E-Kerk : Gedagte vir Vandag
NIKS KAN ONS VAN DIE LIEFDE VAN CHRISTUS SKEI NIE (3) – BEMOEDIGING: GEEN APPÉL NODIG VIR ONS!
Rom 8:33 – “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.”
Vergelyk ook 2 Tess. 2:16-17 – “En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee.”
Ons bevind ons nou met Paulus se derde vraag, in God se geregshof. Met die vraag “wie die uitverkorenes van God kan aankla”, moet alle klem op God val. Hy wat die hoogste Regter is – wie sal beskuldig waar Hy vryspreek? Alle aanklagte teen God se uitverkorenes is tevergeefs, want God het klaar aan al die eise van die wet vir sy uitverkorenes deur Christus laat voldoen: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). God self spreek hulle vry – wie kan hulle dan aankla? Teen God se regverdige verklaring is daar geen appél meer moontlik nie.
Dit is vir baie gelowiges moeilik om te glo dat hulle reeds vergewe is, dat hulle as uitverkorenes van God deur niemand aangekla kán word nie. Die probleem is ook dat hulle hulself nie kan vergewe nie, hulle gewete kla hulle aan. Om hierby aan te sluit, deel ons graag hierdie eenvoudige verhaaltjie oor iemand se gesprek met God:
“Ek het vir God gevra om my slegte gewoontes weg te neem. God het gesê: Nee, ek gaan dit nie wegneem nie, jy moet self leer om daarvan af te sien. Ek het God gevra om my gestremde kind te genees. God het gesê: Nee, sy gees is gesond en sy liggaam is net tydelik. Ek het God gevra om my geduld te gee. God het gesê: Nee, geduld is die vrug van swaarkry, dit word nie gegee nie, dit word aangeleer. Ek het God gevra om my geluk te gee. God het gesê: Nee, Ek het jou seëninge gegee, geluk is wat jy daarmee maak. Ek het gou agtergekom eintlik is ek besig om my tyd met al die vrae te mors!”
“Na ‘n paar dae het ek egter gedink God sal vandag in ‘n beter en vrygewiger bui wees en weer probeer.: (Asof ‘n mens kan besluit hoe God moet voel!) "Ek het God gevra om my die pyn van die lewe te spaar. God het gesê: Nee, pyn wys jou hoe vervlietend aardse vreugde is, trek jou nader na My en die vrede wat Ek gee is vir ewig. Ek het God gevra om my geestelik te laat groei. God het gesê: Nee, jy moet self leer groei, Ek sal jou deur die Gees laat snoei sodat jy meer vrug kan dra. Ek het God gevra om my alles te gee wat nodig is om die lewe te kan geniet. God het gesê: Nee, Ek sal jou die Lewe gee, sodat jy deur in Hom te glo, alles kan geniet.”
“Ek wou net begin moedeloos raak want God wil my niks gee waarvoor ek vra nie. Hy sê altyd nee. Is ek dan nie ook een van God se uitverkorenes nie? God het my mos klaar vrygespreek. Het U my dan nie lief nie Here? Help my asseblief om U en ander mense lief te hê soos U my lief het ... en God het geglimlag: ‘Ja, uiteindelik verstaan jy waaroor ‘n verhouding met My gaan! Jou geloof het niks te doen met wat jy vir My kan doen nie, maar alles wat Ek reeds vir jou gedoen het. Jy kan op geen manier My guns wen of My vryspraak verdien nie, en jy hoef ook nie, dit is alles net uit My gratis genade. Al wat jy moet doen, is om jou vrywees met verwondering te aanvaar en met dankbaarheid te vier.’ ”
Is dit nie maar jou en my verhaal ook nie? Hoekom wil ons soms nie aanvaar God het ons reeds vergewe nie, dat geen mens ons kan aankla nie? Hoekom sukkel ons om soms onsself te vergewe al het God ons reeds vergewe? Miskien omdat ons verstand te klein is om God se genade te verstaan: “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende ... was gal en gif vir my. Maar ... om dié rede bly ek hoop: Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke môre nuut” (Klaagl. 3:18-23).
“Die grond onder ons voete en die anker in ons lewe is dat Christus ons enigste en perfekte regverdigmaking en vryspraak is” (Martin Luther).
Gebed: Dankie Here vir die bemoediging dat U my vrygespreek het. Dankie dat dit deel is van die heerlikheid waarin ek as uitverkorene mag deel. Help my, Gees, dat hierdie wonderlike bemoediging nie vinnig verby gaan nie, maar dat ek dit sal koester. “U is die Vader wat U ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. In elke moeilikheid help U my. Daarom kan ek ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ek kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee U my bemoedig” (2 Kor. 1:3-4). Amen.