Gedagte vir Vandag
JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.
(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)
JESUS STUUR DIE TWAALF UIT – DRAERS VAN DIE GOEIE NUUS (1).
(Mark. 3:13-19; Luk. 6:12-16)
AANVANKLIKE ARBEIDERS VIR DIE GROOT OES!
Matt. 10:1-4 – “Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om bose geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak. Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas; Jakobus, seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; Simon die fanatikus, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.”
Vergelyk ook Luk. 6:12-13 – “In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het.”
Matteus het tot dusver slegs vyf dissipels genoem, die twee pare broers Petrus en Andreas, Johannes en Jakobus en Matteus self. Nou vir die eerste maal, verskyn die twaalf dissipels, eintlik onverwags, op die toneel. Die getal twaalf dui op die volheid van die volk van God. In die ou verbond vorm die twaalf stamme van Israel, die volk, terwyl die twaalf apostels, verteenwoordigend die begin van die nuwe verbondsvolk vorm. Dit word nie gesê dat Jesus een uit elk van die twaalf stamme gekies het nie. Trouens, na die ballingskap het net twee stamme teruggekeer (Juda en Benjamin). Buitendien is die nuwe Israel nie aan afstamming gebonde nie, maar is dit gebou op mense wat deur God uitverkies is, en wat hulle met ’n volkome hart by Jesus aangesluit het.
Die roeping van die twaalf was ’n gebeurtenis van buitengewoon groot betekenis. Om rustig die gewigtige beslissing van keuse te kan doen, soek Jesus die stilte van die berg op. Moontlik was dit die heuwelland ten noorde van die See van Galilea. Daar het Jesus “die hele nag deurgebring in gebed tot God.” Jesus het gekom om die Vader bekend te maak (Joh. 1:18), daarom het Hy die hele nag op sy knieë voor God in gebed deurgebring. Aan sy Vader se voete sou Hy die regte antwoord vind om die sleutelspelers te roep wat gebruik en opgelei moet word, sodat Sy werk op aarde voortgesit kan word.
Die volgende dag roep Hy die groot kring van “Sy dissipels nader en kies twaalf uit hulle, wat Hy apostels noem.” Behalwe die vyf wat reeds genoem is, kies Jesus ook Filippus en Bartolomeus (wat ook met Natanael vereenselwig was); Tomas (ook Didimus genoem); Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; Simon die fanatikus, en laaste op die lys, met ’n smartlike verwysing na sy verraad, word Judas Iskariot genoem wat vir Jesus verraai het. Matteus kon sê Judas gaan Jesus verraai want toe hy in ongeveer 70 n.C. dié Evangelie geskryf het, het hy geweet dat Judas dit gedoen het. Opmerklik noem Matteus die twaalf dissipels, apostels. Dit is net dié twaalf wat apostels genoem word waarmee aangedui word dat hulle die gesagvolle verteenwoordigers en gestuurdes (Grieks vir apostel) van Jesus was wat Hy aanvanklik, uitgestuur het.
Jesus roep hulle persoonlik en bind hierdie feilbare twaalf mense aan Hom met die intieme band van liefde. Hulle was nie teoloë of hoog aangeskrewe politieke leiers van die samelewing van destyds nie, inteendeel, net doodgewone mense uit totaal verskillende vlakke met merkbare swakhede en onvolmaakthede. (Indien die Here volmaaktheid vereis het voordat ons tot dissipels toegelaat is, sou niemand van ons kwalifiseer nie.) Elkeen van hulle het hulle eie tekortkominge wat vir hulle 'n struikelblok in hulle diens sou wees. Twaalf manne totaal verskillend van mekaar, maar elkeen met sy spesifieke gawe om medewerkers te vorm, gebore uit 'n gemeenskaplike band – hulle geloof in hierdie Jesus!
Die gedagte aan Jesus wat gewone mense uitsoek om Hom by te staan sodat Sy werk op aarde, kon voortgaan, is aangrypend en opwindend. Hy kon net so wel engele gebruik het, maar besluit om hierdie enorme taak, die verantwoordelikheid van mense te maak. Daarom durf ons nie om ons gedagtes op die verre verlede toe te spits nie, maar te luister na die roepstem van Jesus wat deur die eeue, ons stééds na Hom toe roep. Net soos die vroeë dissipels ‘n bomenslike taak gehad het om te vervul, so is daar vandag nog in die koninkryk van God baie werk om te verhoed dat satan die Here se werk ondermyn!
Ons lewende Christus roep vandag nog, deur sy Heilige Gees, mense om hulle lewe toe te wy aan Hom sodat Hy hulle kan gebruik om Sy blye boodskap te versprei. Net soos Hy in die vlees die eerste dissipels geroep, hulle toegerus en uitgestuur het in Sy heerlike diens, so roep Hy ook vandag. Wanneer Jesus ons roep, sien Hy nie net wie ons werklik is nie, maar Hy sien ook wat ons kan wees. Hy sien nie net die werklike nie maar ook die moontlike. In Petrus byvoorbeeld, het Hy nie net die Galilese visserman gesien nie maar ook die rots op wie die kerk gebou sou word. Jesus se uitnodiging is aan almal: “Kom saam, gee jouself as ‘n lewende offer aan my (Rom. 12:1), en ek sal jou verander in wie jy graag wil wees.” Jesus is die een wat die verskuilde verlorene kan verlos om ‘n regmatige plek in Sy Koninkryk te vind. Klink dit vir jou asof Jesus jou roep? As jy nog nie Sy roepstem gehoor het nie, is jy nog nie naby genoeg aan Hom nie!
“Jesus roep ons om Hom te volg, maar Hy dwing ons nie. Hy werk net met vrywilligers”
(John Donne).
Gebed: Here Jesus, seën my as ‘n doodgewone volgeling. Kap die stukke van my af wat nie soos U lyk nie. Vind my, roep my, gebruik my, al is ek stukkend en vergruis deur my sonde. Jesus, maak my gehoorsaam aan U uitnodiging sodat ek kan luister en dien. Gee aan my die woorde, die moed en die toewyding om van U te getuig. Laat ek die lewensveranderde boodskap van die kruis aan ander oordra met vrymoedigheid en vertroue. Laat my saam met Paulus my “voorneem om met hulle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde” (1 Kor. 2:2). Amen.