Gedagte vir Vandag
JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE – JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE NATUUR.
(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)
JESUS MAAK DIE STORM STIL (1) – GELOOF BRING RUSTIGHEID!
(Mark. 4:35-41; Luk. 8:22-25)
Matt. 8:23-26 – “Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. Skielik het daar ‘n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: ‘Here, red ons! Ons vergaan!’ Hy sê vir hulle: ‘Waarom is julle bang, kleingelowiges?’ Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.”
Vergelyk ook Deut. 33:26 – “Daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help.”
Jesus kry uiteindelik kans om privaatheid op te soek en weg te kom van die menigte mense wat Hom steeds volg (Matt. 8:18). Hy “klim in die skuit en Sy dissipels volg Hom” om na die oorkant van die see te vaar. Matteus meld nie hoeveel dissipels saam met Jesus in die boot geklim het nie, maar ons weet op hierdie stadium net van vier: die broerspare Petrus en Andreas, Johannes en Jakobus (Matt. 4:18-22). Hoeveel daar was, is nie belangrik nie. Wat wel noemenswaardig is, is dat hulle in dieselfde bootjie as Jesus was.
Soos dit vandag nog voorkom by die See van Galilea, het ’n skielike storm ontstaan deurdat die wind deur die klowe van die omliggende berge op die see neerslaan. “Die hewige storm veroorsaak dat die golwe oor die skuit geslaan het.” Ons moet ook in gedagte hou dat die see destyds dikwels as die woonplek van die bose beskou is en geglo is dat goddelose magte wat die wêreld wil vernietig, daaruit sou voortkom. Die dissipels (vissermanne), wat goed bekend was met die gevare van die see, verkeer in doodsangs, maar Jesus slaap rustig. Die feit dat Hy in sulke omstandighede kon slaap, getuig van die vermoeienis na liggaam en gees ná die voorafgaande arbeid en, hoewel Seun van God, ook egte mens was (Joh. 1:14).
Ek sien in my geestesoog hoe die dissipels angsbevange spartel om die bootjie regop te hou. Hulle beur met hulle liggame en stoei met die mas en seile. Party skep water uit terwyl die ander verwoed roei. En deur dit alles slaap Jesus rustig voort! Kan dit waar wees? In hulle nood roep hulle Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” Dan tree Jesus op soos Een wat volle beheer oor die situasie het. “Hy bestraf eers hulle skandelike kleingeloof” en daarna wend Hy hom tot “die wind en die golwe.”
Teenoor die natuurelemente wat buite beheer woed en tier, staan Jesus op en demonstreer sy Vader se Almagtigheid en met gesag, “spreek Hy die wind en die see aan!” “In hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar” (Ps. 107:28-29). Diegene wat Jesus volg moet bereid wees om storms van watter aard ook al in die oë te kyk, wetende dat Hy die wag hou, al lyk dit vir ons of Hy slaap. “Daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help.”
God kom telkens na mense toe. Sy talle komste na mense toe sluit in Adam, Abraham, Moses, Dawid, Jesaja, Jeremia, Paulus, die dissipels en vele meer. Net so kom die Here ook na jou en my, al word Sy koms soms sleg belemmer deur vele menslike faktore. Hy kom wanneer storms dreig om ons lewensbootjies te laat sink. Hy kom wanneer ons geloof begin wankel en ons hoop, ‘n knou weg het. Hy kom wanneer ons lewenskragte gedaan raak van al die spook en spartel. Hy kom wanneer valse leermeesters dwaalleer verkondig. Hy kom wanneer ons denke bedreig word deur ‘n swak en korrupte regering. Hy kom wanneer ons selfbeeld verpletter word deur werksafleggings en ons houvas op die lewe losraak. Hy het Sy hemelse glorie verruil om na ons te kom, om by ons te wees, ons te kalmeer met daardie goue woorde: “Waarom is julle bang?”
“God se teenwoordigheid waar ons spartel in die vloed is beter as sonder Hom in ‘n veerboot” (Charles Spurgeon).
Gebed: Here, sommige dae voel ek dat die lewe net te veel van my vereis. Die depressieduiwel loop oral rond en saai verwoesting; lewenslus word versmoor deur siekte, armoede en vele meer; moedeloosheid van kostes wat die hoogte inskiet en my begroting wat net nie meer aan al die behoeftes voorsien nie; ons land is in ‘n warboel van ‘n magdom probleme; ons irritasievlakke is op breekpunt; die lewe is een vaal sleurgang. Maar dankie Heer, by U is daar hoop: “Wees gerus, moenie bang wees nie, Ek is by jou; moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou” (Jes. 41:10). Amen.