E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Gevaarpunt 5 : Goed Doen (1)
Jak 2:14-17 – “Wat help dit, my broers (en susters), as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”
Vergelyk ook Gal 6:10 – “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen veral aan ons medegelowiges.”
Jakobus kom nou by een van die kernstukke van sy brief. Hy skryf hier aan medegelowiges: “my broers (en susters)” en sy voorbeeld van barmhartigheidsdiens is gerig aan hul eie gemeentelede: “Sê nou daar is ‘n broer of suster....” Hy verwys na die mensewêreld in sy konkrete alledaagse ellende. Hoe sal die persoon met geloof, maar sonder werke reageer wanneer hy van aangesig tot aangesig te staan kom voor medegelowiges wat opsigtelik gebrek ly aan die mees basiese behoeftes van die menslike bestaan: wat nie hulle lyf behoorlik kan bedek teen die koue nie en nooit genoeg kry om te eet nie? Watter opsies het so iemand as hy konsekwent wil hou by altwee dele van sy teoretiese standpunt: dat hy glo, maar dat hy nie nodig het om (goed) te dóén nie?
Tot dusver het God deur Jakobus vir aksie gevra – aksie volgens Sy wil: Volhard in swaarkry, sonde beveg, nie mense op hul baadjie takseer nie, versoekings weerstaan, behoorlik luister en nie kwaad word nie. Nou plaas Jakobus ‘n toepassing by die beginsel – Christenskap moet gedemonstreer word deur dade van geloof! Leë woorde wat voorgee dat dit kan bereik wat alleen deur dade van barmhartigheid reggestel sou kon word, word egter ontmasker as ’n “geloof” wat nie deur dade gerugsteun word nie. Dit bly steeds leë woorde wat niks beteken nie.
Dade bewys nie net deernis nie maar ook geloof. Wat sal die uiteinde wees van iemand met ’n “geloof” wat nie deur goeie dade gewaarmerk word nie? Is dit ’n egte geloof wat tot redding bring? Die aanvanklike vraag van Jakobus: “Wat help dit?” – Watter voordeel kan dit inhou? Het dit enige waarde? Kan dit enigiets goeds bewerk vir so iemand? Dit help nie om vir iemand te sê “mag dit met jou goed gaan; gaan trek jou warm aan en eet genoeg,’ en dan te gaan bid: “Gee ons vandag ons dag se brood,” nie. Die probleem kan nie as opgelos beskou word nie! Daar is nog niks aan die behoeftige se probleem gedoen nie! Die mooi geloofswoorde verander niks aan sy behoeftes nie.
Die slotsom is weer Jakobus se vraag: “Wat help dit dan?” Dis tevergeefs! Só ‘n geloof het geen egtheid of betekenis nie. Dit “is sonder meer dood.” ’n Ernstige vraag het trouens ontstaan, óf oor die karakter van dié God in wie hy dan sou glo, óf oor sy geloofsverhouding tot die ware God. Hoe raak dit ons? Geloof wat nie begelei word deur ’n lewensbeweging tot die goeie nie, wat geen dryfveer openbaar om na God se wil te vra en dit by die geleenthede wat hulle voordoen, met die middele beskikbaar tot uitvoer te bring nie, laat net een gevolgtrekking toe: dit het self geen lewe nie!
“Die eenvoudigste goeie daad is beter as die edelste goeie voorneme” (Marthe Barmenthlo).
Gebed: Here, ons weet dat ons veronderstel is om ons onvoorwaardelik te gee in diens aan U en ons naaste, maar moet bely: baie van ons is doodeenvoudig nog nie so ver gevorder nie. Ons geloof vind nie altyd gestalte in barmhartige optredes nie. Skenk ons die lewende geloof om in bereidheid met liefde te sorg en te dien. Amen.