E-Kerk - Gedagte vir Vandag
VERSOEKING EN VERLEIDING
Gevaarpunt 2 : Versoekings (1)
Jak 1:12-15 – “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”
Vergelyk ook Op 2:10 – “Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi sodat julle in beproewing sal kom. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.”
Jakobus beklemtoon verder dat wysheid nodig is wanneer versoekings op ons pad kom. Die opregtheid van ons geloof dra by tot die feit dat ons standvastig sal bly om versoekings die hoof te bied. “As ons geloof die toets deurstaan het, stel dit ons in staat om te volhard” (v 3). Die oorwinningsprys vir hierdie standvastigheid is die kroon van die lewe.
Dit is ook duidelik dat God nie die bewerker van enige kwaad of sonde is nie. God is soewerein en heilig en sal nooit in sonde verval nie. Sedert die begin van tyd is die mens egter geneig om die skuld op iemand anders te pak – Adam op Eva en Eva op die slang, ens. Die Joodse rabbi’s het hierdie gevaarlike rede as gevolgtrekking voorgehou: Omdat God alles geskep het, die mens, die omstandighede, die slang, het Hy dan ook die sondige natuur in ons geskep en daarom kan God geblameer word wanneer ons sondig????
Jakobus ontken hierdie gevolgtrekking ten sterkste! Die mens is verantwoordelik vir sy eie sondeval. Die broeiplek vir die sonde het sy oorsprong by onsself: “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.” Die moeder van alle sondes: “Jy mag nie begeer nie,” het sy oorsprong by ‘n meesterbrein: Onsself!
Jakobus stel die “begeerte” voor as ‘n persoonlike mag wat ons in ‘n greep kry en “saamsleep.” Dan word die begeerte soos ‘n saadjie bevrug en word die “vrug” (sonde) voortgebring. Dit wat ons hart begeer, word deur ons sintuie waargeneem en dan volg die liggaamlike kontak. Die saadjie het ‘n vrug voortgebring en uiteindelik raak die vrug vrot....en terwyl ons smaaklik daaraan eet, sterf ons geleidelik totdat die dood finaal intree.
Die implikasie is duidelik: satan kan ‘n versoeking aanbied dat dit soos ‘n beproewing lyk. As opregte gelowiges in Christus behoort ons die wysheid te hê om te kan onderskei tussen ‘n beproewing wat deur God beskik word of ‘n versoeking wat deur satan beskik word. Die beproewing wat God soms op ons pad bring, is soos die liefdevolle tugtiging van ‘n vader wat sy ongehoorsame kinders weer op die regte koers wil kry. Die versoekings wat satan op ons pad bring is om die slegste wat in ons is, te voorskyn te bring en ons aan die wellus van die sonde laat toegee.
God het een Seun sonder sonde; maar Hy het geen seun wat nie versoek word nie (Charles Spurgeon)
Gebed: Here Jesus, U het ons geleer bid: “Laat ons nie in versoeking kom nie” en daarom wil ons graag byvoeg dat U ons die wysheid sal skenk om te kan onderskei tussen versoekings en beproewings. Wanneer ons verlos word van die bose wil ons U adres agterlaat want satan is geneig om weer ‘n besoek af te lê. By U is hy egter nie welkom nie en dáár sal hy ons met rus laat. Amen.