top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 7 – KOM ONS VIER WAARDIGHEID (4) – ONS DIEN DEUR GEESTELIKE WYSHEID EN GEBED


1 Pet. 2:17 – “Julle moet alle mense respekteer en jul medegelowiges liefhê.”


Vergelyk ook Jak. 3:17-18 – “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.”


Ons sluit vandag af met die reeks oor “RESPEK...hoogtyd” Na sewe weke het ons aan die einde gekom van verskeie Bybelskrywers se vermanings, oproepe, stories en vele ander om onder andere “te erken dat ons geroep is om, net soos ons Here, almal wat na Sy beeld geskape is, met deernis nederig te dien” (Credo aanhaling). Die vraag is nou onwillekeurig: Hoe vry is jy? Vry genoeg om onbevange, onbevooroordeeld te kan liefhê? Of is jy nog vasgevang in vooroordele wat jou vasknel? Het jou kyk na ander mense ruimer geword; sagter; met meer deernis? Het jou menswaardigheid toegeneem om nuwe respek te kry vir andersoortige mense? Kon jy dit regkry om oor grense na ander mense toe te beweeg? Indien die antwoord positief is, kan ons juig oor ons God wat Sy beeld in “alle” mense ingebou het en kan ons die vryheid vier wat ons beleef as ons Hom volg in daardie betoning van respek.


Kom ons vier dit vandag en elke dag hierna, dis hoogtyd! Kom ons vier ons respek vir God wat groot kunswerke aanmekaar geweef het toe Hy besluit het om die mens te skep. God maak nie foute nie, inteendeel, Sy skeppingswerk is met soveel kreatiwiteit gedoen, só mooi en met ‘n wonderlike verskeidenheid! Kom ons vier respek vir onsself as beeldraer van hierdie wonderlike God, ons is kosbaar vir Hom – Hy het ons met Sy eie hande gevorm, Sy vingerafdrukke is in ons liggame en harte “ingebrand”, Sy Gees is as lewensasem in ons ingeblaas. Is dit nie wonderlik nie? Ons kan nou met vrymoedigheid Jesus se voorbeeld volg en menswaardig optree teenoor alle mense, veral vir stukkende, seer mense wat op die rand van die samelewing is, hulle wat dikwels nie eers meer vir hulleself respek het nie. Ons het mos nou beweeg van vooroordeel na vryheid en kan ons dit met vreugde vier!


Wat gebeur as ek nie meer hierdie “vryheid” van liefde en respek kan uitleef en vier nie? Ek meen, soms pak ‘n beklemming my beet en kan ek maar net in magteloosheid toekyk, veral as ek sien hoe siekes of gestremdes of depressiewes of ander getraumatiseerdes, wie se nood ek op geen manier kan wegvat nie, of as daar in my eie lewe probleme kom waaraan ek niks kan doen nie. Hoe nou gemaak? Ons voel waarskynlik so wanneer ons vergeet dat ons kan bid en wanneer ons vergeet dat die Here kragtig kan werk en sal werk wanneer Sy kinders ernstig tot Hom bid. Die Here sê vir ons dat ons op geen manier méér sal bereik as wanneer ons ons knieë in afhanklikheid buig, ons hande vou en ons oë toemaak om te bid en ons wysheid van God afsmeek nie. Is dit nie tog iets wonderliks nie? Wanneer ons op ons swakste lyk – soos wat ’n mens in ’n biddende houding lyk – dán is ons die sterkste wat ons ooit kan wees!!!!


Jakobus dui vir ons gevolglik aan hoe ware “geestelike wysheid” lyk. “Die wysheid wat van Bo kom” is suiwer met geen “bybedoelings” of verskuilde agendas nie. Wat ons sê is dieselfde wat in ons harte is. Dit is “vredeliewend” want ander mense word nie verkeerd “opgevryf” nie. Dit is “inskiklik” want ons tree billik op teenoor almal. Ons is toegeeflik en buigsaam sonder om ons beginsels in te boet. Ons is “bedagsaam” want ons kan goed “luister” (Jak. 1:19) en sien om na mekaar se belange. Dit is “vol medelye” want ons tree op volgens die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het. Ander kan ons “goeie vrugte” sien en aanvoel want die geloof wat in ons hart is kom buitekant tot dade in openbaring. Ons is “onpartydig” want ons takseer nie ander op hul baadjies nie (Jak. 2:1-7) en behandel almal met liefde en respek. Ons tree “opreg” op want ons staan in ‘n lewende verhouding tot die dinge waarvan ons praat, sonder voorgee of verborge motiewe – ons leef dan met ”CHRISTUSHARTE”!!


Die fokus van elkeen van ons se lewe behoort na God gekeer te wees omdat ons van Hom afhanklik is, en ons doen dit in gemeenskap met ander gelowiges. Indien dit dan gebeur dat ons moeilike omstandighede in ons lewe ervaar, is daar net een antwoord: BID! Bid met oorgawe, ernstig, gelowig en volhardend, nie net wanneer ons “swaar kry” nie maar selfs wanneer ons “opgeruimd” is ook (Jak. 5:13).

“Gebed is nie ‘n manier om van God gebruik te maak nie; dit is ‘n manier om onsself aan God te gee sodat Hy óns kan gebruik” (William Barclay).


Gebed: Here, natuurlik is ek gewillig om enigiets vir U te doen, maar.... daar is ‘n paar voorbehoude. Ek meen, ek wil my darem nie in ‘n ding begewe wat buite my normale kapasiteit lê of wat indruis teen my bekende lewenstyl nie. Toe ek gemeen het ek sal vir u goeie werke doen het ek nie verwys na die plakkerskampe, die vigskliniek of die boemelaars nie, Here. ‘n Beskaafde mens kan siektes daar optel. Ek weet ek is veronderstel om myself onvoorwaardelik te gee vir diens aan U en my naaste. Miskien eendag as ek ouer is, Here. Toe ek gesê het ek gee my lewe aan U oor was dit tog net beeldspraak, Here. Dit was net teoreties en nie eintlik ‘n feitelike stelling nie. U verstaan dit mos so Here? Hoe nou, Here? U vra of U kruisdood ter wille van my ook net teoreties was?

(Gebed deur Flora Larsson, effens verkort.)

Recent Posts