E-Kerk : Gedagte vir Vandag
Jesus se “verhoor” voor die Sanhedrin
JESUS VOOR PILATUS (1) – VRYE KEUSE!
(Matt. 27:2, 11-21; Mark. 15:1-11; Luk. 23:1-5, 13-19)
Joh. 18:28-32 – “Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: ‘Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?’ Hulle het hom geantwoord: ‘As hy nie ‘n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.’ Pilatus sê toe vir hulle: ‘Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.’ Maar die Jode sê vir hom: ‘Ons mag nie iemand teregstel nie.’ Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.”
Vergelyk ook Joh. 12:32 –“En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.”
Johannes beskryf die verhoor voor Pilatus vollediger as die ander Evangelies en hy werp heelwat lig op die Romeinse regspleging, die houding teenoor die Jode en die karakter van Pilatus. Die aanklag teen Jesus is aanvanklik van politieke aard: Hy sou Hom koning wou maak; dan kry dit ’n godsdienstige karakter: Hy het Hom die Seun van God genoem: Jesus se grootste oortreding was, volgens die Jode, dat Hy die werke van God kom doen het. Hy het telkens die Jode opgeroep om na Sy dade te kyk en te besef dat dit van God af kom. Dat hierdie Jode vir Jesus oor Sy dade aankla en selfs Hom as gevolg daarvan, ‘n “misdadiger” noem, is eintlik ‘n aanklag teen hulleself.
“Hulle”, die Jode en hulle geregsdienaars, en nie die Romeinse leërafdeling nie, het Jesus van Kajafas na die ampswoning van die goewerneur gebring. Die verhoor begin vroeg in die môre. Die Jode weier om die ampswoning van die nie-Jood binne te gaan omdat hulle volgens hulle wette dan “onrein sou word” en nie die paasmaal later daardie aand sou kon eet nie. Die ironie is juis dat hulle op moord bedag is, maar ’n onbenullige voorskrif van die wet nie wil oortree nie. Hulle wil nie onrein word en daardeur die slag van die Paaslam en die Paasmaaltyd misloop nie, maar hulle wil die Lam van God slag voor hulle Paasmaal.
Om ’n beskuldigde te verhoor, moes daar ’n geldige klag ingedien word, daarom vra Pilatus wat die aanklag teen Jesus was. Die Jode het egter nie ’n aanklag gereed gehad wat in ’n Romeinse verhoor geldig sou wees nie. Hulle moes egter in geval van doodstraf die toestemming van die goewerneur verkry voordat iemand tereggestel kon word en vir hierdie toestemming is hulle nou verleë. Hulle antwoord Pilatus nie direk op sy vraag nie, maar gee te kenne dat hy hulle in hierdie geval behoort te vertrou en eintlik sonder ondersoek behoort uitspraak te lewer. Hulle verklaar dat Jesus “’n misdadiger was”, en hulle woordkeuse gee te kenne dat Hy gereeld met misdaad besig is. Dus gaan die beskuldiging nie oor ’n bepaalde daad nie maar oor die karakter. Jesus, die sondelose, wat altyd net goed gedoen het, word uitgewys as ’n gewoontemisdadiger, wat uit die weg geruim moet word.
Indien die Jode Pilatus se instruksie gehoorsaam het deur Jesus te “vat en hom veroordeel volgens hulle wet,” sou hulle Jesus moontlik gestenig het. Die Joodse Raad kon volgens die Joodse reg iemand oor godsdienstige sake laat stenig. Deur na hom te gaan om die dood deur kruisiging te verkry, was die Jode dus besig om die plan van God uit te voer. Dit beteken dat God die verloop van sake bepaal het en dat Jesus aktief besig was om die heilsplan van die Vader tot volvoering te bring. Hoe groot die vernedering en hoe smartlik die lydensweg ook al was, was Hy meester van die situasie en is dit Hy wat vrywillig aan die Vader gehoorsaam bly.
In ons geestesoog sien ons Jesus daar voor Pilatus staan: Die Man van hemelse afkoms teenoor Romeinse adel; die Man van vryheid, die weg, die waarheid en lewe teenoor die slaaf van sonde; die Man wat alles doen volgens die wil van God teenoor die man van die Romeinse wet; die Man wat lewe gee teenoor die man wat mense kon laat doodmaak; die Regter oor die heelal teenoor die regter oor Jesus – waar laat dit ons? Is ek meer bekommerd oor die mense se opinie oor my en daarom maar saamdoen wat die wêreld bied om “in” te wees, of soek ek die guns van die Weg en die Waarheid en die Lewe? Weier ek die vryheid wat Jesus bied of verkies ek om ‘n slaaf van die sonde te bly? Die keuse bly steeds by elke mens, die keuse om Jesus te kies in die krag van die Heilige Gees.
“Ons mag vry wees om te kies, maar ons is nie vry om die gevolge van ons keuses te kies nie” (Selwyn Hughes).
Gebed: Jesus Christus, moenie toelaat dat die god van die wêreld my geestelike visie verwring nie. Dit is só maklik om deur “die god van hierdie wêreld verblind te word sodat ek die lig van die evangelie nie kan sien nie, die evangelie van die heerlikheid van U, wat die beeld van God is” (2 Kor. 4:4). Dankie dat U teenwoordigheid, deur U Gees, my pad verlig sodat ek die sondegevaar kan waarneem. Dankie Jesus, dat U nie ‘n plaasvervanger vir my gegee het nie maar Uself, om die pad na die Vader toe te vind. Amen.