E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Moet nooit tou opgooi nie (3)
Luk 18:1-8 – “Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê ......”
Vergelyk ook Luk 11:11 – “Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang gee in plaas van die vis? Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
Ons is besig met die derde “storie” van Jesus in ons reeks “STORIES VIR LEWE.” Ons het gister gehoor dat Jesus se uitnodiging om te vra, te klop en te soek, nie onvoorwaardelik is nie. Hierdie belofte is vir dissipels wat alreeds geleer het om volgens God se wil te vra, vir dissipels wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dit is vir “elkeen” wat dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk!
Elkeen wat kwalifiseer kan vra, klop en soek, en God sal sonder twyfel en sonder uitsondering antwoord op daardie versoek volgens Sy wil, wysheid en liefde. Wat kan nou makliker wees as dit? As God Sy eie Seun aan ons gegee het, sal hy nie alle ander dinge ook gee nie? Want Hy is ons Vader en ons Sy kinders. Die probleem lê by ons. Ons is baie keer van mening dat Jesus nie antwoord soos ons gevra het nie. Die gevolg? Ons verander Christus se gebedsbeloftes in ons gebedsprobleme. Ons redenasie is dat die Here mos weet wat ons nodig het nog voor ons vra. Ons hoef mos nie te bid daarvoor nie. Grootmense wag mos nie totdat hulle kinders vra vir kos voordat hulle gee nie. Die vraag is egter nie of die Here gereed is om te gee nie, maar of ons gereed is om te vra. Met gebed kry ons nie die oorhand oor God nie maar die oorhand oor onsself om onsself aan Hom te onderwerp, afhanklik van Hom te wees!
Hierdie weduwee in Jesus se storie, het by ʼn onregverdige regter uitgekom wat op haar neergesien het. Ons kom in ons gebed by die regverdige Vader uit – die Vader wat sy eer daarin stel om na die nood van sy kinders om te sien. Die gebed vir brood in tye van hongersnood; vir genesing by die bed van siek mense; vir die herstel van ‘n gebroke huwelik; vir vergifnis van familielede wanneer egpare weer wil probeer om hul huweliksbeloftes te laat werk; gebed om vrede; gebed na ‘n verkragting; aanhoudende smeking vir ‘n ander werk nadat iemand afgelê is – dit klink tog alles opreg en onselfsugtig. Dit klink na gebedes wat ‘n liefdevolle Vader, met respek, nie anders kan as om te verhoor nie. Dit is gebede van mense wat “elkeen” dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk!
Dan gebeur dit nogtans nie so nie. Dit neem só lank om te gebeur. Hoe moet ‘n mens dit verwerk? Hoe moet ons dit verstaan? Daar is nie voor die hand liggende verduidelikings op hierdie vrae nie. Die Prediker skrywer sê: “Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles” (Pred 11:5). Jesus maak dit duidelik dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Ons moet nie ophou bid nie!
Jesus tref ook nie ‘n vergelyking met ons hemelse Vader en aardse vaders nie. Jesus sê "as ons wat sleg is dan weet om goeie dinge vir ons kinders te gee, hoeveel te meer sal ons hemelse Vader wat volkome goed is, vir Sy kinders gee" wat Hom vra. Volgens Lukas is die “goeie gawes” die gawe van die Heilige Gees. Hier word gepraat van die instandhouding van die nuwe lewe in Christus, die “stapelvoedsel” vir die nuwe lewe in Christus. Die brood en die vis uit die hand van God wat die nuwe lewe in Christus in ons verwek en voortdurend versterk. Daarvoor moet ons veral bid om die werking van die Heilige Gees wat ons in staat stel om die nuwe lewe in Christus wat ons ontvang het, te leef.
“Gebed is soms net ‘n snik of ‘n sug, maar sal die God wat sy Seun aan die kruis hoor kreun het, dit nie hoor nie?” (Gwynneth Gibson).
Gebed: “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra” (1 Joh 5:14-15). En wanneer ons gebede onvervuld terugkeer na ons, sal dit ons nie wegdryf van U af nie Here, maar in groter afhanklikheid voor U laat bly kniel. Skenk ons geduld om nie moedeloos te word nie maar aan te hou bid. Amen.