenisse sodat hulle kyk en kyk en tog nie sien nie, en hoor en hoor en tog nie verstaan nie, dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie” (Mark. 4:12). Dit is egter nie die geval nie. Dis nie God se skuld nie, die volk en die ongelowiges ontvang ook die gelykenisse, maar hulle onkunde toon dat dit as gevolg van die eie toedruk van hulle ore, toemaak van hulle oë, en harte wat nie wil verander nie, is.
Dié wat moes reageer op Sy woorde, staan buite. Hoe hartseer dat mense Jesus die rug toekeer omdat hulle nie regtig in die dinge van God belangstel nie. Mense wat nie in Hom as die gestuurde Messias glo nie en beplan om Hom dood te maak. Daarom haal Jesus uit Jesaja 6:9-10 aan en gebruik Israel as voorbeeld wat aanhoudend ontrou en ongehoorsaam aan die Here was, met die gevolg dat Hy besluit het om hulle te verwerp. Hy verklaar dat dit God is wat die verharding in die harte van die Jode gebring het. Die bedoeling is dat hulle sélf ’n beslissing moes neem toe hulle Jesus se prediking gehoor en Sy wondertekens gesien het om hulle te bekeer, maar solank as wat hulle buite staan en Hom verwerp, is daar geen omdraaikans nie.
Daarmee gee Jesus uitdrukking aan die misterieuse kant van God se genade. God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil. Hy het hulle horende doof en sienende verblind met die “tipe Messias” wat Hy vir hulle gestuur het, 'n Messias wat die gestalte van 'n dienskneg het, wat dien, wat voete was, wat met sondaars saamkuier. Aan die ander kant maak hierdie Messias daarop aanspraak om die heerlikheid van God self te wees! En baie van die volk het besluit: “Nee, só ‘n Messias kan nie aanvaar word nie.” Deur hulle doofheid en verblinding gee hulle, hulle Messias oor aan die dood van die kruis. Gelykenisse help en bemagtig dus dié wat gehoorsaam en ontvanklik is. Gelykenisse dwarsboom en ontmagtig dié wat nie gehoorsaam en ontvanklik is nie.
Tot vandag toe is talle kerkmense geestelik blind en horende doof. Hulle luister gereeld na preke maar steur hulle nie veel aan wat Jesus sê nie. Hulle doofheid vir Sy lewensveranderde woorde maak dat hulle lewens yskoud bly. Een van die redes agter alle ongeloof en neutraliteit teenoor Jesus van Nasaret, die Seun van God, is die mens se geneigdheid om die eer van die méns, bó die eer van God, lief te hê. Die mens se mens-liefde! Katastrofies! Dit was die wortel van Israel se ongeloof en vandag nog die wortel van álle ongeloof. Kom spits saam met my jou ore wanneer Jesus aan die woord kom. Laat die Heilige Gees toe om ons te oorweldig met die eenvoudige maar lewensveranderde woorde van Jesus, dit is ‘n kortpad na God se hart! Kom ons kyk tótdat ons sien en luister tótdat ons hoor – “wie ore het om te hoor moet luister” na elke aardskuddende woord van ons Heiland!
“Daar is niks erger as die misdadigheid van ongeloof om Jesus nie te wil vertrou nie – om te dink wié Jesus is, wát Hy gedoen het en vir wié Hy dit gedoen het, en steeds nie in Hom glo nie! Daar is geen boosheid so afskuwelik soos die boosheid van ongeloof in Jesus Christus nie”
(Dr. Heugh – Skotland [19de eeu]).
Gebed: Here, hoe kan ek bid dat U koninkryk moet kom, as my koninkrykie nog belangriker is, U wil geskied terwyl my wil nog die voortou neem. Heilige Gees, ontwikkel my sintuie, skenk my geestelike sig en gehoor terwyl ek saam met U wandel. Laat my Jesus se stem bo die lawaai van die wêreld se stemme hoor. Laat my koers hou in ‘n wêreld vol verwarrende omstandighede. Maak my fyngevoelig vir U werk rondom my en dankie vir U wonderdade rondom my, in my en vir my. Ek kan net in verwondering prewel: Hoe groot is U! Amen.