top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


By die ingang van die “Tuin van Getsemane”

JESUS BID VIR SY DISSIPELS (6) – BEDE VIR EENHEID VAN DIE KERK!


Joh. 17:20-23 – “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle, en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.”


Vergelyk ook Ef. 4:3 – “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”


Tot dusver het Jesus bepaaldelik vir Sy dissipels voorbidding gedoen. Hulle is Sy besondere “gestuurdes” om in die wêreld die woord van verlossing te gaan verkondig. Omdat Jesus daarvan verseker is dat die Vader sy gebed verhoor, weet Hy dat daar vrug op hulle arbeid sal wees en doen Hy nou voorbidding vir daardie vrug. Hy stel dit in die vooruitsig dat daar mense sal wees wat hulle prediking sal aanvaar en die gemeente van Christus, Sy kerk op aarde, sal groei as gevolg van hulle “woorde.”


As gestuurdes van Christus word die woord van God “hulle woorde”, en van “hulle woorde” gaan die werking van die woord van God uit, sodat die hoorders tot die saligmakende geloof in Christus kom. Jesus wéét dat daar vrug op die prediking sal rus want die Heilige Gees se betrokkenheid is verseker. Vir hierdie gelowiges, wat saam die kerk van Christus vorm, is Jesus se dringende versugting by sy “Heilige Vader” (v. 11b), dat “hulle volkome een kan wees” – “een kudde wees met een herder” (Joh. 10:16); met Hom verbind wees soos die lote met die wingerdstok (Joh. 15:5) – soos die goddelike eenheid tussen Vader en Seun, en dié tussen Vader sowel as Seun én die gelowiges, die kerk.


Jesus het geweet dat dit menslikerwys ‘n uitdagende, en op plekke selfs ‘n amper onmoontlike taak sal wees om te verhoed dat onenigheid en skeuring, wat deur die sonde die eenheid van die kerk, sal verbreek. Daarom smeek Hy die Vader om tog die eenheid te bewaar, en skenk Hy die heerlikheid as ’n vooruitsig wat almal behoort te verenig, almal wat die oog gevestig hou op Jesus Christus, “die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:2). Dít is die groot verskil tussen godsdiens en Christenskap: “Jesus Christus!” Geen ander godsdiensvorm het die Here Jesus nie!


Die leefwyse van gelowiges onderling, vertoon ’n eenheid wat vreemd is aan die leefwyse van die wêreld waar onenigheid, twis en haat die kenmerke is. Die wêreld merk op dat daar in die lewe van die gelowiges iets plaasgevind het waardeur hulle ’n ander gehalte van lewe deelagtig geword het. En aangesien hierdie vernuwing die vrug is van die geloof in Jesus Christus, word die wêreld gedwing om “te glo” of te erken dat Jesus deur God gestuur is om hierdie herskepping en verandering tot stand te bring. Maar dan is die teendeel ook waar: die verbreking van die eenheid lei tot die verydeling van die getuienis.


Indien ons dus nie in ‘n sigbare eenheid saam loop nie, kry die wêreld nie die prentjie van wat God met ons wil doen nie en is daar geen getuienis wat saak maak vir mense wat buite die geloof staan nie. Hierdie eenheid tussen gelowiges moet gehandhaaf word deur die eksterne aanvalle van die Bose en ongelukkig ook, te midde van die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie, te vermy. ‘n Christen is nie belangrik van wie hy of sy is nie, maar op grond van wat God ons gemaak het. Wat die wêreld dus in die veranderde lewe van ons Christen-gelowiges moet sien, is die teenwoordigheid van die lewende God!


“Jesus prayed for unity of personal relationship, not a unity of administration or organization. Real unity between all Christians would be a ‘supernatural fact which would require a supernatural explanation.’ It is the tragic fact that it is just that united front that the Church has never shown to men” (William Barclay).


Gebed: Heilige hemel Vader, beskerm ons teen die Bose wat altyd sal probeer om ‘n wig tussen ons Christen-gelowiges in te dryf. Help my om persoonlik by te dra tot die eenheid van U liggaam op aarde. In hierdie Adventtyd wil ek juis U hoop, vreugde en vrede in die gemeente waaraan ek behoort, waar ek deel van die “kerk” is, U volmaakte gawe van die liefde en eenheid, uitleef. Laat hierdie eenheid as sodanig ’n getuienis uitgaan in die wêreld, en die getuienis dwing tot eerbied vir God en vir Christus. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page