top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Nasaret vandag

WEEK 4 – RESPEK VIR RANDFIGURE (1) (Matt. 13:53-58; Mark. 6:1-6)


AGTERGROND VAN GEBEURE


Luk 4:16-19 – “Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig


Vergelyk ook Jes. 61:1-2 – “Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos.”


Lukas beklemtoon die aandeel van die Heilige Gees in die optrede van Jesus. Die Heilige Gees het dit moontlik gemaak dat Hy uit die maagd gebore word (1:35); die Gees was met Hom in sy jeug (2:40 en :52); die Heilige Gees het by die doop op Hom gedaal as besondere ampstoerusting (3:22); dieselfde Gees vul Hom en lei Hom uit om versoek te word en te oorwin (4:1); en die Gees is die krag van Sy lewe as Hy sy werk onder die volk begin.


Jesus kom “in Nasaret aan waar Hy grootgeword het en soos sy gewoonte was, gaan Hy op die sabbatdag na die sinagoge.” Deur daar op te staan, gee Hy te kenne dat Hy iets wil sê. Die dienaar gee die boekrol van “Jesaja” vir Jesus. Hy rol dit oop en lees uit die Messiaanse profesie in Jes. 61:1-2. In daardie Skrifgedeelte, waaraan Jes. 58:6 gevoeg word, kondig Jesaja aan hoedanig die werksaamhede van die Messias sou wees. Sy dienswerk sou gerig wees op almal wat in nood en lyding verkeer, “die armes, die gevangenes, die blindes en die onderdruktes.” In die woorde van Jesaja vind Jesus die program, saamgevat, vir Sy werksaamhede onder die mense tydens Sy aardse verblyf.


Jesus maak dit aan die hoorders in die sinagoge bekend. Nadat Hy uit Jesaja aangehaal het, gee Hy die boekrol terug aan die dienaar en “gaan sit Hy”. Dit is volgens gebruik ‘n aanduiding dat Hy iets oor hierdie profetiese Skrifgedeelte gaan sê. Aangesien Jesus se optrede onder die leiding van die Heilige Gees staan, kan ons aanvaar dat die Gees die dienaar gelei het om die bepaalde teks te vind. En deur die Gees gelei, begin Jesus hulle toespreek en verklaar dat die profesie van Jesaja “wat hulle nou net gehoor het, vervul” is. Dit sinspeel daarop dat Jesus se verkondiging, die profetiese uitspraak oor God se verlossing en genade vervul.


“Almal” teenwoordig het aanvanklik diep onder die indruk van sy woorde gekom en ook van hulle verwondering getuig omdat Hy dinge gesê waarvan hulle gehou het. Maar die verwondering het ook teenstand gewek. Hulle het Hom geken. Hy het immers onder hulle grootgeword en is daarom ongeneë om na Hom te luister. Jesus kén mense en kom agter dat hulle afgunstig is dat Hy nou in Nasaret nie “dieselfde werke doen wat Hy in Kapernaum gedoen het nie”. Hy moes die bewys lewer van die egtheid van sy aanspraak. Jesus reageer daarop deur te wys op ‘n bekende spreuk ”Geneesheer, genees jouself” en verklaar dat wat Hom in Nasaret te beurt val, niks vreemds is vir ’n profeet nie. Hy pas dit toe met voorbeelde uit die lewe van twee bekende profete, Elia en Elisa. Hulle het juis buite hulle vaderland opgetree. Dus, God kan sy volk verbygaan en Sy genade aan vreemdelinge bewys. God is nie net teenwoordig in sinagoges nie, Hy is oral, selfs by die heidene. Hy kan Nasaret verbygaan as hulle volhard in hulle ongeloof.


“Almal in die sinagoge was woedend” oor Jesus se uitsprake. In hulle ore was dit ’n aantasting van die eer van God asook hulle eer as die uitverkore volk van God. Hulle huiwer ook nie om geweld te gebruik nie en jaag Jesus “uit die dorp na die rand van ‘n berg” met die bedoeling om Hom daar af te stoot. Maar die onverwagte gebeur. “Jesus loop tussen hulle deur” en verlaat Nasaret. Hy word beskerm deur dieselfde God wat Hom met die Gees gesalf en as Sy Seun verklaar het. Jesus het nooit weer Nasaret besoek nie.


“Jesus het tussen ons kom loop om ons terug te dra na die Vader toe” (Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Here Jesus, maak my só dat ek buite my normale kapasiteit kan leef. Dat ek tyd het om die mens waar te neem wat hulp nodig het. Help my om ‘n verskil te maak deur respek te betoon aan hulle wat anders is as ek, ook daar waar dit die minste verwag word. Help my om ander met U oë raak te sien. Kortom Here, gee my ‘n fyn aanvoeling sodat ek in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page