E-Kerk : Gedagte vir Vandag
PAULUS SE SENDINGOPDRAG (2) – IN DIENS VAN SY MAJESTEIT!
Rom. 15:15b-17 – “God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk. Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies ‘n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is. In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig.”
Vergelyk ook Hand. 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees ...”
Paulus gaan verder en verduidelik sy roeping as apostel onder die heidennasies, as ‘n “voorreg” wat “God in sy genade aan hom gegee” het. Hy beskryf sy roeping in priesterlike terme wat “die evangelie van God aan hulle bedien het sodat daar ‘n aanneemlike offergawe vir God mag wees.” Hy is uit dankbaarheid trots op die werk wat hy in diens van God mag verrig, maar in werklikheid is die arbeid nie syne nie, dit is die werk wat Christus déúr hom tot stand gebring het – terwyl hy “in Christus Jesus”, sy Opdraggewer se eer opgetree het. Paulus was in die letterlike sin nie ‘n priester nie, maar geestelik het hy tog die diens van ’n priester verrig terwyl hy die evangelie van versoening aan die heidennasies verkondig, vir hulle gebid en sy lewe as ’n offer in diens van hulle verlossing geplaas het.
Wat ons hier moet besef wanneer daar gepraat word oor diens verrig in die gemeente, is dat jy nie mense dien nie, maar dat jy dien tot eer van God en daarom ook soos Paulus kan sê: “In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig.” Christus sal nooit iemand tot Sy diens roep as Hy nie die persoon ook toerus met die vermoë om daardie betrokke taak te verrig nie. Ons bekwaamheid kom nie uit onsself nie, maar word deur die Heilige Gees tot ons beskikking gestel.
Christen-wees en getuienis lewer kan nie van mekaar geskei word nie. Getuienis het ‘n funksie onder gelowiges in die gemeente én het ook te doen met dié wat nog nie deel van die familie van God is nie. Nog voordat my mond oor Jesus Christus praat, moet my lewe oor Hom praat, dit is onontbeerlik vir geestelike groei. Om oor God se seëninge in Christus te praat, is deel van die normale Christen se lewe. Dit is egter nutteloos om te probeer om met my mond te getuig as my lewe nie ook verkondig dat ek ‘n verloste mens is nie: “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat ... hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God verheerlik” (1 Pet. 2:12).
Christelike getuienis vorm ‘n integrale deel van elke Christen-gelowige se pelgrimstog. Dit is belangrik om te weet dat Jesus nie gesê het “julle moet probeer om My getuies te wees” nie, maar “julle sal My getuies wees.” Dit behoort vir ons dan te word in “ek wil!” Elke Christen is ‘n verteenwoordiger, of ambassadeur, vir Christus en daarom “sal en wil” ons in Christus se plek praat. Dit is ook belangrik om te onthou dat getuienis alleen sal strek tot Sy eer, én verheerliking van God. Wanneer ander mense Jesus in jou kan sien omdat jou getuienis opreg is, sal hulle aangetrokke tot Hom raak.
Dit gaan nie net oor my bywoning van eredienste, of die leë plek as die kerkklok lui, wat ook ‘n getuienis is ... téén my, nie. Dit gaan ook oor gemeentelike samekomste, my geesdriftige kerklike meelewing, my ywerige betrokkenheid by die aktiwiteite van die kerk, wat aan die wêreld moet sê: “Dis heerlik om ‘n Christen te wees, heerlik om Christus te dien!” ‘n Lewende gemeente met gemeentelede wat Christus se lig as getuies uitstraal, is soos ‘n stad wat bo-op ‘n berg lê vir almal om te sien (Matt. 5:14), diegene in die donker onder in die vallei, sal dan na dié lig hunker en ook daarheen getrek word.
Elke Christen is gered en geroep om in hierdie wêreld as ‘n getuie van die Here Jesus Christus, op te tree. Wanneer ons hart vol is van Jesus, sal die mond daarvan oorloop. Sommer so spontaan soos wat ons oor politiek of ons geliefde sport of tydverdryf kan praat, moet ons oor die goedheid en guns van die Here kan praat – dit is die normale Christelike lewe, nie die abnormale nie. Miskien maak die feit om te getuig jou bang, moenie vrees nie, terwyl jy ter wille van Christus getuig, sal jy bewus word van die krag van die Heilige Gees. Jesus belowe self: “Jy sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor jou kom, en jy sal Sy getuie wees.” Maak jou hart en denke oop vir die Gees se genadige invloed en wysheid want dit gaan mos nie oor jou as getuie nie, maar oor Hom wat jou stuur!
“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van my self-liefde te verwyder, sodat die Gees wat in my woon, vir Christus aan my medemens kan vertoon” (Paul Frost).
Gebed: Dankie Gees van God, dat U by my is en my vertroos en versterk om ‘n kragtige getuie vir Christus te kan wees. “O Heilige Gees, bereider van God se koninkryk, laat God se beeld in my blyk. Gee my krag tot dade om in U Naam te bou, gesterk deur U genade, maak my in U getrou” (Liedboek 437:2). “Laat, Heer, U vrede deur my vloei, en laat ek hoop gee waar daar twyfel is. Ek wil U lig in duisternis laat skyn, laat ware vreugde uit my straal. O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, om lief te hê, ander bo myself, en om eerder te gee as te verwag” (Liedboek 284:2). Amen.