E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Week 5 – Hoogmoed kom tot ‘n val (6)
Luk 18:11-14 – ”Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers en ook nie soos hierdie tollenaar nie......’ V 13 – Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ Ek sê vir julle: ‘Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is.”
Vergelyk ook Rom 14:12 – “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.”
Is dit moontlik om aan tollenaarshoogmoed te ly? Dit is om hoogmoedig te wees op jou nederigheid – om gedurig te praat van jou sonde en tekortkominge om God en ander mense te probeer “beïndruk.” Kan dit naderhand nie dalk so verander, dat ‘n mens se skuldbelydenis in ‘n tipe prestasie verander nie? “Ek is die grootste sondaar in die wêreld” kan ‘n kuns van bespreking word veral wanneer daar oor berou en ootmoed gepraat word.
Dit laat ons onwillekeurig terugdink aan een van baie bekeringsverhale wat ons deur die jare al gehoor het. ‘n Bekeerling wat aan ons bekend was, het skielik deur die land begin reis met ‘n tent, wat namate hy begin “groei” het, groter geword het sodat sy “prediking” selfs in die media bekend gestaan het as “Die Grootste Tent-Kerkdiens in S.A.” Ons het nie getwyfel in sy bekering en sy ontmoeting met God nie want selfs Paulus het dit ervaar. Wat ons egter laat twyfel het, is dat sy “prediking” oor hom gegaan het instede van die evangelie.
Hy het sy slegte jare tot in die fynste detail vertel en sy toestand met kleur en geur geskilder. Hy moes darem sy sondes uitbring om net die punt te maak hoe sleg hy werklik eers was. Hy en die beskrywing van sy getuienis het die sentrale deel van die “prediking” behels. Eers teen die einde het hy darem sy ontmoeting met God laat deurbreek. Die gevaar daarvan is dat sy getuienis ‘n outobiografie oor homself was in plaas van ‘n getuienis oor God. Hy het naderhand geglo en dit ook so “bely,” dat hy darem werklik iets besonders moes gewees het dat God juis hom gekies het om met hom bemoeienis te maak. Is dit nie hoogmoed nie? En hoe meer die trane tydens sy “prediking” hoe meer het die emosie-dankoffers geword en die geldkoffers gegroei.
Aanstellerige nederigheid is net so verkeerd as selftevrede hoogmoed. Deur ‘n aanstellerige nederigheid maak ek God se genade goedkoop. Ons moet onthou dat wanneer ons oordeelsdag aanbreek, is dit net God en ekself. Daar gaan niemand anders wees om myself teen te meet nie. Ons maatstaf gaan nie ‘n tollenaar, of ander mense van die gemeente wees nie, ons maatstaf is dan alleenlik God en my lewe voor God. Kom ons kyk eerder in dankbaarheid na ons eie lewe, en dank God dat Hy ons, sondige tollenaars, ook genadig is. Dat ons dankbaar is vir die genade om erns te kan maak met ons godsdiensbeoefening, soos die Fariseër, maar wel met nederigheid en dankbaarheid.
“Almost every natural man that hears of hell, flatters himself that he shall escape it”
(Jonathan Edwards).
Gebed: Here, ons besef ons kan U genadetroon net in tollenaarskoene binnestap. Ons is drenkelinge in ‘n stormsee van sonde en met ons eie krag kan ons nie aan U, die Lewensgordel vashou nie. Ons is egter dankbaar dat U ons sal keer dat ons nie onder die stormsee-golwe sal verdwyn nie, want uit genade is ons gered! Amen.