E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE EVANGELIE VAN JOHANNES – JESUS IS DIE CHRISTUS (2)
Joh. 7:27-29 – “Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.’ Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: ‘Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit My eie uit gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”
Vergelyk ook Matt. 16:13-16 – “Jesus het vir Sy dissipels gevra: ‘Wie sê die mense, is die Seun van die mens?’ Hulle antwoord: ‘Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.’ ‘Maar julle, wie sê julle, is Ek?’ Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Op ‘n keer bevind Jesus en Sy dissipels hulle in die omgewing van Sesarea-Filippi, ‘n heidense gebied waar die griekse natuurgod, Pan, vereer is en waar die Romeinse keiser homself die titel van god toegeken het. Hy is selfs deur die mense in daardie gebied ook as god aanbid. Binne hierdie afgodiese milieu vra Jesus Sy dissipels: “Wie sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”
Die Jode van daardie tyd het nie regtig geweet nie. Hulle het ’n Messias verwag wat hulle van die gehate Romeine, wat polities en militêr oor hulle geheers het, sou bevry. Tydens Jesus se doop deur Johannes die Doper, het die Heilige Gees in die gestalte van ’n duif afgekom en op die Here Jesus gebly – en daarna het Jesus, Sy werk hier op aarde begin doen – gesalf met die Heilige Gees. Dit was Gód se werk en as Messias het Hy Gód se werk hier op aarde kom doen – die werk waarvoor die Vader Hom gestuur het en waarvoor die Heilige Gees Hom toegerus en krag gegee het. Hy’t nie ménse se werk kom doen nie.
Hulle wou Hom nie erken as die Christus nie omdat Hy as Messias, as Christus, nie kom doen wat mense graag wou hê dat die Messias moes kom doen nie. Hulle het in hulle Bybel gelees dat die Messias wat sou kom, die sterke God sou wees wat tot in ewigheid sou regeer: “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd” (Jes. 9:6). En toe gee hulle hierdie beloftes van God oor Hom so ’n politieke kleur, en wag daarom vir ’n Messias wat op aardse vlak en in aardse terme die keiser van Rome, wat homself as god verklaar het, sou kom uitsorteer, “van nou af en vir altyd!” “Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom,” dit kan beslis nie die Christus wees nie.
Ongelukkig het hulle nie verder gelees nie, want God het ook in die Ou Testament gesê dat hierdie Gesalfde wat sou kom, “Sy rug sou hou vir dié wat Hom slaan, Sy wang vir dié wat Sy baard uittrek, en dat Hy Sy gesig nie sou wegdraai as hulle Hom bespot en bespoeg nie” (Jes. 50:6). God het selfs gesê dat “Hy oor óns oortredings deurboor en oor óns sondes verbrysel sou word” (Jes. 53:5), en dat “Hy ’n graf sou kry by goddeloses” (Jes. 53:9). Hy sou nie kom om militêre veldtogte teen die Romeine voer nie, maar dat Hy gesalf is om die blye boodskap te bring aan mense in nood, om dié wat moedeloos is, op te beur, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, om mense se hartseer in blydskap te verander.
“Maar julle, wie sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Stem almal saam met Petrus? Stem ons saam met Jesus wanneer Hy sê: “Ja, julle ken My”? Ken almal Hom regtig of weet ons net van Hom soos byvoorbeeld Wayde van Niekerk, die Suid-Afrikaanse atleet? – die wêreld weet van hom maar almal ken hom nie. Is daar nie vandag dalk nog mense wat hulle eie verwagtings skep van wat Christus veronderstel is om te doen nie? Veronderstel om so ’n soort Gelukbringer te wees, die Een vir Wie ek gou ’n boodskappie kan stuur en dan help Hy my uit elke klein ongemakkie en elke moeilike situasietjie waarin ek dalk kan beland; en as ek iets wens of iets wil hê, dan spring Hy om dit gou vir my te doen en te gee?
Of erken ons Hom as die Een wie “die ware God gestuur het?” God se Gesalfde het Gód se agenda kom uitvoer, nie ons s’n nie. Hy’t gekom om ons die volle waarheid oor God en oor onsself te kom vertel, nie net die stukkies daarvan wat ons graag wil hoor nie. En Hy’t gekom om grusaam te kom ly vir die sondes wat óns gedoen het, om ons met God te versoen – ons elkeen wat deur die Heilige Gees daartoe gebring is om te aanvaar dat dit wat Hy gedoen het, vir mý ook gedoen het. En Hy’t gekom, nie om oorlog te maak teen die vyande wat óns haat en uit die pad uit wil sien nie, maar om oorlog te kom voer teen dit wat Gód haat: die sonde in ons…! Jesus, die Gekruisigde, is Christus, nie die Christus wat óns Hom wil maak nie, maar die Een wat Sy Váder Hom gemaak het – ons Verlosser!
“Iemand wat sê: ‘Ek ken Hom, maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie” (1 Joh. 2:4).
Gebed: Dankie Jesus Christus, dat U my Voorspraak is by die Vader (1 Joh. 2:1). Vanweë my sonde staan ek skuldig voor U en is daar eintlik geen ander vooruitsig as om skuldig bevind te word en gevolglik tot ewige verdoemenis veroordeel te word nie. Om dit nog erger te maak, is daar geen manier wat ek my sondeskuld kan wegwerk of minder maak nie. Maar dankie Vader, dat U ‘n plan gemaak het om al my sondes op U Seun, Jesus Christus, af te laai. Dankie Gees van God dat U hierdie waarheid in my bekend gemaak het sodat ek opreg kan glo wat Christus vir my gedoen het en ek daarom vrygespreek is. Dankie Jesus dat ek U nie net ken nie, maar deur God se genade, probeer om ‘n verhouding met U te handhaaf. Amen.