E-Kerk - Gedagte vir Vandag
JOHANNES DIE DOPER SE GETUIENIS (2)
Joh 1:24-28 – “Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, en hulle het vir hom gevra: ‘Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?’ Johannes het hulle geantwoord: ‘Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.’ Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.”
Vergelyk ook Eseg 36:25 – “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word.”
Die ondervraers het aan die einde gekom van hulle reeks vrae en bevind hulle in die verleentheid. Dit was vir almal duidelik dat die Doper ’n man van betekenis was en dat hy deur sy prediking groot skares trek (Matt 3:5). Maar wie is hy dan? Die Fariseërs tree nou na vore. Hulle wil meer weet oor die doop. Die gebruik was dat die doop slegs deur bevoegde persone bedien word en as die Doper nie die Messias of die Elia of die Profeet is nie, watter bevoegdheid het hy dan om te doop?
Die twee belangrikste godsdienstige partye in die Joodse volkslewe was dié van die Fariseërs en die Sadduseërs. Die Fariseërs was ’n party uit die volk wat hom ten doel gestel het om die godsdienstige lewe in die fynste besonderheid volgens die wet – of hulle vertolking van die wet – te reël. Hulle het steeds gedink dat die Doper dalk die Messias was wat mense sou doop wanneer Hy kom (Eseg 36:25).
Die gebruik was dat wanneer heidene die Joodse godsdiens aanneem, die mans besny moes word en daarna word almal, mans en vroue, deur die doop ingelyf by die Jodedom. Die doop was die simbool van die afwassing van die heidense onreinheid en die insluiting by die volk van God. Johannes het van alle bekeerlinge vereis dat hulle die doop moes ondergaan as teken van die afwassing van die sonde. Daarmee het hy die Jood gelykgestel met die heiden wat van sy onreinheid afstand moes doen. Vir die Fariseërs was hierdie vereiste haas ondenkbaar, en hulle kom daarteen in verset.
Johannes antwoord nie op die vraag na sy bevoegdheid om te doop nie, maar dui op die betekenis van sy doop. Deur te sê dat hy met water doop, verklaar Johannes dat sy doop van mindere betekenis is, maar beslis nie betekenisloos nie. Inteendeel, die waterdoop is noodsaaklik as teken van die afwassing van die sonde. Tog bly dit ’n uiterlike handeling. Alleen deur die Heilige Gees kom die innerlike reiniging en dit is Christus wat die Gees sal bring.
Die Christus is egter reeds aanwesig. “Iemand vir wie julle nie ken nie” is die bedoeling dat Hy reeds as mens onder die mense aanwesig was, maar só dat hulle Hom nie geken het nie. Hierdie “Iemand” is so verhewe dat Johannes nie eens waardig is om die riempie van sy sandale los te maak nie. Daardie werk was so vernederend dat dit as slawewerk beskou is. Johannes verklaar dat hy te onwaardig is om selfs daardie slawewerk vir Jesus te doen. Die “kommissie van ondersoek” moet hulle dus nie met hom, die wegbereider, besig hou nie, maar uitsien na die optrede van die Een wat kom.
“Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.” Ken ons vir Jesus of weet ons net van Hom? Jesus is die enigste ware spieël van die onsigbare God, die Een wat die grens tussen hemel en aarde oorgesteek het om vir ons te kom wys wie God regtig is. Ons behoort daarom ‘n “advertensiebord” van God se goedheid hier op aarde te wees.
“Ek is niks, ek het niks, ek begeer niks behalwe die teenwoordigheid en liefde van Jesus” (Walter Hilton)
Gebed: Here, laai ons tonge met hemelse medisyne sodat ons die wêreld ‘n leefbaarder plek kan getuig. Heilige Jesus, ons loof en prys U as die Een wat in die Naam van God gekom het. Amen