top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 7 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (81)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (27)

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die bruilof (4)

(Luk. 14:15-24)

Neem Jesus se uitnodiging aan en daag op!


Matt. 22:13-14 – “Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ‘Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”


Vandag se teks is een van daardie tekste in die Bybel wat maklik verkeerd geïnterpreteer word want die voorafgaande konteks word nie saamgelees of in gedagte gehou nie. Gevolglik het dit met verloop van tyd in die volksmond op hulle eie twee bene begin staan. Dit verwar baie gelowiges en sommiges het selfs al tou opgegooi om Christus-volgelinge te wees. Sommige kerkgroepe het al beweer dat God reeds vooraf besluit het wie uitverkies is, wie aan Hom behoort en wie nie. Hierdie drie gelykenisse wat Jesus aan die kerkleiers van Sy aardse tyd voorhou, vertel egter ‘n ander storie (Matt. 21:28-22:14). Die uitverkorenes sal die evangelie aanvaar, en die uitgeworpenes sal dit nie aanvaar nie.


Om op te som: Die eerste gelykenis oor die “ja/nee broers”, is die Jode aanvanklik, eeue gelede in Abraham uitgenooi en het hulle “JA” vir God gesê maar al hoe meer “NEE” begin doen (Joh. 8:39). Johannes die Doper het wéér probeer om hulle koppe te swaai maar helaas, toe die Ware Seun van God, wat baie groter as Abraham én die Doper is, in hulle midde op die toneel verskyn, sê hulle “NEE!” Die tweede gelykenis van “die boere in die wingerd”, beskryf hulle weerstand en haat só erg, dat hulle die Een wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is (Joh. 14:6), doodmaak! Daarna stap ons in ‘n bruilofsfees van die Koning in wie se bruilofsaal voller en voller word, want Hy nooi álmal uit, slegtes en goeies! Hy nooi almal omdat Hy met genade werk – ál keuse wat elkeen het, is om die bruilofskleed aan te trek wat Hy aanbied – weier ons, kies ons teen God en sny ek en jy onsself uit die koninkryk van God uit!


Jesus wys ook in die “gelykenis van die bruilof” daarop dat selfs al strek God se genade nou veel wyer as Israel se grense, beteken dit nie dat mense sommer onvoorbereid (sonder bruilofsklere) by Sy fees kan opdaag nie. Diegene wat die uitnodiging aanvaar, of oral bymekaar gemaak is, moet glo in Sy Seun. Ons kan nie maar net die kerkbanke warm sit en nie toelaat dat die Heilige Gees ons lewens verander nie, dan loop ons God se oordeel tegemoet.


Die vraag is dus: Is ons reg vir God se uitverkiesing? Is ons deel van “die baie wat geroep is, maar min is uitverkies?” Is ons deel van die uitverkorenes wat geroep is, maar nie opgedaag het nie, of wat wel opdaag maar nie die bruilofskleed wil aantrek nie; deel van dié wat “uitgegooi word in die diepste duisternis daarbuite?” Die uitverkiesing van God is nie ‘n bedreigende boodskap wat eindig in die “diepste duisternis daarbuite” nie, inteendeel, dis ‘n helder boodskap van Jesus as die Lig. Glo en jy sal gered word; glo en jy word deel van die uitverkorenes. God kies ons nie omdat ons so oulik is en glo nie (want ons is nie beter as ander nie), maar omdat Hý besluit het om dié te kies wat glo!


Ons kan maklik te veel sê oor die misterie van God se uitverkiesing en selfs vir God probeer voorskryf hoe Hy dit behoort te doen. Die waarheid van die Bybel is egter dat God doodeenvoudig ons kies voor ons Hom kies, en God kies nie omdat ons dit verdien nie, maar uit Sy eie vrye keuse. God het ‘n perfekte plan vir elkeen van Sy kinders: Jesus Christus – “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Ef. 1:4).


Hierdie gedagte van God se soewereine bepaling van die verkiesing klink verwarrend. Laat dit dan nie by onsself ‘n verantwoordelikheid om vir God of teen God te kies nie? Met respek, dit klink amper asof God reeds voor die tyd besluit het wie vir die hemel en wie vir die hel bestem is. Indien dit so was, sou dit beslis onuithoudbaar vir ons gelowiges gewees het om te weet wie uitverkies of verwerp is – vir watter een van die twee bestemmings ek en jy bedoel is? Selfs ‘n toegewyde lewe sou niks werd gewees het nie, want alles rondom ons uiteinde, is reeds bepaal. Selfs al die preke en oproepe tot bekering is verniet want wat help dit as daar reeds vooraf bepaal is waarheen elkeen op pad is?


Wanneer ons egter só redeneer, probeer ons om God in ons skematjies in te perk. Ons hoef nie bang te wees dat God onregverdig is nie, inteendeel, “Hy is getrou en regverdig” (1 Joh. 1:9b). Ons kan God loof omdat Hy ons geseën het met Christus se verlossing en ons met die Heilige Gees verbind: “Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3b). Nêrens in die Bybel vind ons dat net ‘n sekere aantal mense vooraf uitverkies is en al die ander verwerp is nie.


Daar is ook nie onduidelikheid oor wie die uitverkorenes is nie, inteendeel, dis duidelik dat dit die gelowiges is! Ons wat in Christus is, behoort aan Hom want ons het deel aan Sy kruisiging en opstanding. Elkeen wat ‘n keuse gemaak het om in ‘n innige verhouding met Christus te lewe, kan met sekerheid weet dat hy/sy nie net “in Christus” is nie, maar dat Christus deur Sy Gees ook in hom/haar is. Ons behoort deur Christus aan ‘n gemeente, en is nie net soos die lidmate wie se name formeel op ‘n gemeente se register staan nie.


God buig neer na die mens om hom te red. Dit is Hy wat uit liefde vir die wêreld sy Seun gestuur het (Joh. 3:16). God se perfekte plan is dat ons soos Christus sal wees. Alhoewel ons elkeen geskep is met ‘n vrye wil, moet ons bewus wees daarvan dat indien ons op óns eie keuses staatmaak en nie onder die gesag van God wil staan nie, ek en jy die Gees van God teëwerk. As ons die outeur is van ons eie besluite, kan God nie geblameer word vir ons chaos nie.


Elkeen pluk in baie gevalle die vrot vrugte van hulle eie onverantwoordelike vrye keuses. God het ons met Sy Gees beseël, daarom is ons Sy kinders. Ons kan dus nie die Gees teëwerk nie – “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as eiendom van God beseël. Die Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” (Ef. 1:13-14).


“Ons word nie uitverkies omdat ons goed is nie; ons word gekies sodat ons goed kan wees”

(Benjamin Warfield).


Gebed: Hemel Vader, U perfekte plan vir my is om soos Christus te wees, maar ek bly ‘n gevoel van sondebewustheid behou en dit bring mee dat ek U nie altyd effektief kan loof en prys nie. Ek het soms steeds ‘n bedelaarsgevoel in plaas van ‘n gevoel van blydskap want ek word deur omstandighede en swak keuses rondgeslinger, en smaak soms nie die triomf daarvan om ‘n oorwinnende Christen in die Naam van Jesus Christus te wees nie. Maar dankie Here, dat U ten spyte daarvan, steeds die skatkamers van U genade en ewigdurende liefde, vir my ontsluit en my nie alleen los nie. Dankie Gees, dat U my as God se eiendom beseël het sodat ek ook Sy kind kan wees. Wat ‘n geweldige voorreg! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page