E-Kerk : Gedagte vir Vandag
JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!
JESUS SE PAD NA GLORIE (8) – DIE INTOG VAN JESUS IN JERUSALEM (1)
(Vergelyk ook Matt. 21:1-11; Mark 11:1-11; Luk 19:28-44)
Joh. 12:12-15 – “Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: ‘Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!’ en: ‘Die Koning van Israel!’ Jesus het toe op ‘n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan: ‘Moenie bang wees nie Sion! Kyk jou koning kom, en Hy ry op ‘n donkie.”
Vergelyk ook Sag. 9:9 – “Jubel, Sion! Juig Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.” (Profesie van Jesus se intog in Jerusalem 400 jaar later.)
Die dag nadat Maria Jesus se voete gesalf het, vertrek Hy na Jerusalem. Jesus het geweet dat die vyandiggesinde Joodse leiers reeds “opdrag gegee het dat enige persoon wat weet waar Hy is, dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem” (Joh. 11:57). Nogtans loop Hy onverskrokke “voor hulle uit, op pad na Jerusalem toe” (Luk. 19:28), vasbeslote om Sy roeping wat Hy van God ontvang het, te vervul! Die mense wat vir die paasfees in Jerusalem saamgekom het, het daarvan gehoor en Jesus tegemoet gegaan. Die optrede van die pelgrims bevestig eintlik Sy koningskap want hulle rol as’t ware die “rooi tapyt” vir Jesus oop deur hulle klere en palmtakke voor Hom oop te strooi. Die Messiaanse begroeting: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” (Ps. 118:26), word Jesus toegeroep, hoewel hulle Hom verkeerdelik aansien as die Messias volgens eie opvatting. Ook die toevoeging: “Die Koning van Israel!” het Messiaanse betekenis, maar word hier verkeerdelik bedoel aangesien die Jode ’n aardse koning verwag het. Hulle begroet Jesus wel as die Messias, maar hulle bly gebonde aan die beskouing dat Jesus die aardse koning is wat hulle staatkundig van die Romeinse juk sou verlos.
Volgens die ander Evangelies het Jesus die reëlings vooruit getref om ’n donkie te verkry vir Sy intog in die stad, “‘n jong donkie waarop nog niemand gery het nie” (Mark. 11:2b), terwyl Johannes daarenteen, vertel dat Jesus “toe op ‘n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het”. Die geesdrif van die skare het feitlik ontvlam wanneer hulle Hom op die donkie sien ry. Sagaria 9 word deur Jesus in waarheid vervul. Hy is wel die koning wat sou kom, maar Hy ry nie op ’n oorlogsperd nie. Sy rydier is ’n donkievul, die dier waarop ’n gesant van vrede ry. Hy kom dus as die bringer van vrede, die vrede van God vir die wêreld van sonde, en Hy doen dit in nederigheid en tog in koninklike heerlikheid. Dit is ironies dat die Vredevors wat in nederigheid op ‘n vredesending was, selfs ‘n wilde donkie tot vredevolle nederigheid kon stem.
Voldoen Jesus aan die verwagtige van die mense van die 21 ste eeu? Is baie van ons se “palmtakswaaiery” en vroom uitroepe nie dalk ook om Jesus by ons agendas te laat inpas nie, instede om Jesus toe te laat om Sy wil in liefde na te speur nie? Hoe baie gebeur dit nie dat ek wil hê dat Jesus moet wees soos ek Hom wil maak nie? Hoeveel keer het ek nie al gedink dat wat nou met my gebeur, pas nie in by mý prentjie van hoe Jesus behoort op te tree nie? Dit voel vir my asof Jesus nie Sy kant van ons ooreenkoms bring nie. Ek meen, ek probeer my uiterste bes om mý kant van die ooreenkoms te bring – elke Sondag in die kerk, gee my maandelikse bydrae, dien op die kerkraad, en ... ! Is ek nie ook maar op ‘n manier tussen die skare met my palmtak om Jesus in te palm sodat Hy kan optree volgens mý skema, die skema wat ek vir Hom uitgedink het, nie? Hoeveel gelowiges in die wêreld redeneer dalk so?
Dalk moet ek wees soos die eenvoudige donkievul, soos hierdie donkie wat die heilige troon van meer as ‘n koning geword het, die troon van die Seun van God self. Jesus kom wys ons hiermee dat iets waaraan ons min waarde heg soos byvoorbeeld ‘n donkie, juis waardevol vir God kan wees. Die donkie was ‘n Jesus-draer wat nederig gedien het sonder om die eer daarvoor te kry. Hy het Jesus op Sy laaste rit Jerusalem binnegedra sodat ek Jesus die wêreld kan indra, om “die pad te leer wat Hy wil hê ek moet volg” (Ps. 32:8), en nie waar ék wil gaan nie.
“Let us not glide through this world and then slip quietly into heaven, without having blown the trumpet loud and long for our Redeemer, Jesus Christ. Let us see to it that the devil will hold a thanksgiving service in hell, when he gets the news of our departure from the field of battle” (C.T. Studd).
Gebed: Here, soos ‘n kruis deel is van ‘n donkie se rugvel en hy daardie kruis lewenslank op sy rug dra, wil ek graag my kruis ook dra en U volg. Ek wil U eintlik orals dra en nederig en in afhanklikheid versoek dat U nooit van “my rug sal afklim” nie, maar “my raad te gee en U oog oor my te hou” (Ps. 32:8b), my te “stuur” in die rigting wat U my wil hê. Amen.