top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Vanaf die stoep van “Die Kerk van Saligsprekinge” wat tans gebou is op die heuwel waar volgens oorlewering, moontlik die plek is waar Jesus Sy eerste toespraak gegee het. Die See van Galilea is links onder.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


EERSTE SALIGSPREKING : ALMAL IS AFHANKLIK VAN GOD (1)


Matt. 5:1-3 – “Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer en gesê: ‘Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”


Vergelyk ook Jes. 57:15b – “Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.”


Ons sit saam met die skare teen die heuwel langs die See van Galilea by Kapernaum. Die “Rabbi” het gaan sit om onderrig te gee. Ons is die ene ore. Net soos Moses die wet van God ontvang het op ‘n berg en dit later in vyf boeke (Genesis tot Deuteronomium) aan die volk Israel gegee het, kom Jesus nou om in vyf preke God se nuwe wet aan ál Sy kinders te gee; kom proklameer Jesus nou in Sy eerste preek, die wil van God; kom kondig Jesus nou van ‘n berg af die “grondwet van dié koninkryk” aan.


Eers volg ‘n kern van agt seënuitsprake – die eerste vier handel oor dié wat God wil en die laaste vier oor die mens se verhouding met mekaar. Geseënd, gelukkig, welgeluksalig … Jesus is self aan die woord. “Geseënd is ...” word ‘n refrein want ons is geseënd omdat ons deel van God se koninkryk is en daarom met blydskap kan doen wat reg is.


Die eerste seënuitspraak is treffend – dit vorm die fondament van die ander uitsprake. Ons moet afhanklik wees, arm voor God, bankrot. Nie noodwendig arm in die materiële dinge nie maar arm en afhanklik tot in die kern van ons bestaan. Die 1953 vertaling van die Bybel begin die seënuitsprake met “Salig … “Salig is die wat arm van gees is ... (v. 3).” “Armes” in Jesus se aardse tyd verwys na ‘n sosiale groepering van mense wat weens hulle letterlike armoede deur die Joodse geestelike leiers verag is en hulle armoede sou ‘n teken wees dat God hulle verwerp het. Verwys dit na armoede, behoeftige armlastiges, straatkinders, eenvoudige en ongeletterde mense? Nee, inteendeel, dit beteken om ‘n “bedelaar” te wees as gevolg van algehele geestelike bankrotskap, buitendien, by God is almal gelyk!


Onafhanklikheid in ‘n geestelike sin, verwys na selfgesentreerdheid, selfvoldaanheid en selfsugtige optrede - die self, die “ekkigheid.” Dít is waarteen Jesus preek! Daar is mense wat nie afhanklik wíl wees nie. Gesonde en welvarende mense kan mos nie afhanklik wees nie. Ons het hard gewerk vir wat ons het en ons moet darem ietsie vir onsself ook doen. Ons kom sélf reg. Ek is my eie baas en het niemand nodig nie. Ek is oor niemand verleë nie. Klink dit bekend? Daar is ongelukkig mense, Christen mense, wat baie swaar afskeid neem van hulle vernaamheid en hulle egoïsme. Hulle dwing om hulleself te laat geld en hul eie belange só te dien, dat hulle vergeet van Jesus wat Sy dissipels se voete gewas het.


Wat ons ook al besit en wat ons is, is God se wil. Daarom sal ons gelukkiger wees as ons in nederige en afhanklike gesindheid God bedank vir al Sy gawes. Ons kan nie struikel as ons op ons knieë is nie. As ons onsself Christene wil noem, moet ons bereid wees om ons afhanklikheid by God te erken. Ons moet bedelaars by God wees. Ons kan nie self regkom nie want ons is innerlik bankrot. Ons is geestelik só arm dat ons nie eers vir God met ons goeie naam of ‘n voortreflike godsdiens beïndruk nie.


Soos die tollenaar van Lukas 18:9-14, moet ons ons nood raaksien en God smeek vir Sy genade, want hy was van God afhanklik. Hy was bankrot en sy armoede was veroorsaak deur sy sonde. Dít laat ons besef dat ons ook diep in die skuld is by God. Al sou ons skatryk wees, moet ons saam met hierdie tollenaar kan bid: “Here, wees my, sondaar, genadig. Sonder U kan ek nie. Ek staan naak voor U. Ek is geestelik bankrot. Help asseblief Here!”


Voor God staan ons met leë hande, totaal verlore. Al het ons materieël miskien baie, raak ons bewus van ons armoede. Daarom kan ons met hierdie bankrotskap, ons leë hande van geloof uitsteek na die gekruisigde Jesus Christus. Ja, daar is nie ‘n waarborg dat ons afhanklikheid skielik gaan verander en daar nie meer ellende op ons pad gaan kom nie. Ons kan immers weet wát dit beteken om afhanklik te wees van God op wie ons kan vertrou en in krisistye wéét Hy gaan ons bystaan. Ons het ‘n versekering – ‘n lewenspolis – Jesus bied dit: “... want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”.


“God’s delight is received upon surrender, not awarded upon conquest. The first step to joy is a plea for help” (Max Lucado).


Gebed: Hemelse Vader. Ek erken my geestelike bankrotskap voor U. Ek bely ek is afhanklik van U genade. Ek kan nie dit verdien nie en ook nie daarvoor werk of betaal nie. Ek het U nodig in my hele menswees. Ek kan U niks aanbied nie behalwe my sondige self. Dankie dat ek uit genade aan U kan behoort en afhanklik van U te mag wees. Amen.

Recent Posts