E-Kerk : Gedagte vir Vandag
JESUS WAS VOOR ABRAHAM AL DAAR (4) – KEN GOD DEUR JESUS EN LEEF! (2)
Joh. 8:56-59 – “Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly. Die Jode sê toe vir Hom: ‘Jy is nog nie eers vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.’ Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.”
Vergelyk ook Kol. 1:15-17 –“Die Seun is die beeld van God, .... Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is ... Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.”
Jesus keer terug tot die gesprek oor Abraham en bou voort op die gedagte dat Hy groter is as Abraham. Nou noem Hy Abraham “julle voorvader” en erken daarmee dat die Jode van Abraham afstam, maar hulle optrede bevestig dat hulle nie die geestelike kinders van die aartsvader is nie. Hy het hom immers verbly oor die “dag” wat sou kom, maar die Jode verbly hulle allermins oor Jesus se teenwoordigheid. Wat bedoel Jesus dat Abraham die “dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” Wanneer het Abraham hom verbly? Wanneer het hy die dag gesien?
Jesus vertolk “die dag van My koms” as die koms van die Messias na die aarde, en alles wat Hy hier kom doen het tot redding van die mens, van Sy geboorte tot Sy hemelvaart. Hy was egter voor die skepping reeds daar en “alles het deur Hom tot stand gekom” (1:1-3a). Daarom kon Abraham Hom daarin “sien en bly wees”. Van Abraham word ook nie gesê dat hy uitgesien het na die koms van die Messias nie, maar wel dat hy die blye vooruitsig op ’n nakomelingskap gehad het op grond van die belofte van God. In die seun wat beloof was, sou al die volke van die aarde geseën word (Gen. 12:3), en in daardie vooruitsig het Abraham hom verheug en daarna uitgesien. Hy het wel nie die dag van die koms van die Messias na die aarde beleef nie, maar hy was ten spyte van oomblikke van kleingeloof, ‘n geloofsreus.
Die Jode hou vas aan die letterlike betekenis van Jesus se uitspraak en dit lei tot ’n nuwe misverstand. Hulle sien net die mens Jesus wat nog nie eers vyftig jaar oud is nie en daarom is dit ondenkbaar dat Hy Abraham wat eeue gelede geleef het, sou kon gesien het. (Vyftig was die ouderdom van die Levitiese priesters se aftree ouderdom.) Teenoor hierdie tydgebonde voorstelling van die Jode stel Jesus die feit van Sy ewige bestaan. Jesus se gesprek bereik hier ’n hoogtepunt in die plegtige verklaring van Sy gelykheid aan God. Abraham is aan die tyd gebonde; hy is gebore en het gesterwe. Dit is gebeurtenisse van die verlede. Daarteenoor is Jesus van die ewige hede: “Ek is wat Ek is.” Hy sê nie voor “Abraham was, was Ek” nie; Hy sê “voor Abraham was, is Ek”. Jesus is die onveranderlike. Hy is tydloos! Hy ís voor alle dinge en deur Hom hou alle dinge stand (Kol. 1:17).
Hierdie klomp Jode het nou genoeg van Jesus gehad en begin klippe optel om Hom te stenig. “Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.” Daarmee sluit Hy die gesprekke met die Jode af. Hy sou nie weer met hulle ’n argument hê nie. Voortaan hou Hy Hom met sy volgelinge besig.
Dit is ironies dat die Jode juis Abraham gebruik om Jesus mee te vergelyk. Jesus het hulle gelyk gegee dat hulle kinders van Abraham is , maar dit het hulle nie outomaties in kinders van God verander nie. Abraham was ná Moses, die Ou Testamentiese figuur wat die Jode se denke die meeste oorheers het en daarom kom sy naam 73 keer voor in die Nuwe Testament, teenoor Moses se 79 keer. Die verskil tussen Abraham en die Jode is dat hy vasgehou het aan die hoop op God se beloftes en geglo het al “het hy gesterf sonder om te verkry wat beloof is, het hy dit in die verte gesien en daaroor gejuig” (Heb 11:13). Hy moes sy wortels uit sy geboorteland trek en wegtrek sonder om te weet waar hy sou uitkom; Hy het as ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land gebly; Die beloofde nasaat, Isak, is wel gebore maar hy was slegs een sandkorreltjie op die ontsaglike seestrande en die inbesitname van die beloofde land was daar geen sprake nie. Tog het hy bly glo terwyl die Jode daarenteen, Jesus wil stenig in ongeloof!
As Christene mag ons die mooi dinge en die vreugdes van hierdie skepping geniet maar ons moet nie vergeet dat ons pelgrims hier op aarde is wie se eintlike vaderland in die toekoms lê nie. Iemand het eendag gesê dat “hierdie wêreld is soos ‘n voorportaal vir die komende wêreld. Berei jou in hierdie voorportaal voor sodat jy toegelaat mag word in die feessaal.” Dit bevat ‘n waarheidselement maar tog is hierdie lewe méér as net ‘n voorbereiding vir die feessaal. Ons roeping is om ook hierdie aarde ‘n mooier en beter plek te maak. Ons moet ‘n verskil maak want ons wil ‘n godsdienstige identiteitskrisis soos die Jode van destyds vermy. Ons glo in Jesus Christus en dit moet ons inspireer om aan die hier en nou koninkrykskarakter te gee.
“In one sense it is possible to be so heavenly minded that we are no earthly good. But in a much deeper sense, it is impossible to be of any real earthly good unless we are heavenly minded. Only the heavenly minded will have the patience to continue faithful in God’s work when it becomes hard, unappreciated and seemingly unending’ (MacArthur).
Gebed: Hemelse Vader, U beloftes staan rotsvas daarom wil ons saam met die Hebreërskrywer jubel: “Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God Sy woord gestand sal doen, en vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.” (Heb 6:18-19). Al word my lewensee so stormagtig deur golwe van moedeloosheid en versoekings, kan niks hierdie vaste anker losruk nie. Dankie Jesus dat U hierdie anker self ágter die voorhangsel wat toegang tot die Allerheiligste versper het, gaan inslaan het. My hoop is dus onwrikbaar vas op dié plek met die beste anker ter wêreld. Amen.