top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (1) – AGAPÉ LIEFDE IN DIE GEMEENTE!


Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.”


Vergelyk ook Matt. 5:43-46 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek (Jesus) sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle nog verwag?’ ”


Paulus gee vir ons in die volgende paar verse, tien kort maar kragtige riglyne, hoe om ons genadegawes prakties uit te leef in die gemeente. As deel van die Liggaam van Christus, is dit elke lidmaat se verantwoordelikheid om Christus aan medegelowiges sigbaar te maak. Dit is opmerklik dat elke riglyn wat Paulus hier vir ons gee, kenmerkend was van Jesus se eie lewe op aarde. Jesus Christus was nederig en gewillig om Sy regte as God, prys te gee om ons Vader te gehoorsaam en die vodde van die mens aan te neem, mense te dien en dit met onbeskryflike liefde te doen, want Hy ís liefde!


Elke gemeentelid het wel afsonderlike genadegawes ontvang, maar alle gemeentelede het gemeenskaplik één gawe ontvang, die “liefde”. Omdat ons daardie unieke deel van Christus is, deel van Sy liggaam is, kan Sy gedagtes ons gedagtes word en Sy gesindheid, ons gesindheid. Christus moet nie net aanbid word vir alles wat Hy is nie, ons moet soos Christus word! Die beginsels wat deur Jesus geskep is twee duisend jaar gelede, bly vandag nog waar, effektief en van toepassing. Niemand is te belangrik om nie Sy voorbeeld te volg nie! Geloof kan nie eg wees, as dit nie uitmond in ’n lewe van liefde nie. Die liefde moet “opreg” wees, sonder enige bybedoelinge. Alles wat “sleg” is vir die naaste, moet verafsku word, terwyl vasgehou word aan alles wat goed is, veral in die diensbetoon aan ons medemens, want die liefde soek altyd wat goed vir ons naaste is.


Wie is ons naaste? Dit is beslis nie ‘n keurlysie van mensename van ons keuse, en die res is vyande, nie. Is die meeste van ons se naamlys van mense wat ons nie van hou nie, nie dalk langer as ons “Keurlysie van ons Naastes” nie? Dit is al die mense wat ons bloeddruk laat styg – die regering, verkragters, moordenaars, verkeersmanne, taxibestuurders, mense wat my sleg behandel het, almal wie ek nie kan vát nie! Want ... “Ek is nou maar eenmaal so gemaak en so laat staan.”


Daardie gesegde dra nie water nie want God maak nie foute nie. Ons kán nie deel wees van daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mense nie. Ons is na God se beeld gemaak (Gen. 1:26) en as dissipels van Christus, ‘n tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19). Ons het dit van God ontvang en daarom kan niemand ons verander nie! Ons Koninkrykskinders is anders, ons is nuutgemaak! In Getsemane en op Golgota het Jesus die angs van die hel verander sodat ons as Sy dissipels in Sy genade en vrede ingesluit kon word! As nuwe mense dink ons nuut oor ander en alles en tree ons in liefde, nuut op!


Maar ... Ek kán nie só lief hê nie! Ek kan nie in liefde saamleef met moeilike mense nie. Die ligsinniges, die ontugtiges, die onsedelikes, die vuil praters, die goddeloses, die stakers, ISIS en nog baie ander, is juis hulle wat my weghou en weglei van God af. Ek sal dus nie ‘n goeie dissipel van Jesus kan wees nie. Ek kan nie my naaste en veral die moeilikes, so liefhê soos wat Jesus verwag nie. Ek kan nie maar net anderpad kyk terwyl hulle bedrieg, steel, beswadder, moor en met ‘n verkeerde lewe voortgaan asof dit vir ewig gaan hou nie.


Jesus gee ‘n opdrag aan ons om ons vyande lief te hê en te bid vir hulle. Hierdie liefde verwys na die Bybelse agapé-liefde. Dit is ‘n onvoorwaardelike liefde aan die persoon vir wie ons lief moet wees om sodoende Jesus se opdrag na te kom. Dit is liefde in aksie en is gewoonlik nie van wederliefde afhanklik nie. Dit is om liefde te gee ten spyte van die ander persoon se reaksie. Daar is geen ruimte vir voorwaardes nie. In Jesus se donkerste uur het Hy hierdie agapé-liefde bewys terwyl Hy aan die kruis gehang het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34).


Ons moet steeds Jesus se opdrag nakom, al voel dit soos ‘n verdoemende handeling. Ons moet steeds liefde betoon aan almal, nie oor hulle verkeerde dade nie maar om hulle persoon. Hierdie opdrag van Jesus is bindend en kan nie halfpad tegemoet gekom word nie. Om net dié lief te hê wat my liefhet, is nie die antwoord op Jesus se versoek nie. Ons kindskap maak die verskil al is dit ook hóé moeilik. Dit is nie ons plig om te oordeel nie. Elkeen moet self vir sy verkeerde dade verantwoordelikheid aanvaar. “Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Ef. 4:24). As volgeling van Jesus is ons radikaal verander deur die Gees. Dit gun ons om daagliks só te lewe en as voorbeeld vir ander te wees, om hulle lewe te verander sodat hulle ook strewe om na die wil van God en Sy beeld, te wil leef. Dít maak ons anders! ‘n Goeie voorbeeld ontbloot die duisternis en bring ons “vyande” ook in die lig.


“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is en wie jou vyand is nie. Tree op asof jy hulle liefhet dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (C.S. Lewis).


Gebed: Almagtige Vader, my liefde is só ontoereikend! My verskille teenoor ander word gemeet aan kleredrag, kultuur, tradisie, verskil in taal, velkleur, ag, en sommer nog baie ander verskonings om hulle nie as my naaste te aanvaar nie. Kortom Here, skenk my asseblief daardie fyn aanvoeling sodat ek kan onderskei om die regte ding te sê, te doen en te bid – selfs vir hulle wat my as hulle vyand beskou. Here, maak my ‘n instrument van U vrede, waar daar haat is, laat ek liefde saai. Laat ek mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor my. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page