E-Kerk - Gedagte vir Vandag
GOD IS NIE HULLE VADER NIE (2) – DIE WAARHEID MAAK VRY
Joh. 8:33-36 – “Hulle het Hom geantwoord: ‘Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?’ Jesus sê toe vir hulle: ‘Dit verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. ’n Slaaf bly nie vir altyd by ‘n huisgesin nie; ‘n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.
Die Jode wat nog nie tot insig gekom het van die volle betekenis van die geloof in Jesus nie, verstaan Jesus wéér verkeerd. Hulle dink Hy verwys na aardse slawerny en vryheid. Hulle begryp nog nie die “bevryding” nie, en omdat hulle in die waan lewe dat hulle nog altyd vry was, maak hulle beswaar teen Jesus se uitspraak. Met nadruk verklaar hulle dat hulle nog nooit iemand se slawe was nie, hulle is immers die nageslag van Abraham. Daarmee veronagsaam hulle die geskiedenis van die herhaalde kere dat Israel onder ’n vreemde juk moes buig: Egipte, die ballingskap en nou die Romeinse oorheersing.
Hulle dink dus nie nét aan die afstamming van Abraham nie maar ook aan die verbond wat God met hulle stamvader gemaak het. Hulle het ook geglo dat daardie verbond het Israel bevoorreg bo ander volke en hulle gemaak tot die besondere uitverkore volk van God. Hierdie Jode met wie Jesus heeltyd in konflik was, beleef ‘n reuse identiteitskrisis! Hulle het onder die indruk verkeer dat hulle outomaties dan kinders van God is en daarom vry is. Hoe kan hierdie man as een van die volk, die man van Nasaret, sê hulle is slawe en “hulle sal vry word?” Hy behoort mos hulle opvatting te begryp!
Jesus maak dan ’n sentrale waarheid bekend: Elke mens is gebonde in die slawediens van die sonde, die gevangene van ’n mag wat sterker is as enige mag waaroor ’n mens beskik. Dus ook die Jode wat beweer dat hulle nog nooit iemand se slawe was nie, verkeer in hierdie slawerny van die sonde. Om te verduidelik hoe die vryheid waarvan Hy praat, werk, gebruik Jesus die kontras tussen die posisie van ‘n slaaf en die van ‘n seun in ‘n huishouding. Die slaaf kan lank by ’n huisgesin bly en baie voorregte en vryhede geniet, maar hy is nooit een van die gesin nie. Sy posisie bly onseker omdat sy eienaar hom te eniger tyd kan verkoop of wegstuur en na sewe jaar kan hy onder bepaalde voorwaardes, vrygelaat word. Hy weet dus dat hy nie altyd aan daardie huisgesin verbonde bly nie. Met ’n seun is dit anders. Hy is lid van die huisgesin en bly dit ook al verlaat hy die huis om elders te gaan woon. Hy bly altyd ’n seun van die huis.
Hierdie beeld dui op die verhouding van die Jode tot die huishouding van die Vader. Hulle beroem hulle op die afstamming van Abraham en meen dat hulle kinders van die huishouding van God is, maar in werklikheid dien hulle die sonde en is dus slawe en nie egte lede van die huishouding nie. Daar is egter ook die “seun” Jesus, die Seun van God. Hy is lid van die huishouding van God, al het Hy tydelik die huis van die Vader verlaat om onder die mense te kom woon. Hierdie Seun het gekom met ’n Goddelike sending, naamlik om mense uit die slawerny van die sonde te bevry. Die Jode wat meen dat hulle vry is, sal eers werklik vry wees wanneer die Seun hulle vry maak. En daartoe het die Seun die bevoegdheid juis omdat Hy altyd die Seun in die huis van die Vader is en die gesag het om die slawe van die huishouding vry te laat.
Sonde is ’n sterk mag wat mense wat dit doen, só in sy kloue kan kry, dat hulle nie daaruit kán loskom nie. En as sonde jou baas is, is die ewige dood jou voorland. Solank mense sonde doen, is hulle slawe van die sonde – die ergste vorm van slawerny, want dit vat jou vryheid vir ewig weg! Maar dis juis van hierdie slawerny wat die Here Jesus mense kom bevry het. Hy het gekom om mense van die grendels van sonde te verlos. Hy’t die skuld wat ons met ons sondes gemaak het, ten volle vir ons kom betaal, toe Hy aan die kruis die hel en dood wat op ons gewag het, vir ons gedra het. Dit beteken dat ons vrygemaak is van ál die aspekte van sonde: skuld, straf, bevlekking, mag, ellende, en gewetenswroeging. “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.” Jesus het ál die grendels gebreek en verseker dat hulle wat aan Hom behoort, volkóme verlossing élke dag ondervind.
“Deur Jesus se versoening het God nie net ons sonde in die diepte van die see weggewerp nie; Hy het selfs ‘n kennisgewing daarby laat opsit: ‘VISVANG VERBODE’ (Dwight L. Moody).
Gebed: Dankie ons hemelse Vader, dat U nie net met ope arms vir my as verlore sondaarmens gestaan en wag het totdat ek by U uitkom nie, U het uitgegaan om na my te soek, te soek na al die verlorenes, soos die verlore skaap en die verlore seun. Dankie dat U die oneindige lang pad aangedurf het vanaf God-wees na mens-wees om elke sondaar te gaan soek om te bevry van die sondelas. Nou kan ek met vrymoedigheid sing: “Jesus ek eer U, opgestane Heer, omdat U oorwin het, sal ek triomfeer! Hoe was ek gebonde, hoe was ek verkneg. U bevry tot lewe, baan vir my die weg. Nou het ek ‘n toekoms, ‘n lewe by U Heer” (Lied 417). Amen.