top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 6 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (80)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (26)

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die bruilof (3)

(Luk. 14:15-24)


Verwyder die struikelblokke!


Matt. 22:11-14 – “Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ‘n man wat nie bruilofsklere aan het nie, en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ‘Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”


Dit was destyds die gebruik dat bruilofsgaste wat uitgenooi word na die koningshuis, voorsien word van ‘n bruilofskleed om eenvormigheid onder die gaste te verseker en een nie hoër geag word as ‘n ander nie. In ‘n wêreld waar mense baie gesteld was op reinheid en klasseverskille, was dit ook ‘n manier om onnodige ongemak te voorkom. In Jesus se gelykenis was dit des te meer nodig om ‘n bruilofskleed te voorsien, want “die genooides na die feesmaal was gaste wat almal van die strate bymekaargemaak is, slegtes sowel as goeies” (v. 10).

Die bruilofskleed was iets spesifiek en besonders, daarom dat die koning die feesganger wat dit nie aangehad het nie, dadelik gesien het. Die moontlikheid bestaan dat hy verkies het om die bruilofskleed nie aan te trek nie. Sy houding verraai ‘n eie-geregtigheid – hy volg sy eie kop en maak soos hy wil. Die koning daarenteen, se gesindheid is steeds een van aanvaarding wanneer hy vra: “Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?” Hy was sprakeloos en “kon niks antwoord nie.” Die koning is nie ongenaakbaar nie, hy nooi almal sodat “die feessaal vol gaste geword het” (v. 10). Maar, die aanvaarding van die uitnodiging, het ook ‘n gepaardgaande verantwoordelikheid. Gevolglik veroorsaak ‘n dislojale houding dat hierdie feesganger se “hande en voete vasgebind word en hy uitgegooi word in die diepste duisternis daarbuite.”


Hoe pas ons dit toe? Die manier waarop ‘n mens aantrek na ‘n funksie, wys jou gesindheid. As jy byvoorbeeld met jou vuil werksklere daar sou opdaag, sou jy daarmee te kenne gee dat jy nie veel erns aan die geleentheid heg nie. Dis maar vir jou iets gewoon om by hierdie funksie te wees, al is dit by jou beste vriend. Dit is eerstens 'n geweldige belediging vir die gasheer en toon geen respek vir jou vriendskap nie. Omdat ek respek het vir my vriend en vir ons vriendskap, daag ek so netjies as moontlik by die funksie op.


Hierdie voorbeeld is nie van toepassing oor die klere wat ons aantrek wanneer ons kerk toe gaan nie. Die kleredrag is buitendien nie ‘n modeparade nie. Die vraag is met watter gesindheid trek ek en jy aan wanneer ons kerk toe gaan? Is dit om die Here te gaan ontmoet? Is dit ‘n gesindheid om in God se teenwoordigheid op te daag met ‘n positiewe verwagting, nederige verootmoediging, opregte geloof en heilige eerbied? Of is dit ‘n gesindheid om die kerkbank te gaan warm sit sonder dat ons lewe verander?

Die laaste vraag dink ek, dit is dan om die bruilofskleed van genade en verlossing te weier, natuurlik met noodlottige gevolge. Die mens wat nie verlossing wil hê nie, sal ook nie weet waarvan om verlos te word nie. Ons kan nie onsself Christene noem, terwyl ons ongestoord aangaan soos ons altyd aangegaan het of maar leef soos almal om ons leef nie. As ons nalaat om die struikelblokke wat deur sonde veroorsaak word te verwyder, en aanpassings maak om geestelik te groei nie, sit ons net die kerkbank warm en verwyder ek en jy onsself van die ewige Lig. En as ons nie in Jesus se lig wil wees nie, word ons dan “gegooi in die diepste duisternis daarbuite”– weg van Jesus Christus – waar daar “gehuil en op die tande gekners word” van spyt.


Wanneer ons uitgenooi word na die bruilofsmaal van ons Koning waarna Hy uit genade, álmal nooi, het die aanvaarding van die genade ook ‘n verantwoordelikheid. Jesus laat dikwels die opruiming van sonde struikelblokke aan ons oor. Die deur na die bruilofsmaal is altyd oop, maar die deur is nie oop vir die sondaar om in te stap en maar aan te gaan om sy of haar sondige lewe verder te lei nie. As ons eers Jesus as Verlosser leer ken het, moet ons aangetrek word met die kleed van ‘n nuwe lewe van reinheid, heiligheid en gehoorsaamheid. Om ons in hierdie taak by te staan, gee Hy aan ons sy Gees wat in ons woon. Die Gees sal ons help sodat Christus deur ons tot uitdrukking sal kom, en ons Sy opmerklike kleed dra waardeur Sy genade, na ander toe vloei.


“Heilig jouself en die gemeenskap wat jy dien, sal geheilig word” (Franciskus van Assisi).


Gebed: Dankie Gees van God dat U my bystaan om die struikelblokke van sonde wat tussen my en God staan, te verwyder. Jesus, klee my met die regte gesindheid om by U bruilofsmaal op te daag met ‘n positiewe verwagting, nederige verootmoediging, opregte geloof en heilige eerbied! Here, maak my heilig omdat U heilig is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page