E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (5)
Jak 5:13 en 16a – “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”
Vergelyk ook Kol 3:13 –“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.”
Jakobus koppel vervolgens sondebelydenis aan gebed. Die erkenning van skuld moet nie net teenoor God geskied nie. Waaragtigheid en opregtheid moet te alle tye “teenoor mekaar” gehandhaaf word, ook ten opsigte van verkeerde dade. Wanneer iemand openlik erken dat hy gefouteer het in die een of ander opsig, (almal struikel immers in baie opsigte (3:2), vervang hy beswaarde en vertroebelde verhoudings met die medemens wat daardeur veronreg mag voel, met liefde. Tog vind so baie Christene dit byna onmoontlik om hul skuld ‘n naam te gee en dit openlik te bely. Om dit teenoor mekaar te bely is nog erger. Ons wil tog nie dat ander mense daarvan hoor nie, veral nie medegelowiges in ons gemeente nie. Daar is nie ‘n maniér dat ander van ons sondes moet weet nie.
Hier gaan dit nie daaroor dat ons bymekaar moet kom en al ons sondes voor die Here in die teenwoordigheid van ander gelowiges moet bely nie. Elke gelowige moet self oor sy sondes tot die Here bid en smeek om vergifnis. Maar ons is nie enkelinge alleen saam met die Here nie. Ons is ‘n gemeenskap van gelowiges en ons is ook nog sondig van aard. Daarom gebeur dit dat ons teenoor mekaar sondes doen. En dit is dáárdie sonde wat ek teen iemand anders gedoen het wat ek teenoor hom moet gaan bely. En as gelowiges bid ons dan saam om vergifnis by die Here sodat ons verhouding met mekaar en ons gesamentlike verhouding met die Here gesond kan wees en steeds groei.
Die ander probleem van belydenis teenoor mekaar, is die onthou daarvan. Ons wil van die spesifieke sonde vergeet en verwag ander moet ook dit vergeet. Die algemene gesegde van “vergeet tog nou, wat verby is, is verby, kom ons beweeg aan” laat dit só maklik klink. Dit is egter nie so maklik nie veral vir dié wat gely het onder liefdeloosheid, ontrou en versuim. Daarom is dit nodig om die sonde by die naam te onthou en bereid te wees om met berou oor die wonde, onreg en seer, teenoor mekaar te bely sodat daar saam gebid kan word. Alleenlik God sal dan gevolglik genesing en geestelike volkomenheid in Sy vrede herstel.
Wanneer dit enigsins moontlik is, behoort ons belydenis gemaak te word teenoor dié vir wie jou sonde seergemaak het. Belydenis is nie ‘n swakheid nie, inteendeel, dit is ‘n bewys dat jy weier om toe te laat dat sonde in jou lewe agterbly en jou onderkry. Onderlinge skuld wat nie bely is nie word nie vergewe nie, dit groei soos ‘n kanker en vreet soos ‘n vuur binne jou, dit maak jou siek – mense sterf daaraan. Vir mense in konflik met ander, hul begeertes, die gemeente en hulself, is genesing onmoontlik. Daarom is Jakobus se raad: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Eers dan, is genesing moontlik vir almal want nou bid ons vir mekaar instede daarvan om in konflik mekaar te verskeur.
‘n Klein vuurtjie kan maklik doodgetrap word, maar een wat toegelaat word om te versprei, kan later nie eers deur riviere geblus word nie” (William Shakespeare).
Gebed: Dankie Here, dat U dit moontlik maak dat ons skuld teenoor mekaar kan bely, daaroor saam kan bid en só nader aan mekaar kan beweeg. Ons is jammer dat ons só maklik teenoor U sondig en die Gees só maklik bedroef. Dankie dat U ons vergewe, genees en weer heel maak. Amen.