E-Kerk : Gedagte vir Vandag
JESUS WORD IN BETANIË MET NARDUSOLIE GESALF (2) – ’N HARTELOSE AANMERKING!
(Vergelyk ook Matt. 26:6-13; Mark. 14:3-9)
Joh. 12:4-8 – “Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: ’Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?’ Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer nie, maar omdat hy ‘n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat. Toe sê Jesus: ‘Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir My begrafnis. Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”
Maria het haar lofwaardige daad aan Jesus klaar verrig. Jesus se liefde en omgee, het haar spontaan laat reageer en haar optrede om Jesus se voete te salf, was as gevolg van dit wat sy in Jesus ontdek het. Die nardus se soete geur vervul nou die vertrek terwyl die gebreekte fles eenkant bly lê. Skielik word die heilige oomblikke geskend deur Judas se uitroep van verontwaardiging: “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Johannes reken ons moet ons nie veel aan Judas steur nie want sy hartelose en vroom aanmerking was “nie omdat hy hom oor die armes bekommer nie, maar omdat hy ‘n dief was,” en ons weet ook dat hy later Jesus sou verraai.
Maar werklik, eintlik is Judas reg, Maria se oordadigheid is net te veel en dit grens aan vermorsing! Nee, Maria se daad was uit liefde uit maar Judas se aanmerking was te vroom en buitendien lieg hy. Jammer Judas, maar hierdie keer kies ek ‘n vrou se kant. Voor ons te gou oordeel en kante kies, moet ons onthou dat mense se reaksies verskil, dit is ‘n gegewe vir alle tye. Die reaksie van dankbaarheid en oorvloedige oorgawe van Maria, kontrasteer met die bittere naywer en venyn van Judas (natuurlik met die mooiste pretensies - die geld moet vir die armes gaan.) Waar en by wie, lê jou simpatie?
Maria was impulsief, maar sy kón nie anders nie. Sy is so oorstelp deur haar dankbaarheid teenoor, en liefde vir Jesus, dat sy haarself volledig gee, die kosbaarste besitting wat sy gehad het. Sy ag haarself nie werd om die kop van Jesus te salf nie, maar sy voete wat eintlik die werk van slawe was. Dit was ‘n skande vir ‘n vrou om haar hare in die openbaar los te maak, want dit is geassosieer met straatvroue, maar sy gee nie om nie, sy buig voor Jesus op haar knieë en droog sy voete daarmee af. Sy verneder haarself in die openbaar en die mense kan maar sê wat hulle wil, sy is bereid om haarself as lewende offer vir Jesus te gee! Daar is baie Marias in vandag se kerke: Wel ‘n bietjie impulsief maar bereid om alles op te offer – hulle vrye tyd, hulle swaarverdiende geld, hulle kragte. Geen opoffering is vir hulle te groot nie! Hulle is bereid om hulleself te verneder, die minste te wees, onvoorwaardelik liefde te bewys, die ander wang te draai en die ekstra kilometer te loop – sout en lig vir die aarde (Matt. 5), want hulle reageer uit dankbaarheid vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
Dan is daar Judas wat graag meer resultate wou sien – een fles nardusolie ruik wel lekker vir een dag as dit so uitgemors word, maar hoeveel armes kon daarmee gevoed word? Sy mors geld; die kerk mors geld. In hierdie moeilike ekonomiese tye waarin ons leef vra die kerk te veel van my kosbare tyd en geld. Ek kan nie my swaarverdiende geld aan die kerk afstaan nie. Ek kan nie aanhou om die minste te wees en myself te verneder nie, daar is tog seker grense waar my selfrespek ter sprake kom. Geloof en kerk kan tog nie só baie van ‘n mens eis nie. Ek kan nie ... ! Gelukkig verskil my omstandighede heeltemal van Maria en Judas s’n, ek is ‘n kerkmens en weet mos dat Jesus ter wille van my gely het, gesterf het en begrawe is en op die derde dag opgestaan het uit die dood, en ek bring meer as my kant. Redeneer jy dalk ook so?
Dit gaan egter nie oor Maria of Judas of ek nie, Dit gaan oor Jesus! Op daardie gedenkwaardige dag was die aandete en samesyn met vriende seker vir Jesus iets besonders. Anders as daardie dag, ken ons mos die volle verhaal. Dit raak elke gelowige in Christus persoonlik: Toe ons gedoop is, het daar ‘n paar druppels water op jou en my kop gedrup. Dit was God se manier om ons as Sy eregaste te salf. Maria het haar kosbare fles met nardus gebreek om Hom vir ‘n paar minute te seën, Jesus het Sy liggaam gegee om vir ons gebreek te word sodat ons vir ewig geseënd kan wees. Hy het nie ‘n albastefles gebreek en jou en my met nardusolie gesalf nie – nee, Hy het Sy liggaam gebreek en ons met Sy bloed gesalf! Jesus se liefde is allesomvattend en allesdeurdringend (ver, wyd, hoog en diep). Hy was ons skoon deur Sy bloed sodat ons by God se feesmaal kan aansit as eregaste! Waar daar in ons lewe die reuk van die dood was bring Hy die geur van die lewe!
“Ek het baie dinge in my hande vasgehou, maar ek het hulle almal verloor; maar wat ek ook al in die hande van Jesus geplaas het, besit ek nog” (Martin Luther).
Gebed: Jesus, dankie dat U my so lief het dat U as Prins, die hemel prysgegee het en aarde toe gekom het as Kind van die krip. Dankie dat U mens kom word het soos ek, sodat U my beter kan begryp. Here, U liefde slaan my asem weg. Dit is só oorweldigend, ek kán dit nie verstaan of verdien nie, maar ek gryp dit met albei hande aan. Dankie vir U allesomvattende en allesdeurdringende liefde waarmee U my elke dag omvou. Amen.