E-Kerk - Gedagte vir Vandag
GENESING VAN DIE REGERINGSAMPTENAAR SE SEUN (2) – GOD SE BELOFTEWOORD
Joh. 4:46-54 – “Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar ‘n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus sê toe vir hom: ‘As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.’ En toe sê die amptenaar vir Hom: ‘Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.’ Maar Jesus sê vir hom: ‘Gaan maar huis toe, jou seun lewe.’ Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: ‘Gisteraand sewe-uur het die koors hom verlaat.’ Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: ‘Jou seun lewe,’ En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het.
Vergelyk ook 1 Joh 5:11 – “God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.”
Kapernaum, geleë aan die westelike oewer van die See van Galilea, was ’n belangrike kontrolepunt op die verkeersweg van Sirië na Egipte. Herodes Antipas, die heerser van die gebied van Galilea, (dit was nie Herodus die Grote, die kindermoordenaar nie. Hy was al dood), het ’n militêre eenheid en ’n aantal hoë amptenare daar gestasioneer. Een van hierdie amptenare verwag ‘n genesingswonder en dit laat hom die vyf en twintig kilometer reis na Kana om by Jesus uit te kom. Ironies dat ‘n hoë amptenaar so ver stap (ongeveer sewe ure) om by die Timmerman van Nasaret hulp te gaan soek. Die amptenaar versoek Jesus om met hom saam te kom na sy huis in Kapernaum. Sy pleit word gemotiveer deur die mededeling dat die seun feitlik op sterwe lê.
Jesus se antwoord klink hard, byna liefdeloos, maar Jesus toets hom eers deur te impliseer dat die man net daar is om ‘n wonder te sien. Net soos die ander Galileërs het hy Jesus as wonderdoener geëer, maar nie in Hom geglo vir wat Hy werklik was nie – (Jesus ken mense.) So ’n geloof kan nie as grondslag dien vir Jesus se hulp nie. Daarom sê Jesus dat die mense van Galilea, onder wie ook die amptenaar: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” Die geloof moet dus veel dieper gaan as net ’n oppervlakkige aanhang van ’n man wat wonderwerke kan doen.
Die teregwysing van Jesus het die amptenaar nie laat omdraai nie, maar in sy hart het ’n nuwe insig ontwaak. Hy het begryp dat Jesus meer is as ’n gewone mens. Sy antwoord wys dat Hy Jesus as die enigste oplossing vir sy probleem sien. Hy stort die smart van sy hart voor Jesus uit, daarom spreek hy Hom aan: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” Voor die Here staan die amptenaar sonder aanspraak op verdienste; hy staan daar as die radelose hulpsoekende vader, nie as ‘n hoë amptenaar nie, en hy pleit vir die lewe van “sy kindjie”. Hy vra nie ’n wonderwerk nie, maar hy pleit om die lewe van sy kind by Hom in wie daar lewe is (1:4).
Jesus reis nie saam terug na Kapernaum toe nie maar toets die amptenaar se geloof verder. Jesus gee hom ‘n Goddelike belofte:“Gaan maar huis toe, jou seun lewe. Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan.” Hy het geglo Jesus se krag is nie afhanklik van aanraking nie! ‘n Goddelike belofte is nie ‘n onsekere onvervulde hoop dat iets iewers in die toekoms sal gebeur nie. ‘n Belofte van God is reeds ‘n werklikheid omdat Hy lewe en omdat Hy dit gesê het. Dit is die kleed waarin Christus altyd oor en oor na ons toe kom. Dit is ‘n Beloftekleed – Sy werksmetode (1 Joh 5:11). Die amptenaar ag die belofte betroubaar en waar. Hy neem dit aan. Hy glo die belofte is alreeds 'n realiteit. En, onmiddelik bewys sy dade dat hy glo – hy GAAN na sy seun toe, wetende dat hy leef.
Op pad terug Kapernaum toe kry die amptenaar van sy onderdane, die goeie nuus dat sy kind gesond is. Die genesing het op dieselfde oomblik as wat Jesus die woord gegee het, gebeur. Let op: dit het gebeur op die oomblik toe Jesus die woord gegee het en nie toe die man geglo het nie!! Dit was om te illustreer dat God se belofte-wat-alreeds-waar-is (wat deur die sigbare teken gewaarborg is) vóórop gaan en nie die mens se geloof nie. Jesus se krag lê nie net in Sy aanraking nie, as Hy iets sê, gebeur dit, ons moet net luister, glo en vertrou. Omdat hy geglo het, is die amptenaar se hele gesin gered tot die ewige lewe.
Hierdie amptenaar se verhaal is ‘n bemoediging vir ons want ons mag weet: My ewige sekuriteit lê vasgeanker in God se beloftewoord. Heeltemal rotsvas - buitekant myself - geanker in Hom! My geloof vertrou dáárop, al is dit soms hoe swak. Ek kom juis weer uit my twyfelmoeras uit, deur weer en weer terug te gaan na Hom en Sy Woord – soos dit persoonlik aan my gewaarborg is in my doop. Hierdie belofte van geloofsverlossing word kernagtig in ons geloofsbelydenis saamgevat. Maak dit jou persoonlike belydenis as gebed vir vandag en elke dag hierna:
Geloofsbelydenis as gebed: Dankie God dat U Uself as Vader aan my verbind. 2) Dankie God dat U U Seun Jesus as HERE oor my lewe aangestel het. 3) Dankie Jesus dat U geboorte my skuld bedek. 4) Dankie Jesus dat U lyding onder Pontius Pilatus my verlos het van my ewige geestelike lyding onder Gods toorn. 5) Dankie Jesus dat U sterwe en begrafnis my verlos het van my ewige dood. 6) Dankie Jesus dat U ter helle neergedaal het sodat ek nooit daar sal kom nie. 7) Dankie Jesus dat U opstanding my ‘n nuwe lewe gegee het. 8) Dankie Jesus dat U wederkoms my toekoms is. 9) Dankie Heilige Gees dat U in al U volheid aan my gegee is. 10) Dankie Heilige Gees dat U my deel maak van ‘n kerk. 11) Dankie Heilige Gees dat U my verseker van my sondevergifnis. 12) Dankie Heilige Gees dat U my verseker van my fisiese opstanding en ewige lewe. Amen
“Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy graag wil hê nie. Geloof is om te glo dat God sal doen wat reg is” (Max Lucado).