E-Kerk : Gedagte vir Vandag
JESUS LAAT LASARUS UIT DIE DOOD OPSTAAN (1) – JESUS HET GEHUIL.
Joh. 11:34-40 – “Hy vra toe: ‘Waar het julle hom begrawe?’ Hulle het vir Hom gesê: ‘Here, kom kyk.’ Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: ‘Kyk hoe lief het hy hom gehad!’ Party van hulle het ook gesê: ‘Kon hy wat die oë van ‘n blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?’ Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ‘n rotsgraf, en daar was ‘n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: ‘Rol die klip weg.’ Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: ‘Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.’ Jesus sê toe vir haar: ‘Het ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die mag van God sien nie?’
Vergelyk ook Heb. 5:7 – “Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.”
Wat presies op Maria gewag het nadat sy Jesus op pad ontmoet het, het sy op daardie stadium nog nie besef nie. Na die gebeure by die graf sou sy en haar familie en almal wat haar gevolg het, nooit weer dieselfde wees nie. Jesus tree nou handelend op en vra waar die graf is waarin Lasarus neergelê is en ... “Jesus het gehuil”. Waarom? Hy het tog geweet dat die dood nie die einde is nie. Die Jode reken dit is as gevolg van Jesus se liefde vir Lasarus, maar dit kan nie die oorsaak wees nie, want hulle het gewoonlik alle situasies waar Jesus betrokke was, verkeerd verstaan. Ander het Hom verwyt dat Hy die “blinde man genees het maar nie iets kon doen dat hierdie man nie sterwe nie.” Dalk het Jesus gehuil uit frustrasie oor hulle sondigheid en totale onbegrip van die Jode wat as toeskouers teenwoordig was en net agter wonderwerke aan was (11:37), of teen die oppervlakkige en aansitterige geween van die professionele weeklaers wat vir Marta en Maria in hulle uur van beproewing omring het.
En Jesus daag op by die graf waar “Jesus se gemoed weer vol geskiet” het. Die graf was ‘n grot wat in ‘n berg uitgekap was. ‘n Groot klip was voor die ingang gerol. Binne het die liggaam van Lasarus waarskynlik op ‘n rak wat uit die rots gekap was, gelê. Al was Jesus magtig om ’n woord te spreek en die klip te laat wegrol, gebruik Hy die hulp van mense om dit te laat wegrol. Hy wil nie soos ’n magiese wonderdoener optree nie, maar op goddelike wyse sy majesteit openbaar.
Op die laaste oomblik het Marta se geloof geknak. Toe sy nog ver van die graf af was, kon sy dalk nog gedink het dat dit moontlik was dat Jesus haar broer uit die dood sou opwek, maar nou dat sy hier by die graf, digby die liggaam staan, is die omstandighede harde feite; dis die werklikheid en vir die mens te oorweldigend en begin twýfel, haar gedagtes oorneem. Die duiwel het moontlik haar wysgemaak dat die dood finaal is: “Jy hoop verniet op ‘n wonderwerk; julle het al genoeg gely en buitendien het jou oorlede broer al begin ontbind; hy sal nie net opgewek moet word nie, sy hele liggaam moet dus weer in ‘n sekere sin herskep word; moenie die graf laat oopmaak nie, eerbiedig die waardigheid van die dode!” En dan hoor sy haarself praat: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”
Jesus reageer op Marta se vertwyfeling deur haar te herinner aan Sy woorde aan haar dat sy moet glo: “Het ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die mag van God sien nie?” Hierdie wonder sou by uitnemendheid dien om die heerlikheid van God te openbaar, maar dit is nie almal daar teenwoordig wat die magsopenbaring en heerlikheid van God sal opmerk nie. Alleen dié wat glo, sal dit waarneem. Moenie te min van Jesus verwag nie. Hy is God self en daarom kan die onmoontlike van Hom verwag word.
Jesus se eerste reaksie by die graf was nie om die egte menslike smart uit die pad met ’n goedkoop “toemaar”, weg te vee nie, Jesus huil oor die dood van ‘n vriend om dieselfde rede waarom ons oor die dood van ‘n dierbare sal huil. Hy huil omdat Hy ‘n emosievolle mens was. Of ... dalk huil Jesus oor elke siel wat verlore gaan; elke mens vir wie daar so hard gebid is vir bekering en dit nie gebeur het nie, daardie "siekte" wat tot die ewige dood lei; oor mense wie se harte hard bly en nie Sy uitgestrekte hand wil aanvaar nie. Dalk huil Jesus as Hy dink aan die ongelooflike pyn en vernedering wat Hy nog moet deurmaak, en mense nie kan aanvaar dat Hy die ewige dood oorwin het nie, Sy beloftes kan aanvaar dat Sy vryspraak genoeg is nie, deur net te glo. Dalk huil Hy oor mense wat Hom verwerp het, “skape” wat nie deel van Sy kraal wil word nie en sodoende verlore gaan, of miskien is dit omdat ons dit geweet het en niks daaraan gedoen het nie; huil oor iemand wat honger gaan slaap, of 'n bejaarde wat eensaam wag vir kinders wat nie opdaag nie.
Wanneer daar gehuil word, is Jesus by ons, tussen ons, binne ons. Ons smart word Sy smart, ons hartseer Sy hartseer. Sy hartseer is gevul met heilige ongeduld, ongeduld dat daar so baie onnodige hartseer is, dit wat deur mense oor ander mense gebring word omdat mense nie ander se lewens wil respekteer nie; waar nog 'n bom ontplof en mense mekaar doodmaak oor hul sogenaamde geloof; elke onbenullige plaasmoord; nog 'n motor gekaap word en meer as net die motor geneem word; die geweldstatistiek en korrupsie op ons TV skerms verskyn ... ! God huil want Hy het dit ánders bedoel met die mens, die mens wat Hy geskep het as Sy beeld om Sy verteenwoordiger op aarde te wees.
“God het nie die mens geskep om ‘n klip te wees nie; Hy het vir hom sintuie gegee en ‘n hart van vlees sodat hy sy vriende kan liefhê, kwaad kan word vir sy vyande en meegevoel kan hê met hulle in teëspoed” (Martin Luther).
Gebed: Dankie Here dat U altyd presies weet waaroor ek hartseer is. Dankie dat my trane U trane ontlok en U my in U arms toevou wanneer ek huil. Dankie dat ek as Christen in U kameraadskap en krag kan stry teen die storms op my lewensweg want U het ál die emosies self ervaar. Here, maak my sensitief vir ander se hartseer, húlle pyn, húlle onsekerheid, húlle vrese, hulle verslaenheid en wanhoop waarmee hulle gaan slaap, die swaar harte waarmee hulle soggens opstaan. Help my dat ek hulle sal vertroos soos wat U met my doen. Here, ek wil saam met Marta en Maria uitroep: “As U hier was, sou ... ” Help my om met ‘n stukkende hart dan te verstaan dat U wel hier is, en saam met my huil. Amen.