E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE TERUGKOMS UIT EGIPTE – ONS OMPAD IS GOD SE OP PAD!
Matt. 2:19-23 – “Na die dood van Herodus verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte en sê: ‘Staan op, neem die Kindjie en sy Moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.’ Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy Moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan. Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodus oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in ‘n droom ‘n aanwysing gegee het, is hy na die landdstreek Galilea toe. Daar aangekom, het hy gaan woon in ‘n dorp in Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.”
Vir Matteus, werk God deur Maria en Josef om Sy doel in en deur Jesus te bereik. In ‘n derde droom “verskyn daar ‘n engel van die Here aan Josef” en hy gehoorsaam weer onmiddellik. In die woorde “die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood,” hoor ons weer ’n sinspeling op die geskiedenis van Moses (Eks. 4 :19). Soos Moses eeue vantevore uit Midian na Egipte vir ‘n reddingsoperasie geroep is, word die Kindjie Jesus met feitlik soortgelyke woorde vir Sý reddingstaak geroep. Wanneer die wrede Herodus die Grote sterf, volg sy seun “Argelaos” hom op as heerser oor “Judea”, Samaria en Edom en ’n ander seun, Herodes Antipas, word heerser oor Galilea en Perea. Argelaos was net so wreed soos sy pa en het sommer in die begin van sy regeringstyd, drie duisend mense laat doodmaak, daarom gaan Josef op aanwysing van die engel na “Galilea” toe.
Galilea was destyds met heidene ge-assosieer. God kom word mens tussen Sy eie mense in Betlehem in Judea (Suide van Israel) maar gaan vestig Hom in die Noorde, in Nasaret, in Galilea tussen die “Nasareners”, in daardie tyd, die plek van nie-Jode, heidene in die oë van die Jode. Matteus kom wys hier vir die Jode (en ons) dat God nie net ‘n God van die Jode is nie, maar van almal, Hy is God van buitestanders ook, baie wyer as net bloedverwante! In Jesus het God die grense van net bloedverwante oorgesteek, en almal wat in Hom glo, deel van Sy binnekring kom maak.
Vir die Jode was Nasaret ‘n onbenullige dorpie, ‘n dorpie wat nêrens eers in die Ou Testament genoem word nie, ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie (Joh. 1:46). Nasaret, waarvan Matteus die naam heel moontlik afgelei het van die Hebreeuse woord “neser” wat loot of takkie beteken, wat juis op ‘n geestelike manier sinspeel op die Messias: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus …” (Jes. 11:1). Uit die dooie stomp van Isai, (vader van Dawid), het God ‘n takkie laat uitspruit wat nuwe vrugte kom dra het; Hý is die Een wat verandering sou bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie; Hý is die Verlosser van die wêreld, en soos met Dawid (1 Sam. 16:13), is Hý die Een op wie die Gees van die Here sal rus. Met respek, wié sou dit nou kon verwag? Beslis nie die Jode wat gedink het hulle is die uitverkore volk, en neergesien het op almal wat nie Jode is nie.
God lei ons lewe nie altyd op die pad wat die minste hindernisse en teëspoed het nie. Inteendeel, die lewenspad van die gelowige is juis die moeilike pad, daardie laaaang pad. Soos Hy Jesus eers Egipte toe gelei het en daarna terug na Nasaret, klein en onbenullige ou plekkie, so lei Hy ons heel dikwels op ‘n ompad, soms duister en onverstaanbaar en waarvan ons die nut daarvan nie kan insien nie! Net as jy meen dat jy nou jou ideale bereik het, dan keer die Here alles weer om. Net as die toekoms vir jou mooi en oop lê, dan word jou planne verydel! Net as die pad mooi voor jou uitstrek, dan moet jy eers weer soos Jesus, Egipte toe of soos die volk weer die woestyn in. Dan raak ons ongeduldig en vra: Here, hoekom moet dit altyd voel asof my lewenspad ’n ompad is? Waarom moet ek juis nou weer in die woestyn van my eie lewe in foeter? Is dit regtig nodig dat ek so moet worstel en spartel?
Ons vergeet maar al te maklik dat dit juis God is wat die pad kén waarlangs Hy ons lei, en ook weet waarom Hy ons juis op hierdie pad heen lei en daarom moet ons dit nie onderskat of lig skat nie. Die belangrike is dat jy gehoorsaam is en God se leiding volg. God se ompad met ons is niks anders as sy genadepad met ons nie. Dit is die pad waarop God ons sal bewaar, die pad waar God sélf die leiding sal neem, die pad wat lei na die plek toe waar Hy ons die nodigste gaan hê.
God wil ook nie dat ons die toekomspad ingaan met gister se probleme en laste nie, of dat ons steeds vashou aan die verlede se dinge nie. Dit is veral in tye van teëspoed en ellende, met feitlik geen hoop op verwagte uitkoms en oplossings in die oë nie, dat ons toekomsvisie baie keer verduister word deur ons kortsigtigheid en ons ongeduldig raak en dan vir God kwalik wil neem. Ons weet immers nie watter pad onsself moet loop nie, maar “Die Here bepaal ’n mens se koers; hoe sal ’n méns weet waarheen hy moet gaan?” (Spr. 20:24). Die beste pad wat ons kan neem, is die een wat Christus geloop het, verskillende rigtings weg van Sy geboorteplek, daardie pad van lyding en vervolging, daardie smal paadjie wat lei tot in die beloofde land, die ewige lewe. Hy verander soms ons rigting, maar nooit ons eindbestemming nie.
“God wil werklik die hele tyd vir ons goeie dinge gee, maar ons hande is te vol van ander dinge om dit te ontvang” (Augustinus van Hippo).
Gebed: Dankie Here dat U vir my die koers bepaal, want hoe sal ek weet waarheen om te gaan? Dankie selfs vir die ompaaie wat soms deur die woestyn moes gaan, opdraandes wat die wil en hoop uit my lewe uitgemergel het, dit was steeds U pad, en daarom ook my pad wat ek maar net uit dankbaarheid moes volg. Dankie dat ek U op daardie pad ook gevind het en my lewe nou reeds sin kan maak en waar ek my ookal bevind, dit nie onbenullig sal wees nie. Dit kan ook my veilige oase wees in diens van die doel wat U vir my lewe het. Amen.