E-Kerk - Gedagte vir Vandag
JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU (8) – VERLOSSER VAN DIE WÊRELD
Joh 4:39-42 (NLV) – “Op daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: ‘Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.’ Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly. Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo. Hulle het vir die vrou gesê: ‘Ons glo nie net meer op grond van jou gepraat nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”
In teenstelling met die Jode wat Jesus laat besluit het om Judea te verlaat (v 3), het “baie van die Samaritane in Jesus begin glo.” Dat die Samaritane “tot geloof in Jesus gekom het”, wil nie sê dat hulle die saligmakende geloof verkry het nie. Trouens, die getuienis van die vrou kon nog nie gegaan het oor Jesus as Verlosser nie, omdat sy daardie onderrig nog nie ontvang het nie. Die mense het wel geglo dat Jesus ’n profeet was en daarom wou hulle meer van Hom sien en hoor en hulle het daarop aangedring dat Hy by hulle bly. Hulle het gesien wat Hy aan die lewe van die vrou gedoen het en hulle was opreg begerig om meer van Hom te hoor. Nog ‘n ongehoorde ding vind plaas – Jesus het “twee dae lank daar oorgebly.” Waar die Evangelie gebring word, vind ongehoorde dinge plaas!
Daarop volg die insameling van die oes: “Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo.” Noudat die grond van die geloof die getuienis van Jesus self was, was hierdie geloof meer as net die vertroue in Hom as profeet. Dit het die egte saligmakende geloof geword. Hul geloof is nie net gebaseer “op grond van die vrou se gepraat nie,” maar eerstehandse kennis wat hulle self by Jesus hoor. Die hoogtepunt van die verhaal is die getuienis van die Samaritane: “Hulle het self na Jesus geluister en weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”
Jesus is regtig die Messias, want kyk wat 'n indruk maak Hy op die Samaritane. Die vrou as getuie vir Christus het nie self iemand “gered” nie, maar sy het ander na Jesus gelei waar hulle die Redder gevind het. Waar Jerusalem tot op daardie stadium die geografiese sentrum van die aanbidding van God was, word dit verander in en deur die persoon van Jesus Christus. Jesus word nou die nuwe sentrum, Hy bind mense saam tot ‘n gesonde see van gelowiges. Lewe is weer moontlik daar; meer nog – dáár is lewe in oorvloed! Die Gees bring mense saam in die kerk rondom Jesus Christus. Al die verskillende kanale waarin die water vloei, se oorsprong kan uiteindelik teruggevoer word na daardie Bron. En dít verbind dan ook die kanale met mekaar; dit maak hulle tot ‘n see van die suiwerste water, almal gevoed deur dieselfde Bron.
Die oes is op die lande. Ons hoef nie te wag totdat die oes ryp is nie, dit is klaar oestyd! Dit gee ons ‘n totaal ander siening van mekaar. Ons beoordeel mekaar dikwels op die uiterlike en menslike vlak; ons kyk na geografiese afkoms of bloedlyn. Ons plaas mense in groepe op grond van uiterlike of ander gewoontes en volgens my keuse en mý keurlysie, en dit bring dan ook skeiding. Dit bring konflik, dit maak dat mense soortgenote opsoek – dié wat soos ek is en lyk. Maar ons moet leer om met heeltemal ander oë na mekaar te kyk. Nie uit watter volk kom hy nie, maar uit watter Bron drink hy? Nie watter familiebloed stroom deur sy are nie, maar watter water stroom deur sy lewe? Nie hoe lyk sy uiterlike nie, maar is hy ‘n kanaal van die Gees? En dan kom daar ware herkenning, dán begin ons mekaar by die Bron raaksien: Jesus Christus.
Jesus reis nie toevallig deur Samaria nie, Hy “MÓÉS” daar deurgaan (v 4) – volgens God se tydskedule móés Hy! En Hy móés 'n vereensaamde vrou gaan ontmoet, wat uitgestoot was deur haar familie en vriende. Hy móés met haar, ‘n vrou, nogal ‘n Samaritaanse vrou, ten spyte van Joodse reëls, in die openbaar praat en Hy móés uit dieselfde beker as sy drink. Jesus verbreek letterlik elke reël en elke muur van skeiding. Jesus haat diskriminasie, Hy veroordeel dit. Hy verbrysel vyandskap en haat vooroordele. Die grootste van alles: Hy het onvoorwaardelik lief. Menslike liefde sê: “Ek het jou lief want ek hou van wie en wat jy is.” God se liefde sê: “Ek het jou lief op grond van wie en wat ÉK is.” Hoe gaan ons dit toepas gedurende 2017?
"He has no hands but our hands to do His work today. He has no feet but our feet to lead men in His way. He has no voice but our voice to tell men how He died. He has no help but our help to lead them to His side" (William Barclay).
Gebed: Jesus Christus, Bron wat weg van Uself lewe in soeke na sondaarmense, hier is ek, sondaarmens, gebruik my! Vul my uit genade met U Gees sodat ek weg kan leef van myself en soek na ander wat ook die “water van die lewe” benodig. Open my oë sodat ek ook kan sien dat die “velde wit” is en dat dit nie nodig is om te wag totdat dit groen is voor die oes ingesamel moet word nie. Maak my betrokke in U saailand, stuur my om dissipels te gaan maak, ander en myself te leer om alles te onderhou wat U ons beveel het (Matt 28:19-20). Amen.