top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 6 – Dissipelskap is nie so duur soos jy dink nie .... dis duurder! (5)


Markus 10:21 – “En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort - gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My” (1953 vertaling).


Vergelyk ook Miga 6:6 – “Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel?”


Die jongman beleef twyfel oor die verbintenis tussen sy aardse koninkryk en die koninkryk van die Here. Hy voel self aan dat daar iets is wat hy nie gedoen het nie. Hy is baie ernstig oor die saak. Hy is nie besig met ’n vertoon om aandag te trek nie, daarom val hy voor die Here op sy knieë neer. Hy vra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe? Hy word geroep om sy lewe voluit aan die Here te gee.


Jesus se antwoord is baie belangrik, want hy noem vir die jongman ’n klomp gebooie op wat almal negatief is, behalwe die vyfde gebod, maar almal het ’n verbintenis met die geestelike wêreld. Wat hy misgekyk het, was dat hy in die nakoming van hierdie gebooie niks opgeoffer het nie. Dit gaan in bekering en geloofslewe nie net oor dit wat ons nie doen nie, maar ook dít wat ons wel doen.


Roeping kan ook ’n fisiese dimensie hê, wat beteken dat mens moet opoffer. Daarom sê Jesus vir hom: “Een ding kom jy kort....” Die ding wat hy kortgekom het, was sy siening van aardse dinge wat in ’n ander perspektief moes kom. Wat die Here dus vir hom sê, kom daarop neer dat hy nooit in die hemel sal kom as hy nie sy roeping as gelowige kind van God op elke terrein wil nakom nie. Dit was nie nodig om al sy goed te verkoop om Jesus te volg nie, Jesus toets hom om te kyk waar sy hart is.


Gestroop van hoogmoed en gestroop van ’n verkeerde manier van ryk wees kan ons ’n punt bereik waar ons waarlik kan glo, en ’n lewe van bekering kan lewe. Soms plaas ons ’n te hoë premie op fisiese en materiële dinge soos status en geld. Dis noodsaaklike dinge wat daar moet wees, maar dan op so ’n manier dat dit aangewend kan word tot diens aan God en sy koninkryk. Is dit nie dalk van party van ons waar dat ons net soos hierdie outjie is wat baie gewillig is om te glo, totdat dit ons sak of ons besittings raak nie?


“Een ding kom jy kort....” Wat is die een ding waar ons by vashaak, daardie een ding wat ons laat struikel? Daardie ou is so ’n goeie man, dis net die drank; Daardie is nou regtig ’n deugsame vrou, maar ai, haar humeur; Hierdie man kon so baie vir die Here se kerk beteken het, as hy net nie so hoogmoedig aan sy status vasklou nie; Sy’s so ’n gelowige mens dat ’n mens nie kan verstaan waarom sy net nie kans sien om met daardie een te gaan vrede maak nie; Hy’s so ’n goeie mens, net jammer hy is net Sondae so goed; Hy sal’n ideale ou wees om op die kerkraad te dien, net jammer hy dink sy sosiale status is nie op ons gewone mense se vlak nie; Of net jammer hy kan ander vrouens nie uitlos nie; Of net jammer hy kom nie eintlik kerk toe nie….... “Dissipelskap is nie so duur soos jy dink nie .... dis duurder!”


Baie mense vaar oënskynlik heel goed in hulle lewe en in hulle godsdiens, maar daar’s een punt waar hulle vashaak. Dáár, by dáárdie punt (wys die Here vir ons) word jy regtig getoets. Dáár wys wat regtig in jou hart leef. Dáár sal gesien kan word of jy regtig die Here bo alles en almal liefhet en of jy regtig vir ander mense omgee. As hierdie jongman maar gedoen het wat die Here vir hom gesê het – watter vreugde sou hy nie hier op aarde al gehad het nie. Watter rykdom sou hy nie in die ewigheid by die Here geniet het nie. Waar bevind jy jou?


“‘n Hoogmoedige mens kom eintlik nêrens nie, want hy dink altyd hy het reeds gearriveer” (Hal Roach)


Gebed: Here, dankie dat U ons in die storie van die ryk jongman ‘n ander perspektief leer. Ons is so geneig om eers ons eie sake te waardeer en dan met die bietjie wat oorbly, onsself bereid verklaar om U te dien. Die vraag is egter: Is ek 24/7 vir God soos wat God 24/7 is vir my? Toe die jongman getoets is of sy verhouding met die materiële en fisiese dinge van so ’n aard is dat hy God en sy naaste daarmee kon dien, het hy die toets nie geslaag nie. Weerhou ons daarvan dat ons besittings ‘n selfsugtige begeerte word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page