E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE VERSOEKING IN DIE WOESTYN (1) – HONGER EN DORS NA DIE WOORD!
(Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)
Matt. 4:1-4 – “Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: ‘As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.’ Maar Hy antwoord: Daar staan geskrywe: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”
Matteus beskryf vervolgens hoe dieselfde Gees wat pas by Jesus se doop sigbaar op Hom neergedaal het, nou vir “Jesus die woestyn in lei om deur die duiwel versoek te word.” In teenstelling met ons menslike verwagtinge dat die Gees Jesus eerder sou lei om die blye boodskap van die koninkryk te gaan verkondig, lei Hy vir Jesus weg na die eensaamheid van die woestyn, die tradisionele woonplek van die bose geeste. Net soos Moses (Eks. 34:28) en Elia (1 Kon. 19:8) moes “Hy veertig dae en veertig nagte” sonder voedsel in afsondering bly. Vanaf die hoogtepunt van die doop en die lig van die oopgeskeurde hemel … word Jesus gelei na die donker dieptepunt van die duiwel en sy versoekings. Maar … God is in beheer – God laat toe dat “Jesus deur die Gees die woestyn in gelei” word. Wat met Jesus gebeur geskied onder die aanvoering van die Vader en die duiwel speel maar eintlik net ‘n bitter klein rolletjie.
Ons moet die veertig dae nie as letterlik interpreteer en wonder of dit moontlik is dat mens veertig dae en veertig nagte sonder kos kan leef nie. Buitendien is alles moontlik vir Jesus, Hy het wel as volkome mens aarde toe gekom, maar Hy bly God. Soos die ander 40’s in die Bybel het hierdie veertig ook simboliese betekenis – die veertig dae wat dit gereën het in Noag se tyd; die veertig jaar wat die Israeliete in die woestyn rondgeswerf het; veertig dae wat Moses op die berg was om die wet te ontvang, ens. Vier is die getal van die mens in die Bybel. Veertig is dan die volle getal van die mens en dit is hoe Jesus, as volkome mens, so lank sonder kos gebly het as wat menslik moontlik is.
Die eerste versoeking vind ’n aanknoping by die omstandighede waarin Jesus verkeer. Hy is honger, en waarom sal Hy nou nie van ’n “klip ’n brood” maak nie? Deur dit te doen, sê die duiwel, sal Hy tog die bewys lewer dat Hy werklik “die Seun van God is”, dat Jesus sal val vir die versoeking om Sy krag ter wille van Homself te gebruik. Maar Jesus bewys dat Hy die Seun van God is deur aan die woord van God gehoorsaam te bly, dat Hy in die krag van die Heilige Gees vir dié versoeking sal néé sê: “‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Deut. 8:3.) Jesus haal God se woord aan, want vir Hom is gehoorsaamheid aan die woord van God belangriker as Sy honger. Buitendien het die Stem uit die hemel reeds bevestig wie Jesus is en dit is meer belangrik as om klippe in brood te verander!
Die duiwel hou ons dop en kies ‘n tydstip wanneer ons swak is of swaarkry, om ons in versoeking te lei. Hy het 40 dae lank geduldig gewag totdat Jesus behoorlik honger was, toe loods hy sy eerste aanval – in ons heel swakste oomblikke, wanneer ons die heel minste weerstand het, sal die versoekings voor ons verskyn in ‘n asemrowende en mees aanloklike gedaante en die duiwel sal op sy subtiele manier sê: “As u ‘n kind van God is …”. En so val die bose ons aan wanneer ons op ons kwesbaarste is om ons geloof in Jesus Christus te ondermyn. Satan se metodes is uiteenlopend, subtiel en fel en hy sal enige manier gebruik om te sorg dat ons as kinders van God moreel en geestelik verval!
Dit is ook nie vir ons nodig om aan enigeen te bewys dat ons kinders van God is nie. Ons het reeds die versekering daarvan: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Christus het reeds alle beproewings weerstaan en oorwin en in álle omstandighede gaan dit oor ons geloof daarvan. Hoe word ons verhouding met God geraak wanneer dit sleg gaan met ons? Raak ons moedeloos? Twyfel ons in God se bestaan? Wend ons ons toe tot wêreldsdinge en bronne? Gee ons m.a.w. toe aan die druk van omstandighede wanneer ons “woestyn-oomblikke” ondervind?
Onthou in sulke tye, dat Jesus ook in die woestyn versoek is en net soos die Heilige Gees Hom bygestaan het, staan die Gees ons by. Hy verstaan ook ons nood en daarom is dit nodig dat ons ook sal toelaat dat die Gees ons lei tot gebed, Bybelstudie en bepeinsing, want dit is hierdie gewoontes, hierdie afsprake met die lewende Christus, wat ‘n kardinale rol speel om ons weerstand teen versoekings op te bou. Tydens gebed betree ons die teenwoordigheid van God en word ons gevoed met Sy almag; deur Bybelstudie kry ons die antwoorde om teenoor die bose te triomfeer en deur meditasie laat ons toe dat die Gees ons onderbewussyn met positiewe en konstruktiewe gedagtes vul.
Ons moet op hierdie geloofspad wat God vir ons deur Sy Woord aanwys, met volkome gehoorsaamheid gaan. Al lyk daardie “brode” van versoeking ook hoe aantreklik en pragtig, en al kom daar dinge op ons pad wat dit vir ons aangenamer of makliker kan maak, moet ons ons laat lei deur die Gees en alleen aan God gehoorsaam wees. Dit is nie die aardse brood en water wat vir ons die belangrikste lewensmiddele is nie, maar Jesus Christus wat self gesê het dat “Hy die brood van die lewe is, en wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh. 6:35).
“Om van die teenwoordigheid van God bewus te wees, is die finale teenmiddel teen versoeking” (Francois Fénelon).
Gebed: Dankie Gees van God, dat U my sensitief maak vir die sluheid van die duiwel en sy versoekings. Dankie dat U deur Christus my die oorwinning gee wat Jesus reeds oor die Bose behaal het. Ek dank en loof U daarvoor. Amen.