top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 5 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (79)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (25)

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die bruilof (2)

(Luk. 14:15-24)


Genooides wat Godgegewe geleenthede benut!


Matt. 22:7-10 – “Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek. Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’ Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.”


Ons het gister in die eerste deel van Jesus se gelykenis gesien dat Jesus die verbondsvolk van God, en veral hulle leiers, die sogenaamde kerk elite, uitnooi om saam met Hom aan te sit in Sy koninkryk. Die volk Israel het egter die uitnodiging van dié Koninkryk verwerp. Hulle was ook nie bereid om Jesus Christus as hulle Messias, en Verlosser, te aanvaar nie. Eiebelang staan voorop en bepaal hulle optrede. Die meeste het doodeenvoudig net aangegaan met hulle normale lewens, asof daar niks plaasgevind het nie, “die een het na sy stuk grond en ‘n ander een na sy werkplek toe gegaan” (v. 5).


Op grond van die geskiedenis weet ons dat Jerusalem in 70 nC heeltemal verwoes is. “Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.” God was regverdiglik verontreg deur die optrede van Sy verbondsvolk Israel, en Hy het deur middel van Titus, ‘n Romeinse generaal en sy soldate, die stad laat verower en derduisende Jode is gedood en Jerusalem verwoes.


Ten spyte hiervan gaan die fees voort. Dis ‘n hemelse fees en God is die Gasheer! Niks kan dit keer nie. “Alles staan klaar vir die bruilofsfees.” Dié wat genooi was, was dit nie waardig nie. Die koning se waardigheid was nie gekrenk deur die weiering van hulle nie, inteendeel, Jesaja het eeue vantevore reeds die koms van God se koninkryk in Jesus Christus uitgebeeld: “Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink … (Jes. 25:6). Die gevolg was dat die uitnodiging na alle ander mense uitgegaan het, “almal wat hulle gekry het, is bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies.”


Die genade van die Here was deur die Jode verag, en nou gaan die uitnodiging na die heidene wat onwaardig is, volgens die Jode, om enige deel aan die seëninge van die Here te mag geniet. Die bruilofsaal se deure het vir almal oopgegaan, selfs vir dié wat nie oorspronklik as genooides geag is nie. God stuur ook die uitnodiging na jou en my om deel te wees van die ewige bruilofsfees. Hy dwing nie, Hy forseer nie, Hy nooi ons uit. Maar ons moet reageer op die uitnodiging, ons moet antwoord, ons moet R.S.V.P!


God het in Sy alwysheid aan elkeen van ons die verantwoordelikheid gegee om sélf te kies hoe ek en jy ons lewensweg gaan loop. Ons mag miskien dink dat ons deur omstandighede gedwing word om op ‘n sekere manier op te tree – en in ‘n sekere sin is dit reg – maar die finale keuse van enigiets, lê steeds by my en jou. Indien ons slegs aan suiwer materiële besittings en gewin dink, eindig dit gewoonlik in ‘n onbevredigende lewe. In die gejaag na rykdom en status ontwyk die ware waardes, en moreel speel mens dan geestelik bankrot.


Omdat ons gelowiges eintlik geestelike wesens is wat na die beeld van God geskep is, kan ons nie anders as om te erken, dat geestelike waardes en gedagtes ons gees finaal bevredig. Besittings is noodsaaklik vir ‘n goeie bestaan maar op sigself nie noodwendig altyd ‘n goeie deug nie. Wanneer Jesus se uitnodiging aanvaar word en Hy sentraal staan van ons keuses, word ons só deel van die “gaste wat die feessaal volmaak.”


As Christene mag ons nie onverskillig wees in ons benadering tot keuses wat God aan ons stel nie. Dit is elke gelowige se voorreg en plig om elke geleentheid te benut wanneer Hy ons nooi na die bruilofsfees. Iemand het gesê ons is soms so geneig om uitstekende geleenthede nie te aanvaar en aan te neem nie, omdat dit gesien word as onoplosbare probleme wat vermom is. Paulus skryf vir ons in Efesiërs 5:16 “ons moet van elke geleentheid die beste gebruik maak want ons lewe in ‘n goddelose tyd.” Wanneer ek en jy dit doen in die krag van die Heilige Gees, dra ons by om ander ook na die “bruilofsfees wat gereed staan en die feessaal volmaak”, te neem, sodat hulle biddend kan opsien na God aan wie die oorwinning behoort, die oorwinning in die kragtige Naam van Jesus Christus.

“Die meeste mense laat wonderlike geestelike geleenthede onbenut verbygaan, omdat dit dikwels ‘n oorpak dra en na werk lyk” (Thomas Edison).


Gebed: Almagtige Vader, help my om elke dag die lewenstryd aan te knoop met ‘n gelowige hart. Gebruik U almag om U begeertes in my te verwesenlik sodat ek geleenthede wat U vir my skep, aan te neem en te benut. As U my roep om deur donker dieptes te gaan, help my om nie ompaadjies te soek nie. Help my om geen geleentheid tot diens van die hand te wys nie. Help my om alles tegemoet te gaan met die krag wat U my skenk. Laat my sondes van gister, nie vandag herhaal word nie. Maak my deel van die “bruilofsfees wat gereed staan.” Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus, ons Here. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page