top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS (3) – VERANDER JOU KOP!


Rom. 12:2 – “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”


Paulus spel vervolgens die tweede beginsel uit oor “die wesenlike van die godsdiens wat ons moet beoefen.” As gelowiges mag ons nie inpas by die ‘skemas’ van hierdie wêreld nie, mag ons nie “aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.” Ons sal dus nie kan maak soos “almal maar maak nie,” of maak wat ons natuurlike geaardheid vir ons voorskryf nie. Dit is egter nie so maklik nie want daar is ontsettend baie negatiewe invloede in “hierdie sondige wêreld”, by skole, universiteite, sportklubs, werk, noem maar op. As vrygespreekte dissipels van Christus kan ons ongelukkig nie ons dankbaarheidslewe laat inpas by die wêreld se manier van doen nie.


Hoe word ek anders, hoe ontsnap ek van hierdie liefdelose wêreld, hoe ontsnap ek van my eie sondige self? Ons moet onsself voortdurend tot God se beskikking stel, God toelaat om ons te verander deur die werking van Sy Gees. Dit beteken om nie net jou hart vir die Here te gee nie, maar jou kop ook – dit is mos waar die sondes uitgedink word – ons moet laat “God ons verander deur ons denke te vernuwe.” Wanneer God ons denke verander, begin ons elke dag anders, ons gee ons gedagtes weg vir Christus. Deur Sy gees help Hy ons om anders te dink oor ons verhouding met Hom en ons naaste, anders te dink oor God se wil en my wil, anders dink oor “wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”


Wat is vir “God aanneemlik en volmaak?” Dit is nie maar net oppervlakkig ‘n paar nuwe gewoontetjies wat ons aanleer nie, maar te glo dat Christus vir alle onvolmaaktheid gesterf het, en ons daarom “dieselfde gesindheid moet hê wat in Christus Jesus was” (Fil. 2:5). Hoe verander ek om soos Jesus te word? Ek moet ‘n metamorfose ondergaan, soos ‘n papie wat in ‘n pragtige skoenlapper verander. Verandering is direk afhanklik van jou denke – ou denke produseer ‘n ou lewensstyl en nuwe denke word gevorm wanneer daar van die ou gedagtes ontslae geraak word.


Dit is so hartseer dat ons van nature geneig is om dikwels maar saam met die stroom te dryf. Ons buig ons voor ander se denke en word saampraters sonder enige respek vir die Godgegewe individualiteit waarmee ons geskep en begenadig is. Iemand het gesê dat ons Christus in ons gedagtes moet innooi, omdat ons denke die poort na ons gees is, moet ons die Heilige Gees daar laat wagstaan.


Wanneer ons die Gees toelaat om in ons lewens te werk, monitor Hy elke gedagte wat by ons opkom, suiwer Hy dit en dan raak ons uiteindelik uit pas met die wêreld. Selfsug word vervang met deernis, oneerlikheid met eerlikheid, liefde groei en jy vind vreugde daarin om die Gees te gehoorsaam. Laat toe dat die Gees die negatiewe denkpatrone wat in jou kop vorm, te wysig: “Rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want jy het gesterwe, en jou lewe is saam met Christus verborge in God” (Kol. 3:2-3).


As die Gees ons leer om nuut en anders oor dinge te dink, sal ons “ook kan onderskei wat die wil van God is.” Elke Christen-gelowige is verantwoordelik om self te oefen om in die geestelike onderskeidingsvermoë in te pas. Word gedurig stil voor God en rig jou gedagtes doelbewus op Sy grootheid. Vul jou denke met dankbaarheid en bedank Hom vir die goeie dinge wat Hy gedoen het en wees opgewonde oor dit wat Hy nog in jou gaan doen.


Vermy dat sonde soos ‘n saadjie in jou denke geplant word. Indien jy daardie saadjie so bietjie laat lê, gaan dit ontkiem en begin groei en vrug voortbring wat uiteindelik gaan vrot ... en terwyl ons smaaklik daaraan eet, sterf ons geleidelik totdat ons lewe verwoes is en die dood finaal intree. Moenie daardie saadjie water gee nie, maar eerder gif! “’n Mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” (Jak. 1:14-15).


“Don’t let the world around you squeeze you into its own mould” (JB Phillips).


Gebed: Here Jesus, U het my geleer bid: “Laat my nie in versoeking kom nie” en daarom wil ek graag byvoeg dat U my die wysheid sal skenk om versoekings te kan weerstaan sodat ek nie “aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.” Gees van waarheid, vernuwe my denke sodat ek in hierdie lewe kan onderskei wat vir “God goed en aanneemlik en volmaak is.” Skenk my nuwe lewenswaardes wat nuwe verantwoordelikhede meebring en my elke oomblik laat soek na die wil van God. Dankie dat ek U adres kan agterlaat in my soeke na God se wil – ek weet satan is nie welkom daar nie en dáár sal hy my met rus laat. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page