E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS (2) – GOD SE GROOT ONTFERMING!
Rom. 12:1 – “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”
Vergelyk ook 2 Kor. 1:3-4 – “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.”
Wanneer Paulus hierdie beroep op ons Christene doen, weet hy presies waaroor “God se groot ontferming” gaan. Sy CV bevestig dat hyself ‘n Fariseër was, ‘n Jood wat Christene vervolg het totdat God se groot ontferming hom daar op die Damaskuspad gegryp het en hy daarna nooit weer dieselfde was nie. Net so het God Hom ontferm oor Israel wat soos ‘n “baba in die veld weggegooi is en in sy bloed sien spartel, hom gebad, olie ingesmeer, klere aangetrek en gesê: ‘Jy is Myne’ (Eseg. 16). En net so ontferm God hom oor ons. Wanneer God se ontferming ons oorrompel, is dit onmoontlik om ooit weer dieselfde te wees!
God se ontferming is iets om mee rekening te hou – Hy het sy Seun as die vlekkelose Lam geoffer om vir die sonde van die mensdom te betaal, nou vra Hy van ons om ons lewe as ‘n lewende offer op die altaar neer te lê. Ons besit as’t ware “God se groot ontferming”, daarom kan ons nie anders as om onsself, uit dankbaarheid, as lewende offers vir Hom te gee nie. Ons kan God se beroep nie ignoreer nie, ons kan nie wag en eers later daaroor dink wanneer óns eendag reg is daarvoor nie, ons moet God se beroep vandag ernstig opneem! Een ding is verseker: God gaan nie ophou praat net omdat ons opgehou luister het nie. Al wat ons is en het, is God se ontferming, ons behoort aan Hom en Hy gaan aanhou sê: ‘Jy is Myne!’
Kom ons wees maar eerlik, ons is soms geneig om met God ‘n kompromie aan te gaan – ons glo en verstaan dat God Hom oor ons ontferm en daarom moet ons darem iets weer aan Hom teruggee. “Here, dankie vir alles maar U moet verstaan, ek is baie besig. Ek kry nie my draaie nie en gevolglik is dit moeilik om alles in my besige skedule in te pas. Kyk, ek kom darem so nou en dan kerk toe (1 uur op ‘n Sondag), ek gee my offergawe aan die diaken (afhangende of my ‘budget’ dit toelaat), ek lees nou en dan Bybel en ek bid wanneer dit nodig is. U verstaan mos Here?” “Nee! Jý verstaan nie! Ek spandeer 24/7, 365 tyd aan jou want jy is Myne! Dít is hoe lief Ek jou het, dít is hoeveel Ek my oor jou ontferm!”
Die fout wat ons maak is dat dit nie gaan oor iets wat ons vir God moet doen nie, alles wat ons is en het, behoort buitendien aan Hom. Om aan God te behoort, beteken om jouself aan God te gee as ‘n “lewende offer”, net soos jy is, met al jou lewensprobleme, al jou slegte ervaringe, jou sukkel om kop bo water te hou, jou geheime, jou sonde, jou oud word, jou sit en jou opstaan, jou werk toe en jou huistoe gaan, jou ekstreme nood, jou bekommernis oor jou geliefdes se veiligheid, jou álles, behoort aan God en dan sê God wéér: “Jy het My nog nie gehoor nie, Ek ontferm My oor jou want jy is Myne!”
En wanneer Paulus sê ons moet “heilige offers” wees, beteken dit nie dat ons een of ander spesiale godsdiens moet beoefen of ‘geestelike reuse’ moet wees nie. Nee, ons moet lewende, heilige offers wees wat God se glorie moet verkondig want ons Christene is anders, God en Jesus se Gees het ons verander om heilig te wees. En waar die Heilige Gees teenwoordig is, gebeur dinge. Hy sorg dat heiliges gehoorsaam is aan God, dat heiliges ‘n passie vir God het, dat heiliges nie in die hoofstroom van sonde saamswem nie, dat heiliges se gebede en dade “lewende offers” is vir God, Hy sorg dat heiliges hulle nuwe status by God wat Hom ontferm oor hulle, uitleef.
God roep ons tot ‘n lewe van heiligheid. Dit is ons roeping, ons opdrag, nie ons keuse of maar net ‘n wens wat God uitgespreek het nie. Ons is God se vaandeldraers en soos ons langsamerhand God se ontferming ervaar, vernuwe die Gees ons denke en wéét ons dat ons nie meer aan onsself behoort of vir onsself leef nie, ons leef en behoort aan God. God het ons gevat net soos ons is, maar Hy los ons nooit netso vir die res van ons lewe nie. “Op grond van die groot ontferming van God, is ons Syne want Hy het gesê: ‘Jy is Myne!”
“Die maat van God se liefde en ontferming is groter as die omvang van die menslike begrip” (Frederick Beuchner).
Gebed: Here, van U kom alles wat goed en volmaak is, en die grootste daarvan is U onbeskryflike liefde en ontferming waarmee U my toevou. Ek wil U loof en prys want Here, nêrens is daar nog ‘n liefde of ontferming wat só allesomvattend is nie. Here, bevry my van verganklike dinge en stel my in om U sagte, liefdevolle stem te hoor wanneer U sê: “Jy is Myne!” Laat U Gees van vrede oor my verwarde lewe waai, sodat my menswees op U pad van heiligheid kan bly. Amen.